Vandag presies 502 jaar gelede, op 31 Oktober 1517, het Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker om die teoloë van sy tyd uit te nooi tot gesprek oor onder andere die aflaathandel van destyds. Dit word allerweë as die begin van die Hervorming gehuldig.

Vyf eeue later moet ons vra of die Hervorming nog relevant is vir die kerk van die 21ste eeu. En die antwoord is: inderdaad. Mits ons natuurlik nie stilstaan by 1517 nie.

Die kerk van die Reformasie hervorm altyd. Dit was die slagspreuk van die Hervorming. ’n Kerk wat stagneer, het opgehou om kerk te wees. Die kerk moet steeds bly worstel met die vraag wie hy is, wat hy is, wat hy glo, wat hy beteken, waarvoor hy staan, waarheen hy op pad is.

Daar is mense wat in dié slagspreuk ’n oproep tot liberale teologie hoor, asof ’n kerk wat nie voortstu na ’n meer verligte verstaan van dinge nie, vasgehaak het by ’n uitgediende geloofsiening. Maar dit is nie wat hierdie slagspreuk verwoord nie. Nie meer liberaal nie, en ook nie meer konserwatief nie. Nee, ons word opgeroep om steeds weer te hervorm na die Woord toe. Die volledige slagspreuk is immers: Ecclesia Reformata Semper Reformanda Secundum Verbum Dei. Die kerk van die Hervorming hervorm steeds in ooreenstemming met die Woord van God. Want die Hervorming se ander slagspreuk is tog Sola Scriptura: slegs die Woord. Terug na die Bybel!

Wat beteken dit prakties?

Dis ’n oproep om ons steeds meer te verdiep in ons bestudering van die Skrif, sodat ons met ’n verantwoordelike Skrifuitleg ons geloof en ons kerkwees kan inrig. Om nalopers van die tydsgees te wees, is nie Gereformeerd nie. Om die drie-enige God se hart in die Skrif te hoor en te probeer verstaan, dít is wel. Daarom sal ’n verantwoordelike kerk en gelowige op sy hervormingspad sekere ankers hê wat hy saam met gelowiges oor al die eeue heelhartig bely het; ankers wat die hart van die geloof saamvat. Soos wat die Twaalf Artikels inderdaad doen.

Om hervormend te dink en te leef, beteken dus nie dat ons nou begin om die grense te toets en te verskuif nie. Myns insiens is die ankers van die geloof, soos in die Twaalf Artikels vervat, ononderhandelbaar. Ek wil nie met iemand redeneer oor God se Almag en of Hy Skepper is nie; dit staan vas. Ek stel nie daarin belang om my geloof te verdedig dat Jesus waarlik God is nie, of dat Hy ’n maagdelike geboorte gehad het, dat Hy vir ons sondes gely het, gesterf het en begrawe is, dat Hy uit die dood opgestaan het en lewe, dat Hy opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van die Vader sit, van waar Hy weer sal kom om te kom oordeel oor die lewendes en die dooies. Ek glo dit sonder meer, al moet ek erken dat ek dit nie aldag goed verstaan nie. Ek aanvaar die inwonende teenwoordigheid en leiding van die Heilige Gees in die kerk en in my persoonlike lewe. Ek bely dat die kerk een is en behoort te wees; dat die verskeurdheid van die kerk ’n aanklag teen ons almal is. Ek weet en bely dat ek die vergifnis van sonde nodig het. Ek sien uit na die wederkoms en die ewigheid saam met God.

Ja, die kerk moet steeds reformeer om te wees wat ons in Christus Jesus is: sy liggaam, met Hom as Hoof. In navolging van Hom leef ons, loof ons, glo ons, dien ons. Só word ons die lig vir die wêreld en die sout vir die aarde. Só vloei die strome lewende water uit ons binneste.

Mag ons steeds só kerk wees!

image_pdfimage_print

Views: 10

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.