Ek dink Petrus het Jesus so gekyk, en toe by homself gedink: maar iewers móét daar darem grense aan dié Man se goedheid wees. Vir Hom is letterlik geen mens op aarde te sleg nie. ’n Mens kan tog nie net aanhou en aanhou met almal vriendelik wees nie. Partykeer is genoeg genoeg. Partykeer maak mense jou net té seer. Maar Jesus! Hy verwyt nooit, of hou nie griewe nie. Hy verdra en vergewe grensloos. En dit kan tog nie. Selfs vergifnis moet tog perke hê waar jy kan sê: tot hiertoe en nie verder nie.
Dalk was dit die rede hoekom Petrus die vraag vra: Wanneer hou vergifnis dan op?
Die antwoord is duidelik – dit hou nooit op nie. 70 x 7 ≠ 490; maar beteken onbegrens. Ons moet vergeet van tel. As ons nog wil tel, soos Petrus, het ons nog glad nie verstaan waarom dit in die Christelike vergifnis gaan nie. Daarom vertel Jesus dié gelykenis in 3 bedrywe. In God se wêreld, sê Hy, werk sake só:
Eerste Bedryf
Op ’n dag het die koning besluit om sy boeke na te gaan, en daar ontdek hy dat een van sy amptenare hom miljoene rande skuld. Ek kan my nogal voorstel hoe die skuld op die stomme amptenaar gedruk het, hoe hy hom loop en kwel het omdat hy geweet het: eendag is eendag, dan gaan die koning uitvind, en dan is dit tickets met my.
En nou staan hy bewend voor die koning. Al wat hy kan doen, is om by hom om genade te soebat, want daar is geen manier waarop hy die skuld sal kan terugbetaal nie. Sy belofte dat hy alles sal terugbetaal, is eintlik pateties. Daar was nie ’n maniér waarop hy dit kon regkry nie. Sy skuld was net té groot.
En dan antwoord die koning: “Goed, jy kan maar gaan. Ek sien dat jy besef watter vreeslike groot skuld jy teenoor my het. So kom ons vergeet maar van die skuld. Jy hoef my nie meer te betaal nie.”
Die amptenaar kon sy ore nie glo nie! Watter geweldige verligting moes dit nie gewees het nie! Hy is vry, hy kan weer lag – vir die eerste keer in jare! Hy kan omdraai en uitstap, ’n nuwe lewe in. Vry, vergewe!
Tweede Bedryf
Toe die amptenaar buite kom, gee hy so ’n paar bokspronge van pure lekkerte. Maar toe kom daardie treurige kollega van hom daar aan, en dié mislike vent skuld hom ’n paar rand, en hy kry dit net nie betaal nie. Dis net altyd beloftes, beloftes. Op die plek is die amptenaar se goeie bui vergete. Hy gryp die man aan die keel. “Ek is nou moeg vir jou stories. Betaal wat jy my skuld!” brul hy. Die kollega soebat en pleit, maar verniet. Niks genade vir dié patetiese verskoning van ’n mens nie! Skuld is skuld, en dit moet betaal word! Toe die amptenaar sien hy gaan nie die geld uit sy kollega gewurg kry nie, is hy weg polisie toe om die man te laat opsluit.
Kan jy dit nou glo? Hoe kan dit wees? Het hy dan vergeet wat met hom gebeur het? Snaaks hoe party mense heeltemal gemaklik daarmee is dat een stel reëls vir hulle geld, en ’n ander stel reëls vir ander mense. Snaaks hoe party mense niks daarvan dink om God se vergifnis te ontvang, en dan meen dat dit nie hulle lewe verder hoef te beïnvloed nie. So asof dít wat hulle op hulle knieë voor God sê en doen en ontvang, niks te make het met die res van hulle lewe nie.
Hoe dikwels hoor ’n mens nie iemand sê ons leef in ’n gebroke werklikheid nie. Eendag sal alles anders wees as ons eers in die hemel is. Maar nou is jy nog op aarde, man. Jy moet ’n bietjie wakker word en bykom. Moenie met my praat oor naasteliefde nie, dominee. As jy my klasmaat ken soos ek haar ken, as jy my buurvrou of kollega ken soos ek, as jy die dorp in die goeie ou dae gesien het, sal jy verstaan waarvan ek praat.
Maar hier eindig die gelykenis nie.
Derde Bedryf
Ek kan die woede en hartseer van die koning nogal verstaan. Die koning het hom die skuld kwytgeskeld en was hom genadig. Hy het dit klaar ontvang. Maar op een of ander onverklaarbare wyse het die man dit self uitgewis, gekanselleer. Hy moes, soos sy koning, van harte vergewe het. Hy moes dieselfde beginsels van genade wat die koning teenoor hom toegepas het, ook in sy eie lewe toepas.
Dit is die antwoord op Petrus se vraag. Wie weet dat hy vergewe is, vergewe self ook. Hy tel nie, maak nie somme nie, en hou nóóit op nie.
’n Mens raak eintlik koud as jy aan die implikasie van hierdie gelykenis dink. ’n Mens kan dit wat reeds van jou geld as gelowige, ongedaan maak as jy nie daarvolgens lewe nie. Helmut Thielicke, ’n bekende teoloog, sê dat genade soos ’n aflosstokkie is. ’n Mens deel net in die oorwinning as jy die stokkie aangee. As jy self daaraan vasklou en alleen end-uit hardloop, selfs al kom jy eerste, word jy gediskwalifiseer, want dis teen die reëls. Net so met ons. Net hy wat sy belydenis uitlewe, het die reg om te sê: Ek is vergewe. ’n Mens kan nie die eerste toneel in die troonsaal hê sonder die 2e daarby, waar dit jóú beurt is om te vergewe nie.
Is daar dalk vandag in jou hart gevoelens teenoor iemand anders? Jou klasmaat of koshuismaat? Jou buurman? Jou vrou? Jou gewese vrou of man? Jou ma of pa, of dalk jou broer of skoondogter? Of skoonpa? Jou kollega? Of dalk jou baas, wat eers onder jou was, en oor jou kop bevorder is?
Hoor wat sê die Here God: “Moes jy nie ook jou medemens jammer gekry het soos Ek jou jammer gekry het nie?” En dan voeg die Here Jesus by: “Die koning was woedend, en het hom oorgegee om gemartel te word . . . So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Amen
Views: 103