Ek lees onlangs ’n gedig van Lina Spies oor Jesus se geboorte: “Ontdaan”. Sy skryf daarin dat Maria nié hoogswanger die reis na Betlehem afgelê het nie; dat sy soos alle uitgeworpenes swaar gedra het aan die vrug van haar skoot; dat Jesus uit ongeoorloofde liefde verwek is of uit geoorloofde misbruik van ’n vrou. Dat God van dié vaderlose kind besit geneem het. Sy sluit die gedig af met die bekentenis dat sy haar rug gedraai het op die Kind van Betlehem. En daarmee verwoord sy die verwerping van talle moderne geestelike mense wat nie langer aanvaar dat Jesus ’n maagdelike geboorte gehad het nie; dat Jesus die eniggebore Seun van God is nie; dat Jesus se roeping méér was as om mense wat verlate en verworpe was in die samelewing, ’n stem te gee en die mensdom te leer om lief te hê nie.

Lina steun in haar beskouing swaar op Andries van Aarde se boek “Fatherless in Galilee” waarin hy beweer dat Maria swanger geword het nadat sy deur ’n Romeinse soldaat verkrag is. Die gedig is baie goed geskryf, maar my hart het gepyn toe ek dit gelees het, want met dié belydenis draai sy haar rug op soveel oor Jesus wat die kerk oor eeue geglo en bely het. Ek wonder hoe sy die Bybelse getuienis oor die engel se verskyning aan Maria en aan die herders wegredeneer; hoe sy so gemaklik die verhaal van die reis na Betlehem en die Baba in die krip en Josef se bestaan afskryf; hoe sy die besoek van die magi uit die Ooste en die moordbendes van Herodes sal verduidelik … Iewers moet ’n mens by ’n punt kom waar jy sê die Bybelskrywers het ons ’n rat voor die oë gedraai as jy tot die slotsom kom waartoe sy gekom het.

Ek is nie bereid om my dié arrogansie aan te matig nie.

Haar rasionele siening van wie Jesus was, laat geen ruimte vir God se misterie nie, vir die wonder dat God inbreek in hierdie wêreld nie, vir die belydenis dat Jesus ware God én ware mens was, soos die kerk by monde van Nicéa al sedert die 4de eeu bely nie. Miskien is wat sy nou oor Jesus sê, ’n rasionele, logiese verklaring vir moderne mense oor wie die mens Jesus was, maar geloof gaan om baie meer as logika. Dit gaan om verwondering, om buig voor Een wat groter is, wat meer is as wat ons ooit kan bid of dink of verstaan, Wie se weë verhewe is bokant ons s’n, vir Wie ons nooit kan uitpluis nie, want Hy is God.

Kersfees is vir my ’n tyd van verwondering, van belydenis dat God Gód is, die Gans Andere (Karl Barth) wat na ons uitgereik het deur sy eie Seun na ons te stuur, gebore deur die Gees uit die maagd Maria. En daaroor sal ek juig, en daarby sal ek staan!

Ter wille van volledigheid, hier is die gedig van Lina Spies:

Ontdaan

Nee, dit was nie ’n heilige nag nie;
Dit was ’n nag soos alle ander nagte.
Miskien was dit ’n sterligte nag
waarin dieselfde sterre
– soos die wette van die natuur bepaal –
geskyn het bo Galilea,
die oproerige provinsie
waarop die Romeine altyd ’n wakende oog moes hou.

Nee, jy het nie – hoogswanger – die reis afgelê
saam met Josef, die fiktiewe vader van jou ongebore kind,
om jou te laat inskryf in die sensus
soos bepaal deur keiser Augustus nie;
vrouens het nie getel as inwoners van ’n land nie.

Nee, jy het nie gelyk soos die Italiaanse meesters
jou later geskilder het nie –
die nakomelinge van Pontius Pilatus
wat daardie kind wat jy in skande moes baar
toe hy êrens in sy dertigerjare was,
veroordeel het tot die skanddood aan ’n kruis.

Nee, jy het nie ’n Fra Angelico-blou mantel gedra
en bo jou hoof het geen stralekrans geskyn
toe ’n sogenaamde engel die boodskap sou gebring het
dat die kind wat jy gedra het die Seun van God was nie.

Nee, jy moes donker gewees het van huid en haar
– eie aan die volk waartoe jy behoort het –
en aan die vrug van jou skoot
moes jy soos alle uitgeworpenes swaar gedra het;
of hy uit ongeoorloofde liefde verwek is
of uit geoorloofde misbruik van ’n vrou.

Vaderloos in Galilea, het God van hom besit geneem
sodat hy aan swakkes en geminagtes
die status van menswees kon gee;
sy hande op kinders kon lê
en vrouens na hom aan kon trek
onder wie hy jou nooit uitgesonder het
as die Moeder van God nie.

Ek was lank op reis na hom
maar eers toe die engelekore stil geword het
en ek sy stem kon hoor;
eers toe die geur van wierook en mirre verdamp het
en ek die sweet en stof kon ruik
van sy tuistelose omswerwinge,
het ek my rug gedraai op die Kind van Bethlehem
en jou seun ontmoet, rabbi Jesjoea van Nasaret.

image_pdfimage_print

Views: 447

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.