Van ons Ou Testament redaksie
KIRJAT-ARBA. – Die pragtige stuk grond waarop die Makpelagrot geleë is, sowel as al die bome daarop, is gisteroggend op die markplein hier deur die bekende sakeman en boer Abraham seun van Tera gekoop.
Plaaslike eiendomsagente is verstom oor die prys van 400 sikkels silwer wat Efron seun van Soar vir die grond gekry het. Volgens hulle is die grond niks meer as 40 sikkels werd nie.
Abraham het by navraag gesê hy was bereid om selfs baie meer te betaal, aangesien die koop van die grond vir hom baie meer as net ’n saketransaksie is. Hy het daarop gewys dat dit die eerste stukkie grond is wat hy in Kanaän besit, hoewel hy al meer as sestig jaar hier woon. “Met die koop van die grond het ek nou uiteindelik, na al die jare, ’n burger van Kanaän geword. Dis net jammer dat my vrou nie hier is om die vreugde hiervan te ervaar nie,” het hy gesê.
Abraham se vrou is gisteroggend vroeg na ’n kort siekbed oorlede. Hy het die grot juis gekoop as familiegraf.
- Lees meer oor hierdie interessante handelstransaksie in Gen. 23.
Jeremia tree as losser op vir Ganamel
ANATOT. – Ganamel seun van Sallum het gister al sy skuld vereffen nadat sy neef, die omstrede priester-profeet Jeremia, hom te hulp gekom het en ’n stuk grond hier in Anatot by hom gekoop het vir 17 sikkels silwer.
Die transaksie is vroeër in Jerusalem beklink, aangesien Jeremia deur koning Sedekia ingeperk is. Hy word daarvan verdink dat hy met die vyand heul omdat hy niks goeds vir die koning voorspel nie. Hy het trouens voorspel dat Nebukadnesar Jerusalem sal verower en Sedekia na Babel toe sal wegvoer.
Ou ingesetenes van die dorp sê Ganamel kan van geluk spreek dat hy daarin geslaag het om van sy grond ontslae te raak, want met die bedreiging van Nebukadnesar soos dit is, is niemand bereid om nou toekomsplanne te maak nie.
- Lees hiervan in Jer. 32.
Man word weer lewend na vier dae in graf!
Van ons Nuwe Testament redaksie
BETANIË. – Nou kan daar nie meer twyfel wees nie. Die rabbi Jesus van Nasaret ís die Messias! Dit is die slotsom waartoe die meeste mense gekom het wat getuies was van die ongelooflikste wonderwerk wat Jesus nóg gedoen het: hy het ’n man uit die dood opgewek.
Die gelukkige man wat ’n tweede lewe gekry het, is ’n ou vriend van rabbi Jesus, Lasarus, die broer van Maria en Marta. Toe hy onlangs ernstig siek geword het, het sy susters die rabbi daarvan laat weet. Toe hy egter in Betanië opdaag, was Lasarus al vier dae in die graf. ’n Sigbaar aangedane rabbi Jesus het daarop na die graf gegaan, ’n kort dankgebed gedoen, en die dooie geroep. Tot almal se verbasing het Lasarus uit die graf uitgekom! Sy hande en voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek, maar verder was hy springlewendig.
Hoewel baie van die omstanders nou glo dat rabbi Jesus die Messias is, is daar ander wat ernstige bedenkinge hieroor het. Ons verteenwoordiger by die Joodse Raad berig dat die priesterhoofde en Fariseërs ’n raadsvergadering belê het om die hele aangeleentheid te bespreek. Die vrees word uitgespreek dat die rabbi se wonderwerke die mense op loop kan sit en ’n algemene opstand teen die Romeinse owerheid tot gevolg kan hê. Die Raad vergader môre.
- Lees hiervan, en ook van die Joodse Raad se reaksie, in Joh. 11.
God kan!
Geloof is om met God se almag rekening te hou, selfs al sê jou gesonde verstand dat jy in ’n doodloopstraat is. Daarom koop Jeremia die grond by sy neef, al verwag hy die val van Jerusalem. Want hy glo dat God eendag die land weer sal teruggee.
Dit was ook geloof wat Abraham al die jare laat volhou het, al sien hy so min van God se beloftes in vervulling gaan: net een seun van die beloofde ontelbare nageslag, net ’n lappie grond van die beloofde land. Maar God het beloof, en dis genoeg.
Marta het nie so ’n geloof gehad nie. Sy sê wel dat sy weet God sal Jesus alles gee wat Hy vra, maar as Jesus sê haar broer sal uit die dood opstaan, glo sy dit nie. “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan,” antwoord sy, en weier om Jesus op sy woord te neem (Joh. 11:21-24).
Glo jy in God se wondermag? Dat Hy kan doen ver bo wat ons bid of dink? Laat dit dan deurwerk tot in jou optrede, jou beplanning en verwagtings! Dit kan jou hele lewe verander.