’n Ma vertel hoe sy haar kind moes laat offer
Ek het in vyf dae stokoud geword. Dit het alles begin toe my man Abraham een aand van die altaar af huis toe kom om te kom eet. Sy gesig was so bleek soos ’n lap, en hy wou niks eet nie. Ek het my natuurlik baie ontstel. Maagprobleme is ’n derduiwel, en my eerste gedagte was om ’n kruiemengsel vir hom aan te maak. As dit maar ’n maagprobleem was!
‘n Onbegryplike opdrag
“God het gesê ek moet vir Isak as brandoffer gaan offer,” het my man gestotter, en ek het koud geword tot in my siel. Isak is my enigste seun. Hy is op my oudag gebore nadat ons baie lank vir hom gewag het. Hy is ’n baie spesiale kind, ’n kind wat die Here self vir ons gegee het nadat Hy oor ’n lang tyd vir ons belowe het ons sal ’n seuntjie hê. En nou eis Hy die einste kind van ons terug!
“Maar dit kan tog nie wees nie. Is jy seker jy het God reg verstaan?” het ek wanhopig wal gegooi.
Maar my man het voet by stuk gehou. “God se presiese woorde was: ‘Vat jou seun, jou enigste seun Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria en offer jou seun op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.’”
Ek was geskok, ontsteld, verontwaardig, woedend. Ja, ek was woedend kwaad vir God, en vir my man. Vir God, omdat Hy dit van ons verwag. Hoe kan Hy eers jare lank vir ons aan ’n lyntjie jou, en dan uiteindelik die kind aan ons gee, net om hom nou, nadat ons hom liefgekry het en oor hom begin drome droom het, nou weer van ons wegvat? Dit maak mos nie sin nie? En ek was net so kwaad vir my man wat maar ewe gelate en gedweë gesê het hy sal dit moet gaan doen, want jy mag nie vir God nee sê nie.
Ons het nie een dié nag geslaap nie. Klein Isak het op ’n stadium wakker geword en gevra hoekom ons so ontsteld is, maar ek kon tog nie vir hom vertel sy pa gaan hom doodmaak nie! Ek het maar net gesê dis grootmensgoed en hy moet gaan slaap, maar my hart het gepyn, want ek het geweet dis die laaste keer wat hy in sy bed sal slaap.
My man was so ontsteld dat hy iewers in die nag opgestaan het en die altaar klip vir klip afgebreek het. Ek het hom gaan soek en daar by die plek gekry waar die altaar eers was. Hy was heeltemal gebroke, want ons het in een nag alles verloor wat sin gegee het aan ons lewe: ons God – hoe kan jy ’n God dien wat jou kind van jou opeis? – en ons hoop, want ons enigste kind moes geoffer word. Dis vreeslik om sonder God en sonder hoop te wees. Ek dink dis hoe dit in die hel moet wees.
Maar toe ek my man daar by die afgebreekte altaar sien, het ek tog ook begin bly word, want ek het gedink miskien gaan hy nie meer vir God dien nie en dan hoef ons nie vir Isak te offer nie. Vir ’n oomblik het ek gedink ek wil liewer my kind hê as wat ek vir God wil gehoorsaam. Vreeslik, nè? Al die jare sê ek ek het God bo alles lief, maar toe Hy vra of ek Hom liewer het as my kind, toe kan ek nie ja sê nie. Toe kies ek my kind.
My man was sterker as ek. Hy sê hy het die hele tyd, terwyl hy die altaar afgebreek het, in sy agterkop geweet hy sal dit tog weer bou. Hy het gesê dit help nie om vir God kwaad te wees nie, want later moet jy maar net weer rooi van skaamte na Hom toe terugkruip, want ons kan tog nie sonder Hom lewe nie. Hy het gesê hoe lief hy ook al vir Isak het, Isak kan nooit God se plek in ons lewe inneem nie, en daarom het ons eintlik nie ’n keuse nie. Hy het gesê al verstaan hy niks wat aangaan nie, glo hy God weet waarom Hy dit vra. Hy het gesê ons móét dit net glo, want as ons dít nie glo nie, sal ons ondergaan van ellende.
Wat kon ek daarop antwoord? Ek was dood in my hart. Ek het klaar van my liefste Isak afskeid geneem. Daar was geen gevoel in my oor nie, net dood.
Ek was dood in my hart. Ek het klaar van my liefste Isak afskeid geneem.
Met dagbreek het hulle vertrek: my man, my kind, en ’n paar slawe. Isak was baie opgewonde oor die reis wat voorlê. As hy maar geweet het dat hy na sy eie dood op pad was! Ek wou nie hê hy moet agterkom wat aangaan nie, want dit sou sy laaste drie dae in een lang hel verander. Toe hou ek my dapper. Ek het hom net styf vasgedruk het gesê hy moet altyd onthou dat ek baie, baie lief is vir hom, wat ook al gebeur.
Totsiens, vir altyd
Die laaste wat ek van hom gesien het, was toe hulle oor die bultjie ’n entjie verder verdwyn het. Isak het nog vir oulaas omgekyk en vir my gewaai, ’n breë glimlag op sy gesig. Ek het dié prentjie in my hart gebêre, want ek wou hom altyd só onthou: vrolik, laggend, lewenslustig.
Toe is ek na my bed. Ek het nie krag gehad om enige iets te doen nie. Ek het net daar gelê en gedink: nou ry hulle, nou stop hulle seker om te eet, nou maak hulle ’n vuurtjie om die nag se koue en die wilde diere te verdryf, nou slaap hulle onder die wye sterrehemel. Drie dae lank het ek in my gedagtes met hulle saamgery. En die derde dag het ek opgestaan en geweet: vandag offer Abraham my kind. Ek wou ’n honderd keer op ’n donkie spring en agterna jaag en vir Isak gaan red, maar ek kon nie. My bene was te lam.
