Ons is aan die einde van die kerklike jaar. Sondag vier ons die Sondag van Christus die Koning, wat die oorgang is van Koninkrykstyd (die tyd ná Pinkster) na Advent (die vier weke voor Kersfees). Tradisioneel is Sondag van Christus die Koning ’n dag waarop daar oor die laaste oordeel en die wederkoms gepreek word. Of oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Soos dit vir my lyk, is dit nie noodwendig ’n gewilde onderwerp by baie gelowiges nie. Hulle wil nie van die laaste oordeel en die wederkoms weet nie, want dit maak hulle bang. Is dit dan nie die tyd waarvan Jesus gesê het dat dit gekenmerk sal word deur oorloë en gerugte van oorloë nie (Mark 13:7)? En dat die groot verdrukking deel daarvan sal wees nie (Mark 13:14-23)? Jesus het dan gesê ons moet in daardie dae die berge in vlug!
Ek moet eerlik wees dat daardie profesieë van Jesus my ook bang maak. Maar dan is daar weer ander uitsprake van Jesus oor die laaste dae wat ’n heel ander (om nie te sê nie teenstrydige) prentjie teken. Hy vertel in Matteus 24:36-44 dat die wederkoms onverwags gaan kom, en skets dan ’n normale huishoudelike toneel: mense wat op die land werk; vroue wat koring by die meul maal.
Soos ek dit verstaan, praat Jesus in beide gevalle van die toekoms, maar in die eerste geval van die nabye toekoms toe Rome Jerusalem aangeval en met die grond gelyk gemaak het. Dit was in 70 nC, skaars drie dekades ná sy hemelvaart. In die tweede geval praat Hy oor die wederkoms, wat natuurlik nog moet gebeur. So die deurmekaar oorlogstye en woeste vervolging het reeds gebeur, destyds in die eerste eeu. Toe hét die mense berge toe gevlug, en was daar inderdaad oorlog.
Met die wederkoms sal dit nie so wees nie. Trouens, die Here Jesus vertel dat dit dan weer sal wees soos in die tyd van Noag: die mense het soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou. Interessant dat Jesus niks sê oor die afskuwelike korrupsie en geweld, soos die skrywer van Genesis (Genesis 6:5-13) ons meedeel nie. Want dÃt is nie vir Hom die uitstaande kenmerk van Noag se tyd óf van die laaste dae nie. Wat vir Hom uitstaan, is dat mense met hulle lewe aangaan en hulle eie ding doen asof God nie bestaan nie. Dit was in Noag se tyd so, en in die laaste dae sal dit ook so wees.
Dit laat my wonder oor die laaste dae. Is ons nie reeds daarin nie? Mense leef sonder God en dink daar niks van om God en sy kinders belaglik te maak nie. Of te glo wat hulle lus het nie. Daaroor waarsku die Bybel ons óók, in 2 Timoteus 4:3.
Ek en jy kan kla oor die verwording van die wêreld, ons hande in die lug gooi en vra wanneer dit alles gaan eindig. Jesus se antwoord is: met die wederkoms. Daarom moet ons eerder opgewonde raak as ons hierdie dinge sien en hoor, want dit beteken ons is klaar in die laaste dae! Jesus kan enige dag kom!
Dalk kom Hy vandag nog! Wie weet?