Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Die jare lange ideaal van wyle koning Dawid is gister verwesenlik toe sy seun Salomo die tempel in Jerusalem feestelik in gebruik geneem het.

’n Reuse-arbeidsmag het sewe jaar lank gewerk om die tempel klaar te kry. Dertig duisend dwangarbeiders, sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers het onder die toesig van drie duisend drie honderd opsigters gewerk.

Koning Salomo het reeds in sy vierde regeringsjaar met die bouwerk begin, en nou, in sy elfde jaar as koning, is die tempel uiteindelik klaar. Geen moeite of onkoste is ontsien nie. Slegs die beste materiaal en vakmanskap was goed genoeg vir dié gebou, wat vandag sierlik uittroon in die Dawidstad. ’n Kenmerk van die tempel is die ryklik versierde houtpanele en die oorvloedige gebruik van goudbeslag.

Die feestelike inwyding het gisteroggend vroeg al begin toe priesters die verbondsark uit die tent van ontmoeting na die Allerheiligste van die tempel gedra het. Koning Salomo het self die prosessie gelei. Soveel offers is aan God gebring dat dit onmoontlik is om te tel. Terwyl die priesters die ark in die tempel ingedra het, het die Levitiese tempelmusici die pragtige loflied van Psalm 136 laat opklink: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Na ’n kort toespraak het die koning sy hande in gebed na die hemel opgehef en in ’n hartroerende gebed die seën van die Here afgebid op die werksaamhede wat vanuit die tempel verrig sal word in die jare en geslagte wat kom. Daarna het hy die volk geseën.

Twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee is toe as maaltydoffer geoffer. Só het die twee weke lange fees ter ere van die Here wat die koning afgekondig het, amptelik begin.

Die koning het ná die seremonie aan Bybelkoerant gesê hy voel geëerd om die tempel tot Gods eer te kon bou. Al waaroor hy ’n bietjie hartseer is, is dat sy vader, Dawid, nie hier is om die verwesenliking van sy droom self te kan aanskou nie.

 

TOESTAND VAN TEMPEL SKOK, SÊ KONING HISKIA

JERUSALEM. – Koning Hiskia het sy ontsteltenis uitgespreek oor die gehawende toestand waarin die tempel tans is.

Hiskia, wat pas sy vader Agas as koning opgevolg het, het gister die tempel besoek. Nadat hy die tempeldeure oopgesluit het, het hy opdrag gegee dat die deure en ook die hele tempel herstel en gereinig moet word. Hy het die priesters en Leviete beveel om hulle te reinig en die tempeldiens weer in te stel.

Hiskia het in ’n toespraak voor die tempel die ontrou van hulle voorvaders vir die haglike toestand geblameer. Dit is bekend dat dit veral deur sy eie vader Agas se toedoen was dat die tempel so ernstig verwaarloos is. Agas het persoonlik die tempel geplunder en sy deure gesluit, omdat hy sy rug op die Here gedraai en hom tot die Aramese afgode gewend het.

Koning Hiskia het gesê hy gee nie om hoe lank dit sal neem om die tempel te reinig en te herstel nie. “Al neem dit ook ’n maand, die tempel moet reg, want hoe kan ons voor die Here leef as sy huis só lyk?”

 

Paasfeesganger saai chaos op tempelplein

Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Galileër wat in Jerusalem is vir die Paasfees was só onthuts oor die bedrywighede op die tempelplein dat hy met ’n toutjie-sweep almal uit die tempel uitgejaag het, ook die skape en beeste. Toe het hy die geld van die geldwisselaars op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.

Alles het so vinnig gebeur dat die skade gedoen is voordat die tempelpolisie ’n vinger kon verroer. Toe die tempelowerhede hom oor sy optrede konfronteer, het hy uit die heilige boek van die profeet Jesaja aangehaal en gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed wees,’ maar julle het dit ’n rowersnes gemaak.” Klaarblyklik was sy kritiek dodelik in die kol, want die owerhede het niks verder aan die saak gedoen nie, hoewel hulle duidelik woedend oor die voorval was.

Die man, Jesus seun van Josef, kom van Nasaret, en hy het in Galilea as rabbi bekendheid verwerf met sy kragtige prediking. Onbevestigde berigte lui dat hy selfs wonderwerke doen. In godsdienstige kringe hier in Jerusalem is hy egter ’n onbekende.

 

 


Aanbidding

“Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God” (Ps. 84:2,3).

Waardeer jy die voorreg van aanbidding saam met ander?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.