Van ons Nuwe Testament redaksie
NASARET. – ’n Jong rabbi wat in Kapernaum en omstreke bekend is vir sy dinamiese prediking, het gister hier op die heilige Sabbatdag die sinagogegangers van sy tuisdorp só die harnas in gejaag dat hulle hom van die kranse af wou gooi. Hy het egter daarin geslaag om te ontvlug.
Die voorval het plaasgevind toe Jesus seun van Josef die preekbeurt in die sinagoge waargeneem het. Almal was aanvanklik beïndruk met sy mooi boodskap na aanleiding van ’n gedeelte uit Jesaja. Toe daar egter ’n gefluister die ronde begin doen dat hy maar net die seun van ’n plaaslike timmerman is, het Jesus hulle skerp tereggewys en verwyt dat ’n profeet nie in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar word nie. Die gort was behoorlik gaar toe hy boonop verwys na die profete Elia en Elisa, wat albei wonders gedoen het, maar nie vir hulle eie mense nie.
Die hele sinagoge het opgespring en hom met die kreet: “God is vir die Jode!” uit die dorp uitgejaag. Hy het net-net daarin geslaag om weg te kom voordat hulle hom by die krans kon afstamp.
’n Woordvoerder van die sinagoge het ná die tyd gesê hulle sal geen hooghartigheid en arrogansie in hulle sinagoge duld nie. “Ons ken almal vir Jesus,” het hy gesê. “Hy het voor ons oë grootgeword. Wie dink hy miskien is hy om vir ons te wil leer hoe en waar God werk? En dan het hy nogal die vermetelheid om hom met Elia en Elisa te vergelyk. Dit is mos verregaande!”
Jesus is intussen ook deur die sinagoge verbied om weer in Nasaret te preek.
- Lees hiervan in Luk. 4:14-30.
Koning verbrand profeet se boodskap
Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Koning Jojakim het vandag selfs sy lojale onderdane geskok toe hy ’n boekrol verbrand het waarin die profeet Jeremia die oordeel van die Here oor Juda laat opteken het.
Aangesien Jeremia ingeperk is, kon hy nie self die boodskap wat hy van God ontvang het, in die tempel oordra nie. Daarom het hy sy sekretaris Baruk seun van Nerija gevra om die boodskap neer te skryf en dit dan namens hom in die tempel te gaan voorlees.
Dit was ’n kragtige boodskap wat die volk geruk het. Toe die berig die staatsekretaris Elisama en sy kollegas bereik, het hulle Baruk ontbied om eerstehands die boodskap te hoor. Daarna het hulle die boodskap aan die koning oorgedra. Hy het opdrag gegee dat die boekrol aan hom voorgelees word. Elke keer wanneer drie of vier kolomme klaar gelees was, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en in die vuur gegooi, totdat die hele boekrol verbrand is.
Sover ons kon vasstel, het die boekrol al die woorde bevat wat God oor Israel en oor Juda en oor al die nasies gespreek het, en ook van die rampe wat Hy oor Juda sal bring tensy die volk hulle bekeer. Klaarblyklik het die woorde nie enige indruk op die koning gemaak nie. Hy het opdrag gegee dat Jeremia en Baruk gearresteer word.
- Lees hiervan in Jer. 36.
Verwagtinge, persepsies en vooroordeel
Dit bly ’n ontsaglike tragedie dat Jesus van die begin van sy bediening af verwerp is. In die inleiding tot sy Evangelie skryf Johannes oor Jesus se aardse optrede: “Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en, tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:10,11).
Jesus was natuurlik nie die eerste – en lank ook nie die laaste! – gesant van God wat deur die Godsvolk verwerp is nie. Jeremia, maar ook feitlik al die ander profete, het dit beleef. En dit gebeur vandag nog.
Waaraan het die mense van Nasaret aanstoot geneem? Aan die feit dat Jesus genade, en nie oordeel oor die vyande van die Jode nie, verkondig het. Dat Hy dit durf waag het om te verkondig dat daar buite Israel óók ruimte vir die genadewerk van God is, soos dit in die tyd van Elia en Elisa inderdaad gebeur het. Jesus se evangelie het eenvoudig nie ingepas in die alte menslike verwagtings van sy dorpsgenote nie.
Verwagtings en persepsies wat as ’t ware met moedersmelk ingegee is, verander nie maklik nie. Vandag ook nie. Daarom dat profete van ons dag dikwels met agterdog bejeën word of van valse motiewe beskuldig word as hulle dit waag om in die lig van Gods Woord ou gevestigde instellings in die samelewing te kritiseer.
Paulus skryf dat dit ’n skeppingswonder van God is as ’n mens vry word om sonder vooroordeel regtig nuut en onbevange na die Woord te luister (2 Kor. 5:16-18). Ook ons het hierdie vernuwingswerk van God nodig. Bid daarvoor!
Views: 1