Van ons Ou Testament redaksie
BABEL. – Koning Nebukadnesar het by ’n perskonferensie gister bekend gemaak dat hy verskeie beurse beskikbaar gaan stel vir studente uit Juda. Dit kom nadat Juda onlangs die nuutste toevoeging tot die magtige Babiloniese ryk geword het toe Nebukadnesar koning Jojakim van Jerusalem onderwerp het.
Die koning het gesê hy het reeds sy hoofpaleisbeampte, Aspenas, opdrag gegee om die voornemende studente te keur. Hy het veral jong manne uit die koninklike geslag en uit die adel in gedagte. Uiteraard sal hulle skrander en gesond moet wees om die veeleisende kursusse aan die Universiteit van Babel te kan slaag.
Om die nuwe studente te help met hulle aanpassing in die nuwe omgewing, het die koning spesiale reëlings vir hulle verblyf getref. Hulle sal ook kos kry uit dieselfde kombuis as waar die koning se kos berei word. “Ek beskou ’n belegging in hierdie jong manne as ’n belegging in die toekoms van my ryk. Daarom is net die beste goed genoeg vir hulle,” het die koning gesê.
Die eerste studente word binne die volgende paar weke hier verwag. Hulle sal almal begin met ’n oorbruggingskursus in die Galdeërs se skrif en taal. Daarna sal hulle kan kies in watter rigting hulle wil studeer.
- Lees hiervan in Dan. 1.
BALAK EN BILEAM REËL BIELIE VAN ’N FEES
SITTIM. – Koning Balak van Moab en die waarsêer Bileam van Petor het hulle kragte en vernuf bymekaargegooi om die fees van die eeu te reël.
Dié fees ter ere van die Moabitiese god Baäl-Peor word vir volgende Vrydag beplan. Om die fees ’n ware internasionale geleentheid te maak, het koning Balak die fees baie wyd laat adverteer. ’n Woordvoerder van die koning het by navraag gesê almal is welkom, en die organiseerders doen hulle uiterste bes om alle moontlike feesgangers te akkommodeer.
’n Meevaller vir die organiseerders is die groot saamtrek van Israeliete wat tans in Sittim is. “Hierdie soort feeste is ’n nuutjie vir die Israeliete, wat die afgelope jare in die woestyn in relatiewe afsondering geleef het. Ons verwag dat hulle ons goed sal ondersteun, en ons dink nogal dat ons iets het om aan hulle te bied,” het Bileam gesê, en met ’n glimlag bygevoeg: “Moab het immers die mooiste meisies in Kanaän!”
- Lees hiervan in Num. 25. Kyk ook na Openb. 2:14.
PERSOONLIK
Jesus van Nasaret, wat hom onlangs deur Johannes in die Jordaan laat doop het, het na die woestyn vertrek vir stilte en meditasie. Dit is nie bekend wanneer hy hom weer by sy familie sal aansluit nie.
- Lees hiervan in Luk. 4:1-13.
DIE UNIVERSITEIT VAN BABEL
is ’n akademiese inrigting wat hom dit ten doel stel om studente die beste moontlike opleiding te bied. Kursusse oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe word aangebied, en sluit in:
- Galdese Skryfkuns
- Galdese Taalkunde
- Sosiale Studies
- Sterrekunde
- Administrasie
- Regswese, ens. ens.
Hierdie universiteit stel vanjaar weer ’n hele aantal beurse beskikbaar aan buitelandse studente.
Die beurse dek die volle klas- en losiesgeld vir die duur van die kursus.
Rig u beursaansoeke voor of op 14 Nisan aan:
Die Registrateur (Finansies)
Universiteit van Babel
Akademiestraat, Babel.
Die aanslae van die Bose
Die duiwel is listig en sy arsenaal is haas onbeperk. Om die Godsvolk te knak het hy eers vir Bileam laat kom om hulle te vervloek, maar toe God dit verhoed (Num. 22 en 23), kom hy (Num. 25) met ’n nuwe plan: mooi Moabitiese meisies om die Israeliete tot afgodediens te verlei. In die tyd van Daniël probeer hy weer om deur die weelde van ’n heidense paleislewe die Jode week te maak. Om Jesus te verlei, haal hy selfs uit die Bybel aan!
Ons is egter nie totaal weerloos teen sy aanslae nie. Daar ís ’n manier om hom teen te staan: deur onwrikbaar op God te vertrou en aan sy Woord vas te hou. Dit was wat Daniël en sy vriende gedoen het. En as hy Jesus probeer verlei, haal die Seun van God telkens uit die Bybel self aan om die duiwel se versoekings af te weer. Paulus gee in Ef. 6: 10-18 Jesus se resep in ’n neutedop: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel …”
Bly vandag op jou pos! In God se krag kan jy!
Views: 0