I
My vrou was haar lewe lank ’n musiekonderwyser, en my oudste kind Matildie is ’n dosent in musiekwetenskap. Op ’n keer gesels hulle oor die vraag: Hoe leer jy iemand om harmonie te doen? Julle weet, dis nou om iemand te leer om te weet watter akkoorde jy waar moet gebruik, hoe skryf jy ’n tweede stem by as jy die wysie het, ens.

Nouja, wat in die skool gebeur, is dat die kinders ’n stel reëls geleer word oor watter harmoniese progressie om waar te gebruik, en so aan. (As jy nou niks verstaan van wat ek sê nie, moet jy jou nie ontstel nie, want dis nie so belangrik nie. Ek verstaan ook nie veel van dié soort goed nie.) Maar, sê my vrou, dié stel reëls wat hulle vir die kinders leer, is op sy beste ’n probleem, want musiek is ’n té komplekse sisteem om met ’n paar reëls te werk. Toe sê Matildie – en dis al wat julle van dié storie hoef te verstaan – jy kan nie goeie musiek met behulp van reëls skryf nie. Reëls help jou net ’n entjie. Op die ou end moet jy die styl waarin jy werk, assimileer. Jy moet baie na musiek luister en verstaan hoe Bach, bv, met harmonie en akkoorde werk, want dít help jou om goeie musiek te skryf.

Tot sover my musiekstorie. As ons na ons teksgedeelte kyk, lyk dit vir my, is dieselfde beginsel op ons lewe voor die Here van toepassing. Wat Jesus hier sê oor die laaste oordeel en oor waarna Hy sal kyk as Hy weer kom om die skape en die bokke te skei, is dit: Hy gaan nie kyk of jy al die reëls goed nagekom het nie (want dit was hoe die Fariseërs oor godsdiens gedink het; hulle het letterlik honderde reëls gemaak om jou te help om God tevrede te hou). Jesus kyk nie of jy die reëls nakom nie; Hy kyk of jy die styl van Christen-wees geassimileer het. Om dit in ander woorde te stel: Hy kyk of jy soos Hy geword het en soos Hy na ander mense kyk en teenoor ander mense optree.

Jy sien, Christen-wees is nie bloot die nakom van ’n klomp reëls nie (hoewel reëls natuurlik nuttige riglyne vir ons is; daarom lees ons elke Sondag die wet van die Here). Christen-wees is ’n leefwyse; die navolg van ’n Persoon. En in die navolg van Jesus, in die leef soos Hy, en in die dink en praat en doen soos Hy, reik jy as ’t ware vanself na ander uit, nie omdat die wet sê jy moet nie, maar omdat dit is hoe jy is, omdat dit die styl is waarvolgens jy leef. Dís hoekom die verlostes so verbaas is as Jesus hulle aanprys oor wat hulle gedoen het, want hulle het nie gemeen hulle doen ’n klomp goed om in die hemel te kom toe hulle ander wat swaarkry, gehelp het nie. Hulle het eenvoudig geleef soos gelowiges, soos Jesus.

Die ander het nie dié styl deel van hulle lewens gemaak nie, en op die ou end het hulle nie eers agtergekom dat hulle verby mense wat hulle nodig het, geleef het nie. Dit help jou nie te veel om te vra of dít sonde is en of jy maar dát mag doen nie. Paulus skryf in Kolos 2:23 oor so ’n soort godsdiens: Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Nee, om Jesus te volg, om een van sy skape te wees, vra dat jy soos Hy sal word, soos Hy sal dink en doen, soos Hy na ander sal kyk.

II
Ons kan ook op ’n ander manier na hierdie gelykenis kyk; met die vraag: Waar soek jy na God in hierdie wêreld? Waar kry jy Hom?
∙ Party mense sal vir jou sê: In die kerk. En dit is waar. Waar twee of drie in My Naam saam is, daar is Ek by hulle, het die Here Jesus mos self gesê in Matt 18:16.
∙ Daar is party mense wat vir jou sê hulle voel naby God in die natuur. En dit is óók waar.
∙ Ons het natuurlik die Here Jesus vanoggend ook in ’n paar druppeltjies water ontmoet. Die doopwater wys op Jesus se bloed waarmee Hy ons gereinig het. Ons ontmoet Hom in die tekens van sy gebrokenheid, van sy sterwe om ons te verlos. Dís hoe Jesus lyk, liewe gemeente! Gebroke, stukkend, vir mense, vir ons, vir die wêreld. Dís die styl van ons Koning en Here, Jesus van Nasaret! Dís die styl waarin ek en jy moet leer om te lewe.
∙ Daarom is dit dalk vir ons verrassend, maar as ons mooi daaroor dink, tog nie verbasend nie, dat Jesus in ons gelese gedeelte sê ons ontmoet Hom in die hongeriges, in dié wat dors is, in die vreemdelinge, in die mense in vodde geklee en in die siekes. As jy met húlle besig is, is jy met Jesus besig! Wat jy vir húlle doen, doen jy aan Jesus!

Wat kan ons die wêreld bied? Hoe kan ons hier in Petrusburg ’n verskil maak? Nie deur mense ’n klomp godsdienstige reëls en wette te leer nie. Nie met ’n klomp moets en moenies nie. Met Jesus. Met ’n hart vol liefde soos Jesus s’n. Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.

III
Wat sê die Koning van die konings vir mense wat só leef, wat sý styl geassimileer het? Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit …

Mag ek en jy die styl van ons Koning, Jesus Christus, assimileer!

image_pdfimage_print

Views: 19

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.