BETLEHEM. – Skaapwagters hier het die inwoners op hol met bewerings dat hulle gisternag ’n koor van engele gesien en gehoor het. Wat nog meer verbasend is, is dat die engele glo aangekondig het dat die Messias hier in Betlehem gebore is!

Die skaapwagters het in die veld om ’n vuurtjie by hulle skape gewaak toe hulle die ongewone gesig gesien het. Volgens een van hulle, Simeon, het hulle hulle boeglam geskrik toe ’n glansende engel uit die niet voor hulle verskyn het met die boodskap dat die Messias in ’n stal in die dorp gebore is. Voordat hulle nog tot verhaal kon kom, het ’n massakoor van engele ’n jubellied aangehef waarin hulle God geprys het. Daarna het die engele net so stil verdwyn as wat hulle verskyn het.

Die skaapwagters het toe die kindjie gaan soek. Hulle beweer dat hulle hom wel by sy moeder gekry het in ’n stal, net soos die engele gesê het.

Party skeptici maak die hele storie af as “verbeeldingsvlugte uit ’n wynsak”. Dat die skaapwagters egter iets besonders gesien en gehoor het, is duidelik. “Dit was die mooiste musiek wat ek nog gehoor het,” het Simeon gesê.

Of dit werklik die Messias is wat laas nag hier gebore is, sal net die tyd leer. As dit wel Hy is, kan dit beswaarlik anders as deur hemelse kore aangekondig wees!

 

Stadsmuur luisterryk ingewy

Jubelsange tot ver buite Jerusalem gehoor

JERUSALEM. – Die helder klanke van trompetgeskal, koor en orkes het deur die stad weerklink toe die stadsmuur gister feestelik ingewy is.

’n Jubelende prosessie, opgevolg deur ’n aangrypende massakoor-uitvoering, en talle offers, het alles bygedra tot ’n onvergeetlike feesdag. Toe die skrifgeleerde Esra uiteindelik met ’n dankgebed die muur aan God opgedra het, en daarna in ’n kort geleentheidsrede die stadsmuur amptelik ingewy verklaar het, was daar min oë wat droog gebly het, omdat die voltooiing van die stadsmuur ’n lank gekoesterde ideaal was wat uiteindelik met baie groot opofferings en ontberings, maar ook ongekende spanwerk, bereik is.

Die verrigtinge het reeds vroeg gisteroggend begin toe die priesters en Leviete eers hulleself, en daarna die volk, die poorte en die muur vir die groot geleentheid gereinig het.

Daarna het goewerneur Nehemia die feesvierende menigte in twee groepe verdeel, elk met sy eie Levietekoor en orkes. Met die onderskeie kore vooraan het die twee groepe toe al op die muur langs reg om die stad gestap, een groep suidom en die ander een noordom. By die tempel het die twee groepe weer by mekaar aangesluit en hulle plekke in die tempel ingeneem, waar die gesamentlike koor onder die bekwame leiding van koormeester Jisragja die God van Israel geloof het met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere.

Leviete van oraloor het hulle spesiaal in die stad kom aanmeld vir die grootse geleentheid.

Feesgangers was dit eens dat die koor homself oortref het. Een het opgemerk: “Tydens die hele fees, en veral toe die koor gesing het, het die woorde van een van ons geliefde psalms in my kop gemaal: ‘Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.’”

 

Koning stel direkteur van musiek aan

JERUSALEM. – Die bekende simbaalspeler Asaf die Leviet is verlede week deur koning Dawid aangestel in die nuwe pos van direkteur van musiek. Die tweede in bevel is sy kollega Sagaria.

Koning Dawid het die pos spesiaal geskep om saam te val met die terugkeer van die verbondsark na Israel. Asaf sal veral verantwoordelik wees vir die musiek tydens die eredienste. Sy eerste groot opdrag is om die koor en orkes af te rig vir wanneer die verbondsark volgende maand na Jerusalem gebring word.

Volgens ingeligte bronne het die Leviete-koor reeds hard begin oefen aan ’n nuwe lied, “Loof die Here,” wat Asaf in opdrag van koning Dawid spesiaal vir die geleentheid gekomponeer het.

  • Lees meer van Asaf se Leviete-koor en die aangrypende lied wat hulle gesing het, in 1 Kron. 16.

 

 


Om God te loof

Martin Luther het gesê: “Hy wat sing, bid twee maal.” Daarom speel musiek so ’n noodsaaklike rol in ons aanbidding, en, sal dit in die ewigheid ook nog so wees.

O, om eendag saam met die engele in die hemelse kore ons lof te kan uitjubel! Halleluja!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.