Het jy ook al gewens die wêreld het anders gelyk? Dat God met die Bose finaal moet afreken sodat ons sonder sy invloed ons gang kan gaan? Want as jy so wens, is jy nie alleen nie. Jesus se dissipels het dit ook gewens.
Jy sien, Jesus se dissipels het nie soos Hy gedink oor mense en die wêreld nie. Hulle het kriewelrig, en selfs geïrriteerd geraak met Jesus se optrede en hantering van mense. Hy was vir hulle gevoel soms net té gelate, te rustig, te oop, te sag, te genadig. Hulle sou wou sien dat Hy baie sterker en meer beslis optree as dit by die goddelose mense kom.
Vat nou maar die keer toe Jesus by Saggeus gaan eet het (Luk 19:7). Ons lees dat almal wat dit gesien het, beswaar gemaak het en verontwaardig gesê het: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!” Of die keer toe ’n Kanaänitiese vrou Jesus gevolg het en aanhoudend geroep het dat Hy Hom oor haar moet ontferm (Mat 15:21v). Toe het sy dissipels vir Jesus gesê: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Dit klink na geïrriteerde mense, nie na mense wat deernis met die vrou gehad het, of geduld met Jesus se optrede nie. ’n Ander keer weer, toe ’n Samaritaanse dorp geweier om Jesus en sy dissipels te ontvang, was Jakobus en Johannes so verontwaardig dat hulle vir Jesus gevra het: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” (Luk 9:54). G’n wonder dat hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gehad het nie!
Om nou sy optrede in perspektief te stel, het Jesus vir sy dissipels – en vir ons! – ’n gelykenis vertel. Kom ons lees dit saam:
Matt 13:24-30, 36-43 (30)
Wat wil Jesus ons in hierdie gelykenis leer? Ek dink Hy wil ons iets laat verstaan van die manier waarop God die wêreld bestuur. Kyk, die dissipels was bekommerd omdat hulle geglo het Jesus laat die booswigte van die wêreld skotvry kom. Hulle was bang dat sekere sondes ongestraf gaan bly, of dat sekere mense of groepe mense by God se oordeel gaan verbykom. En nou sê Jesus: Nee! Dit sal nie gebeur nie. Daar kóm ’n dag van oordeel en opruiming, wanneer die kaf van die koring geskei sal word en elkeen sal ontvang wat hy verdien. Dit kom gewis. In vs 40-42 sê Hy: Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.
Maar tot dan, sê Jesus, moet ons aanvaar dat ons nie in ’n volmaakte wêreld woon nie, in ’n wêreld waarin net God optree, en net gelowiges woon nie. Of ons nou daarvan hou of nie, God het in sy wysheid besluit dat Satan nog ’n rol te speel het in hierdie wêreld. En Satan doen dit, dié kan ons weet. Hy speel sy rol en doen sy werk, selfs tot binne-in die kerk. Luther het eenkeer gesê: Waar die Here ’n kerk opsit, kom slaan die Satan sy pondok net langsaan op.
Maar – en dis wat die Here hier baie duidelik vir ons wil onderstreep – die feit dat die duiwel in hierdie wêreld aan die werk is, dat God hom toelaat om sy nonsens aan te vang, moet ons nie laat twyfel aan die werklikheid van God se regering nie. God se koninkryk is hier, al lyk dit nie aldag so nie, al sien ons dit nie altyd nie, al sien ons nie so baie daarvan soos ons graag sou wou sien nie … God se koninkryk is hier. Hy is in beheer. Hy is die boer, en dis sý saailand, Hý besluit wat daarin moet gebeur.
Vir ons gevoel is God ’n eienaardige soort boer. Murray Janson het by geleentheid oor dié gedeelte gesê: God boer met genade. God wag met genade op die oes omdat Hy hoop dat die onkruid deur sy wonderlike werk iewers voor die oes in koring sal verander. Ons koppe sê vir ons: dit kan tog nie. Onkruid is onkruid, en koring is koring. Onkruid kan nooit koring word nie. Daarom is ons so ongeduldig met die mense wat vir ons gevoel nie hier hoort nie, nie ’n plekkie in God se wêreld verdien nie. Maar in God se tuin bemes Hy die onkruid met genade op genade, en deur sy genade word doringbome sipresse, distels word mirtebome, en “seuns van die donder” word apostels van die liefde. Selfs jy en ek kan anders word!
Jy sien, God kyk na mense, en dan sien Hy nie wat hulle nou is nie, maar sien Hy in hulle wat hulle deur sy genade kan word. Dit kry ons nie reg nie. Daarom wil ons, soos die dissipels, links en regs begin om die onkruid uit te pluk. Ons wil God se saailand skoonmaak. Maar Jesus sê: Moenie! Netnou pluk julle die koring saam met die onkruid uit. As jy in mý land wil boer, moet jy genade hê, en baie geduld, soos God. Want in die wêreld het ons nie met onkruid te maak nie, maar met mense. Mense vir wie God so liefhet dat Hy sy Seun gegee het, om vir hulle te kom sterf. Mense wat onder God se genade kan verander, nuwe mense kan word.
In die verhaal van Robinson Crusoe kla sy helper, Man Friday, op ’n keer oor die ongeregtigheid van die lewe en vra dan hoekom God nie sonde straf en die boosheid vernietig nie. Crusoe se wyse antwoord is: “Stadig, stadig … Jy wil hê God moet die sonde straf? Sê nou Hy begin by jou en my?”
Laat ons dit maar vandag erken: Ons het nie die vermoë om mense altyd na reg te beoordeel nie. Vir ons lyk die onkruid soms na koring, en die koring na onkruid. Daarom sê die Here in Mat 7:1: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.” Want per slot van rekening is daar ’n hele klomp onkruid in ons eie lewens ook. Daarom sluit die Here die gelykenis af met die woorde: “Wie ore het, moet luister.” As jy dan móét oordeel, sê Jesus, begin dan met jouself, jou eie lewe.
In hierdie gelykenis sê Jesus: Moenie dink, omdat daar onkruid tussen die koring staan, dit altyd so sal wees nie. Daar kóm ’n dag wanneer die hemelse Boer die lande gaan afoes, en die koring in die skuur gaan bêre en die onkruid gaan verbrand. Intussen het Hy geduld en deernis met ons, en baie genade.
Miskien moet ons ook soos Hy wees?
Amen.
Views: 110