Ek het natuurlik nie geweet presies hoe laat my kind geoffer sou word nie, en dit was die ergste van alles: om nie te weet wanneer jy maar kan ophou vasklou aan die greintjie hoop dat iets – ek weet nie wát nie – sal voorval en jou kind gespaar bly nie.
Die hele dag lank het ek gewonder: Weet hy al dat hy die offer is? Is hy bang? Wat sal hy maak as my man die mes uithaal om hom te slag? Ek het my ou seuntjie so voor my gesien, sy oë wild van vrees, vasgenael op die offermes in Abraham se hand. En dan, as die mes sy hart deurboor, die momentele pyn, en skrik-skree, en uiteindelik die lewe wat uit sy oë loop, totdat dit onsiende in sy pa se gesig opkyk.
Ek het myself gedwing om nie te dink hoe die vlamme sy gespierde lyfie verbrand nie. Liewer nie, het ek myself die hele dag gemaan. Moet liewer nie daaraan dink hoe die vlamme sy hare wegskroei, en dan die fyn ooglede … Nee, moenie daaraan dink nie, het ek myself oor en oor gemaan. Anders gaan ek mal word.
Dis verby
Toe die son daardie aand ondergaan, het ek geweet dis verby. My kind is dood. Geslag en verbrand iewers ver in berge van Moria. Toe het ek ook doodgegaan. Ek het nie opgehou asem haal nie, maar dis ook al. Ek het net op my bed gelê en besluit – ek weet ook nie of ek dit bewustelik besluit het nie – ek wil nie meer lewe nie. Nie sonder my kind nie. Ek het geweier om enige iets te eet of te drink. My slavinne het by my gesoebat en gesmeek, maar ek wou niks hê nie. My kind is dood, en ek wil ook dood wees.
Ek het later – dit moes in die vroeë oggendure gewees het – ingesluimer. Toe ek wakker word, was dit al weer lig, maar binne-in my was dit donker. Ek het net my kop toegetrek en so bly lê. Ek dink ek het iewers deur die dag in ’n beswyming geraak, want toe ek weer bykom, was dit al die middag van die vyfde dag. Die opgewonde gepraat van die mense om die tent moes my uit my beswyming gewek het. Ek het nie omgegee waaroor hulle so opgewonde is nie. My kind is dood, en dis al wat saak maak.
Iemand het by die tent ingekom en na my geroep, maar ek het nie belang gestel nie. Niks maak meer saak nie. Toe skud die persoon aan my skouer. “Mamma, dis ek, Isak! Word wakker!” sê ’n stem hier naby, en ek wil-wil bly word, maar toe besef ek dit kan nie wees nie. Isak is dood. Ek het seker geyl.
Maar toe sê hy weer: “Mamma, dit ís ek, Isak, Ma se kind! Ek is nie dood nie, hier is ek by Mamma in die tent! Mamma, kyk na my!”
Verrassing
Toe hy so aanhou, het ek maar omgedraai om te sien wie my so pla. My oë wou nie lekker in die skemerdonker van die tent kyk nie, maar uiteindelik sien ek hom. Ek het my hand uitgesteek en aan sy wang gevat. Dit was hy, my Isak-kind! Hy was nie dood nie!
Ek het orent gesukkel en hom vasgegryp om nooit weer te los nie. Ek het baie vrae gehad, maar vir eers was dit vir my genoeg dat my kind leef, dat ek aan hom kon vat en die lewe in sy liggaam voel bruis, dat ek na hom kon kyk en hom kon sien glimlag.
Ek veronderstel ek en my man – veral my man – het die toets wat God vir ons gestel het, geslaag. Abraham sê God wou kyk of ons Hom regtig bo alles liefhet, soos ons bely. Hy sê God sal nie weer vir ons voor so ’n strawwe toets stel nie. Maar ek weet nie. Ek het baie groot geskrik. Al my gemaklike aannames oor wie God is en wat Hy vir ons en vir die wêreld doen, is in dié vyf dae van hel uitgewis. Ek het deur die ondervinding geleer dat God heeltemal anders is as wat ons is, en dat Hy nie soos ons oor dinge dink en redeneer nie. Ek het bang geword vir God.
My man sê dis reg dat ons vir God bang is. Nie bang soos vir ’n leeu of ’n beer nie, maar met ’n heilige ontsag vervul, want God is baie meer en groter as wat ons ooit kan vermoed. Hy is nie ons speelmaat nie en daar mag nooit ’n familiariteit in ons verhouding met Hom wees nie.
Watter kant toe jy ook al kyk, jy bly met God besig.
Ek sal seker nog later oor die skok van dié vyf dae kom. Maar op die oomblik is elke nuwe dag wat ek klein Isak sien, ’n wonderwerk, ’n gawe van Bo. Snaaks, nè? Aan die een kant neem jy God kwalik dat Hy jou kind van jou af wou wegneem, en aan die ander kant is jy bly en dankbaar dat Hy jou kind vir jou teruggegee het. Watter kant toe jy ook al kyk, jy bly met God besig. Ek dink dís wat op die ou end gemaak het dat ons tog aan God gehoorsaam was, hoe swaar die offer ook al vir ons was. Want jy kan van baie dinge af wegvlug, maar nie van die lewende God nie.
My man sê God het deur dit alles vir ons gewys dat Hy vir ons omgee. Daarom het Hy ons kind vir ons teruggegee. Hy sê dit gee hom moed, want as God vir ons omgee, sal Hy elke dag vir ons oppas. Miskien, as ek eers oor die ding is, sal ek ook so voel. Ek hoop so.
- Jy kan hierdie vreemde verhaal lees in Gen. 22.
Views: 6