Ek onthou destyds, in die tagtigerjare, hoe ’n diep gelowige lidmaat baie stellig was oor die politieke toekoms van die land. “Die Here sal nooit toelaat dat ’n kommunistiese party die land regeer nie,” het hy gesê en boonop met sy vuis teen die tafel geslaan om die gewigtigheid van sy oortuiging te bevestig. Ons was die aand in die kerk waar ’n teologiese student ’n klaspreek gelewer het. Die wyse woorde van die professor bly my by: “Stadig, Oom, hoe kan ons daarvan seker wees?”
Inderdaad. Ons gewaande sekerhede is dikwels wensdenkery, wat óns graag wil hê, nie Bybels geanker nie. Wat God sal toelaat en nie sal toelaat nie, val glad nie op die terrein van óns verstaan en sekerhede nie. Daarom moet ons versigtig wees as ons oor dinge praat wat op God se terrein lê. “Moenie gou wees met jou mond en laat jou hart nie haastig wees om ’n woord voor God te uiter nie. Want God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees,” maan die Prediker ons in 5:1 (BDV). En Paulus roep in Romeine 11:34 uit: “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?”
Die Gans Andere
Laat ons daaroor baie duidelik wees: God is soewerein. Hy doen wat Hy beplan, en ek en jy durf dit nie waag om Homte bevraagteken of aan Hom voor te skryf nie. Hy is die almagtige God, en ek en jy klein, nietige mense. G’n wonder nie dat die groot teoloog van die 20ste eeu, Karl Barth, God die “Gans Andere” genoem het.
Dit laat my nou dink aan ’n insident ’n tyd gelede. ’n Dierbare vriend het op sterwe gelê. Slegs familie is by sy bed toegelaat om in sy laaste oomblikke by hom te wees. Heel ongevraagd bars ’n welmenende by die intieme kringetjie om die bed in, steek ’n prekie af oor hoe hulle maar net moet bly glo, en in sy gebed spreek hy toe lewe oor die sterwende man. So al asof hý en sý woorde die situasie gaan omkeer. Al wat hy reggekry het, was om ’n baie kosbare oomblik vir die gesin te bederf.
Verstaan my mooi. Ek het ook al by ’n sterfbed gebid, en op versoek van familie gevra dat die Here aan die sterwende genesing skenk. Gevra, nie geproklameer nie. En ek het al verleë oor my eie kleingeloof die volgende dag by die sterwende se bed gekom en beleef dat die Here die gebede verhoor het. En dan was ek klein en diep verwonderd oor God se grootheid; dat Hy dinge kan doen ver bo wat ons ooit kan bid of dink (lees gerus Efesiërs 3:20). Ek glo met my hele hart dat God ’n God van wonders is. Maar dit is Gód wat ’n God van wonders is. Dit lê op sý terrein. Ons het daar géén beheer oor nie.
Is dít ‘n God van liefde?
Maar om terug te keer na die oom se stelling dat God nie sal toelaat dat dít of dát gebeur nie. Of ’n variasie daarvan: ’n God van liefde sal nie so maak nie. Of: Hoe kan ’n God van liefde só wreed wees?
Alles dinge wat mense in hulle hubris kwyt raak oor God. Asof hulle weet. Ons weet eenvoudig nie hoe en hoekom God dinge besluit en laat gebeur nie.
Wat weet ons nou eintlik?
Dit bring my by die vraag: Is daar dan enige sekerhede in hierdie wêreld? In ons geloof? Oor God? As Hy in die hemel is en ons op aarde, wat weet ons nou eintlik?
Ons weet genoeg om in hierdie lewe getroos te lewe en te sterwe, om nou maar die Heidelbergse Kategismus se eerste twee vrae te beaam. Ons weet dat God ons liefhet; dat Hy ons hemelse Vader is wat ons styf in sy hande hou, wat ons só bewaar dat selfs die hare van ons kop getel is, wat ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun vir ons gegee het. Ons weet dat God deur sy Gees in ons woon en in ons werk om ons geestelik hoe langer hoe meer te omvorm tot mense wat soos Jesus lyk (vgl. 2 Korintiërs 3:18). Ons weet dat niks of niemand ons uit sy hande kan ruk nie. Ons weet dat Jesus eendag weer gaan kom om ons te kom haal …
Hoef ek meer te sê? Ons het so baie sekerhede – meer as wat ’n mens kan opnoem. Ons hoef nie alles wat God doen, te verstaan nie; ons kan in elk geval nie. Maar ons verstaan genoeg dat ons geborge kan leef. Selfs al gaan ons deur donker dieptes. Selfs al kom ’n kommunistiese party aan bewind. Dít is my sekerheid en my troos!
Views: 2