Huis in orde kry

“Don’t put it down. Put it away,” hoor ek my ma vanoggend weer in my gedagtes toe ek in my deurmekaar studeerkamer instap. Sy het dit dikwels gesê toe ek nog in die huis was. Pleks ek beter geluister het …

Nog ’n ding wat my ma ook gesê het, is dat dit goed was dat sy en Pa elke ses jaar of so moes trek, want dit het gehelp dat hulle elke paar jaar gedwing was om van al die onnodige opgegaarde goed ontslae moes raak. En toe, ná meer as 27 jaar in dieselfde huis, moes ons trek. Ek wil nie meer dink aan al die rommel wat weggery en weggegooi is nie. Daar is nou nog, meer as ‘n halfjaar later, bokse vol boeke wat in my studeerkamer staan.

Ai, die klotter …

Ons weet almal dat ’n mens jou goed minder behoort te maak, ontslae moet raak van die klotter, maar ai, dis makliker gesê as gedaan. Ek is nie ’n ou wat maklik iets weggooi nie, en buitendien beteken dit jy moet tyd maak om dit te doen. Daar was ongelukkig nie (soos vir die arm skoenmaker) elfies wat, toe ek een mooi dag wakker word, die huis vir ons netjies en aan die kant gemaak het nie. Ek moes dit self doen. Ek moes elke onnodige boek en tydskrif, elke ekstra skroef en kartondoos vat en uitgooi. En al die ornamente wat eens op ’n tyd vir ons mooi was, maar later net in die pad gestaan het.

Ek het ’n idee dit gaan in die kerk in die breë, en in party gemeentes, ook so. Ongemerk het ons ons gemeentelike lewe al voller gemaak. Gemeentes se kalenders is volgeprop met programme en fondsinsamelings en aktiwiteite. Almal is lekker besig, en glo dis wat dit beteken om kerk te wees. Die talle programme en seminare en projekte is nie nonsens nie. Maar ongemerk het ons die primêre fokus op Christus verloor.

Geestelike rommel

Waaroor gaan die debat in die kerk tans? Oor die gays en gender-kwessies, nie oor navolging van ons Here nie. Nie oor die krisis dat talle lidmate (en predikante!) nie meer by die Bybel as hoogste gesag leef nie, en dit nie meer lees en ken nie. Die rommel in die kerk is besig om ons te verswelg, en dit lyk my nie ons besef dit nie. Tot op ‘n dag dat jy effens terug staan en verslae na die kerk kyk en jouself afvra: Is dít die kerk? Hoe op dees aarde het ons hier beland?

Die erediens het ’n skouspel geword: die sang is dikwels nie meer gemeentesang nie, maar ’n musiekbedieningsgroep wat hulle eie ding doen, terwyl die gemeentelede staan en toekyk, oorweldig deur die stroom klank uit groot luidsprekers. Party kerke is lank nie meer kerke nie, maar ouditoriums met kolligte en al, waar die kerkbanke met teatersitplekke vervang is, die preekstoel uitgegooi is ten gunste van ’n verhoog vir die “band”, en die orrel óf verkoop is, óf in onbruik verval het en stof vergaar. Preke moet ook skouspelagtig wees, “fun and great”, soos ’n jong dominee my vertel, en die vermaaklikheidswaarde word verhoog met talle videogrepe en memes.

Waar is Jesus?

Tussen al dié geestelike rommel deur moet lidmate sukkel om iewers tog die pad agter Jesus aan te vind. Ek wonder of Hy nog tuis is in die kerk. Want ek het Hom leer ken as die Messias, sonder prag en praal, sonder fieterjasies, wat op ’n donkie, nie ’n strydros nie, die stad inry vir sy kroning op Golgota; wat die tempel gereinig het van al die rommel wat mense se fokus van God aftrek; wat gesê het (Markus 8:34) as iemand agter Hom aan wil kom, hy homself moet verloën, sy kruis opneem en Hom volg. Ek hoor niks van “fun and great” en besigwees nie. Ek hoor van nederigheid, van wegkyk van jouself, van fokus op Jesus, van saam met Hom Golgota uitbeur.

Dit is baie interessant dat God die kerk wegvoer na die woestyn, na die eenvoud van gestroop wees van luukses en klatergoud, om haar te beskerm teen die lis van Satan (lees gerus weer Openbaring 12, veral vers 14). En in Amos 5:23,24 sê Hy: “Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom.”

Ek dink die kerk is in die moeilikheid, verlei deur sosiale media en die moderne kultuur waar alles om jouself draai en om jou plesier. Die rommel (gemors?) is besig om ons te verswelg.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings