Ons lees almal (hopelik) in hierdie Adventstyd die geboorteverhale van Jesus in die Evangelies. Dis al of ‘n mens nie lekker houvas op die gebeure kan kry nie. ‘n Misterie omhul die berigte oor sy geboorte.
Maria hoor by ’n engel sy gaan swanger word en gaan kuier dan by Sagaria en Elisabet. Toe sy daar kom, sing Elisabet ‘n loflied oor Maria se ongebore Kind en praat van dié Kindjie as haar Here (Lukas 1:43)! Verstommend as jy in gedagte hou dat sy toe nog nie eers geweet het Maria is swanger nie.
En dan kom ‘n ongelooflike loflied oor Maria se lippe. Onthou, sy was toe nog maar 13 jaar oud of so. Maar sy sing van maghebbers wat van trone afgeruk word en sulke dinge, wat tog nie in die verwysingsraamwerk van ‘n meisie uit die diep platteland sou pas nie. Ons lees van engele en sterrekundiges en skaapwagters; almal vreemde karakters in die Joodse godsdienstige konteks van destyds.
Geen wonder nie dat Markus sy Evangelie eers ná Jesus se geboorte laat begin. Net soos hy sy verhaal afsluit met die berig van ‘n klompie verskrikte vroue wat te bang is om iets te sê (Markus 16:8, wat allerweë as die oorspronklike Evangelie se einde aanvaar word). Want as ‘n mens oor Jesus dink, is daar net te veel gegewens wat in misterie gehul is. So al asof die Evangelies ons vermaan om suutjies te trap.
Jesus is nie sommer maar net nog ‘n profeet of selfs groot profeet nie. Jesus is anders. Hy is God, en sy koms na hierdie wêreld pas nie in enige boksie in nie. Daarom is dit dwaas om die maagdelike geboorte te probeer verklaar of te probeer wegverklaar, net soos dit die evangelie geweld aandoen as jy Jesus se opstanding probeer vergeestelik of probeer verduidelik.
Die koms van ons Here na hierdie wêreld kan nie verklaar of verduidelik word nie. Dit kan net geglo word.
Mag jy in hierdie Kerstyd die genade ontvang om met verwondering en geloof in aanbidding voor Jesus te buig! En mag dit vir jou en jou mense ‘n geseënde tyd wees!