’n Paar jaar gelede is die land geruk deur ’n organisasie met die moedswillige akroniem-naam OGOD, wat in ’n hofinterdik vra dat ses skole verbied word om Christelike godsdiens in die skool te bedryf. Soos ’n mens kan dink, was feitlik die hele Christelike gemeenskap in rep en roer oor die aangeleentheid.

Dit het my laat dink oor die vraag vra hoe ons in hierdie wêreld moet leef, te midde van verskille en diversiteit. Want, en dis wat ek raak lees in die hele aangeleentheid, daar ís mense (Christene) wat met ’n vreemde arrogansie hulle geloof in ander se kele wil afdruk.

Ek wonder nogal waar in die Bybel mense lees dat ons só moet maak; dat ons soldate vir Jesus moet wees wat ander moet oorwin. En dan mense wat nie soos hulle glo nie, viktimiseer en selfs fisiek aanval. Dis nie ons taak nie. Ek lees nie dat die Here Jesus dit ooit gedoen het nie. Om die waarheid te sê, Hy het Petrus ernstig berispe toe dié ’n swaard uitgepluk het, die nag waarin Jesus verraai en gevange geneem is.

Geweld van watter aard ook al, hetsy dit met wapens of met woorde of met aksies is, behoort nie deel van ’n gelowige se optrede te wees nie. Nou aanvaar ek dat ’n drukgroep soos OGOD moedswillig kan wees, maar ek weet ook dat party Christene, sonder dat hulle dit noodwendig bedoel, met hulle houding en woorde dit vir ander duidelik maak dat hulle tweedeklas burgers is.

Jesus sê ons enigste wapen in ons stryd teen die Bose en teen ongeloof is die liefde: as ons liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is (vgl Joh 13:35) – vandaar ook die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, wat dit uitmuntend onderstreep (Luk 10:25-37). Dis iets van dié woorde wat Paulus in Rom 13:8 ook eggo: “Wees aan niemand iets verskuldig nie behalwe die verpligting om mekaar lief te hê.” Op ander plekke staan dit ook: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” (Efes 4:2). En in 1 Pet 2:17 skryf Petrus: “Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Ons heel eerste, en dikwels enigste, antwoord op die mense wat anders as ons dink en glo, is die liefde. Lééf jou geloof. Wees die boodskap dat God die wêreld en al sy mense oneindig liefhet. Die teksversies en prekies wat party mense so graag uitdeel, is nie die antwoord nie. Liefde is die antwoord. Dít is wat ons ander skuld, sê die Woord. Want, so verduidelik Paulus Rom 13:10, die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Ons Christene het ongelukkig ’n manier om ander mense wat nie soos ons dink en glo nie, te veroordeel, en dan meen ons ons moet hulle regkry deur hulle te konfronteer. Jesus se werkswyse is anders: wen hulle deur liefde, nie deur preke of intimidasie nie. Deur liefde.

Ek dink waar party mense die fout maak, is dat hulle dink as ons liefhet, beteken dit ons moet ruggraatlose sluipers in die wêreld wees. Maar dis nie wat die evangelie van ons vra nie. Paulus sê dit immers in soveel woorde – dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet wees nie (Rom 12:2). Maar wanneer ons standpunt inneem vir wat reg is, wanneer ons ons rug styf maak ter wille van die evangelie, moet dit steeds in liefde wees, sonder om aanstoot te gee, soos Paulus in 1 Kor 10:32 ev skryf: “Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Natuurlik mag ons vir ongelowiges bid. Natuurlik mag ons teenoor hulle getuig, veral met ons dade, eerder as met ons woorde. Maar ons mag op geen manier ons standpunt op ander afdwing nie, want dan verbreek ons die eis van die liefde.

Die geheim om dit reg te kry, sê Paulus in Rom 13:14, is dat ons ons met die Here Jesus Christus moet beklee; Hom as ’t ware moet aantrek sodat Hy ons bedek, sodat ons soos Hy kan lyk en optree en wees.

Miroslav Volf, die bekende Kroatiese teoloog van Yale, sê hy het iets hiervan verstaan toe hy sy geboorteland besoek het. Hy en ’n vriend het op ’n soektog gegaan, amper ’n soort pelgrimstog, na ’n spesifieke soort Kroatiese wors. Hulle pelgrimstog het hulle geneem na die huis van ’n ou man in ’n afgeleë dorpie. Toe hulle sy kombuis binnegaan, het hulle ’n oop Bybel op sy tafel gesien, en dit was duidelik dat die Bybel dikwels deur die man gelees word. Die ou man het hulle iets te drinke aangebied en hulle het aan die gesels geraak. Nie oor wors nie, maar oor die Christelike lewe.

“Kies altyd die moeiliker pad,” het die ou man gesê. Volf het vir hom gevra om te verduidelik wat hy daarmee bedoel. Hy het toe gesê: “Dit is altyd makliker vir ons om gedien of bedien te word, eerder as om te dien, en om te neem eerder as om te gee. Dien is die moeiliker pad, gee is die moeiliker pad. Omdat ons van nature meer selfsugtig is, is die pad van die liefde altyd moeiliker, en dít is die pad wat ons moet kies.”

Miroslav Volf was verwonderd oor wat die ou man gesê het. Hy was verras deur die soort gesprek wat hulle gehad het in plaas van die gebruiklike verwisseling van oppervlakkighede soos sport of die weer. Toe besef Volf dat as die Bybel op jou kombuistafel is, dan sal hierdie soort gesprekke gebeur.

Hierdie ou man in Kroasië het hom duidelik met die Here Jesus Christus beklee, hy het sy Bybel geken, gelees en geleef, en daarom was hy gefokus op ’n lewe van diens, gefokus op die pad van liefde, al is dit die moeiliker pad.

Ek en jy gaan dit moeilik regkry om ons met die Here Jesus te beklee en liefde uit te deel as ons nie ook, soos die man van Kroasië, mense van die Bybel is nie. Dís waar ons Jesus leer ken. So kom ons lees die Bybel, kom ons oordink dit, kom ons leef dit, in plaas daarvan om ander daarmee by te kom en te veroordeel.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.