Spesiale Advent-uitgawe

NASARET. – ’n Kleinboer van Nasaret. Eli ben Mattat. het vandeesweek bekend gemaak dat hy ’n spesiale geleentheid gereël het om die verlowing van sy dogter Maria op gepaste wyse te vier. Sy het haar onlangs verloof aan ’n plaaslike timmerman, Josef ben Mattan. Hy is oorspronklik van Betlehem.

Na wat verneem word, is die gastelys taamlik beperk, en slegs naby-familie en intieme vriende is na die geleentheid genooi. “Ek wou graag die hele dorp nooi, maar keiser Augustus se belastings roei ons kleinboere lelik uit,” het die verleë pa verduidelik.


Aankondiging van Jesus se geboorte

’n Engel in Nasaret?

NASARET. – ’n Jong meisie van Nasaret in Galilea beweer dat ’n engel aan haar verskyn het om ’n baie besondere boodskap aan haar te kom afgee. Wat dié bewering nog meer ongelooflik maak, is dat die engel glo niemand minder is nie as die aartsengel Gabriël.

Die meisie wat dié verstommende bewering gemaak het, is Maria, dogter van Eli ben Mattat. Sy wou nie uitbrei oor die boodskap nie, want, het sy gesê, “niemand sal my glo as ek sê wat die engel vir my vertel het nie.” Sy het wel laat deurskemer dat die boodskap met die lank-verwagte Messias te make het. Sy het onderneem om die inhoud van die boodskap bekend te maak wanneer die tyd daarvoor ryp is.

Haar verloofde, Josef ben Mattan, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Ondertussen het die hoof van die plaaslike sinagoge, rabbi Jonatan, die gemeenskap tot kalmte gemaan en die meisie se bewerings as bogstories afgemaak. “Ons weet almal dat die Allerhoogste sy aartsengel slegs op hoë uitsondering aarde toe stuur, en dan na belangrike mense soos ons voorvader Jakob, of die profeet Daniël. Maar Maria bat Eli val beslis nie in dié kategorie nie. Nee wat, hierdie is sommer ’n liegstorie en sensasie-soekery,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die Messias beslis nie uit ’n agterlike plekkie soos Nasaret sal kom nie.

  • Jy kan in Lukas 1:26-38 lees wat die engel alles vir Maria gesê het.

 


Wie in God se wêreld belangrik is

Lukas se Kersverhaal is omhul met verwondering en misterie. Dis ’n verhaal van engele wat sing en lofliedere; nie minder nie as drie daarvan (Elisabet Maria en Sagaria). En wie sal nie sing as wondere om jou en met jou gebeur nie?

Wat ons nie mag miskyk nie, is waar die verhaal afspeel: in Nasaret, ’n onbeduidende dorpie in Galilea, ver verwyder van die hoë mense van destyds. En veral: die mense vir wie God gekies het om in die middelpunt van die grootste gebeurtenis van die mensdom te staan. Dit was nie belangrike mense nie; inteendeel, dit was mense sonder enige aansien. Maria is boonop eintlik nog ’n kind.

Dís die evangelie van God se hart: God kies nie noodwendig belangrike mense in wie en deur wie Hy sy groot planne deurvoer nie. Hy kies gewone mense, rus hulle toe deur sy Gees, en máák hulle geskik. Dink maar aan koning Dawid. Selfs sy eie pa het nie gedink hy is in tel nie (1 Samuel 16:1-13)! Maria en Josef val ook in dié kategorie. En tog, deur God se genade, word hulle sleutelfigure in God se heilsplan.

Jy dink dalk ook oor jouself só: nie belangrik nie, nie een van die groot name in jou wêreld nie. By God maak dít nie ’n verskil nie. Jy is immers deur Hom gekies om sy kind te wees. Leef dan so!

image_pdfimage_print

Views: 20

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.