Die Engelse teoloog en Bybelvertaler JB Phillips het ’n boekie geskryf met die veelseggende titel: Your God is too small. Dis ’n stelling wat ’n mens laat skeef opkyk. Te klein? Dit is tog nie waar nie! God is dan die Almagtige! Ons bely dit elke Sondag: “Ons glo in God die Vader, die Almagtige …” In ons belydenis en gedagtes is Hy die groot God wat alles kan, wat alles weet en alles sien, selfs tot in die diepste geheime van ons hart. Ons weet dit almal. God is so groot dat ons verstand hopeloos te klein is om Hom te begryp.

In die voorwoord tot sy boek verduidelik JB Phillips hoekom hy dié vreemde titel gekies het. Hy sê dat baie mense vandag sonder God lewe, nie omdat hulle so buitengewoon boos, selfsugtig of goddeloos is nie, maar bloot net omdat hulle nog nooit ’n God kon ontmoet wat groot genoeg is om op te weeg teen die probleme en die eise van die lewe nie.

Ons God is so klein dat Hy in ’n kerkgebou toegesluit kan word …

Ons wat wel glo en met God leef, sal dadelik sê dis nie van ons waar nie. En tog … As ons mooi daaroor nadink, moet ons erken dat ons as Christene ook tot hierdie ongeloof by ander aanleiding gee. Want dit lyk soms vir buitestanders asof die God tot wie ons Sondae bid en ons lofliedere sing, net in die kerk is. As ons eers by die kerkdeure uitgestap het, is ons net so beangs, benoud en verward soos die ongelowiges. Ons God is so klein dat Hy in ’n kerkgebou toegesluit kan word, tot volgende Sondag – so lyk dit.

Ek dink ’n deel van die probleem is dat ons te maklik oor God praat, asof ons presies verstaan Wie Hy is. Ons is te seker oor ’n klomp dinge wat ons oor God weet. God is ’n God van liefde, en daarom sal Hy nie toelaat dat dít of dát gebeur nie. En dan gebeur dit of dat, en ruk dit ons tot in ons geloofsfondamente. Hoe rym die afskuwelike gebeure met ’n God van liefde? Is Hy dan inderdaad nie groot genoeg om te help waar ek Hom nodig het nie, my vurige gebede ten spyt?

God is anders as wat ons dink

Voorbeelde van God se “vreemdheid” is daar baie. Dink maar aan die sondvloed, waardeur Hy die aarde en alles wat lewe, sy eie handewerk waarop Hy so trots was, laat verdrink. Of sy onverstaanbare opdrag aan Abraham om sy seun Isak te gaan offer. Of sy toestemming aan Satan om alles wat Job gehad het, te vernietig. Ook sy kinders! Of waar God half verleë voor Maria staan en wag dat sy instem vir sy plan dat sy die moeder van sy Seun sal word. En dat Hy nie eers ’n ordentlike slaapplek in Betlehem vir die moeder van sy Kind gereël het nie.

God pas net eenvoudig nie gemaklik in in ons denkraamwerk oor Hom nie. Net wanneer jy dink, nóú verstaan ek, doen Hy iets wat buite ons raamwerk val. Daarom moet ons die raampie wat ons om ons begrip oor God trek, liefs met ’n ligte potlood trek, en boonop ’n uitveër byderhand hou. Want vir seker gaan jy jou denke oor God met die loop van tyd moet verruim, en dit wat jy van Hom weet, herbedink. God laat Hom eenvoudig nie inperk in wat óns Hom toelaat om te wees nie.

Al van die begin af so

Jesus se dissipels het hiermee gesukkel. Daarom verwyt hulle Hom dat Hy slaap terwyl die storm om hulle woed. Daarom jaag hulle die ouers weg wat hulle kinders na Hom gebring het dat Hy hulle kan seën. Daarom verraai Judas Iskariot sy Meester, want Hy het nie die Romeinse bewind bloedneus geslaan of die see ingejaag nie.

As jy voor Jesus staan waar Hy aan die kruis op Golgota vasgespyker hang, en jy is eerlik in jou denke oor God, móét jy by ’n plek uitkom waar jy erken: Dít het ek nie verwag nie! Lyk die almagtige God só? So hulpeloos en weerloos? Hoe kón die Vader dit toelaat?

Die Gans Andere

God is die Gans Andere, het Karl Barth gesê. God is in misterie gehul. Moenie probeer om die misterie op te hef nie, want jy gaan jou vasloop. Totius het dit onvergelyklik raak verwoord in sy gedig Die Godsbesluit:

Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-’n-bietjie langs die pad.

Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
’k sien takke inmekaar gedraai
en deurmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ’n doringnes
wat vreeslik haak en steek.

Bo al u donker bome, o Heer,
groei my ’n enk’le reusboom uit:
dit is die wag-’n-bietjie-bos
van u besluit.
Van ver so skoon, so groen, so blink …
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat ’n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.

Kom ons wees eerlik. God is vir ons ’n misterie. Hy is te klein. En te groot. Te ver. En te naby. Te sag. Te geduldig met mense. In die woorde van Psalm 113:5-6: “Wie in die hemel of op die aarde is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien?”

Nie vrees nie maar verwondering

Tog hoef God se andersheid ons nie in vrees te laat inkrimp nie, of vir Hom te laat wegkruip nie. Want Hy is in Christus ons Vader. Hy het ons lief! Ons kan Hom met ons lewe vertrou, al verstaan ons Hom nie aldag nie. Dit het Paulus in Romeine 11:33-36 laat jubel: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!”

Mag jy vandag ook só in verwondering voor die misterie van die Gans Andere leef!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.