Spesiale Advent-uitgawe (vervolg)

NASARET. – Die sensus wat keiser Augustus aangekondig het, veroorsaak baie groot ontwrigting in die land, veral omdat dit bepaal dat elkeen in sy plek van herkoms ingeskryf moet word. Daar is selfs sprake van ’n opstand onder die mense.

Ondertussen maak wetsgehoorsame burgers klaar vir die lang reis na hulle plek van herkoms. Uit Nasaret het Josef ben Mattan bevestig dat hy binnekort na Betlehem vertrek, en dat sy verloofde die reis met hom gaan meemaak. Hy is onseker waar in Betlehem hulle slaapplek gaan kry.

Bybelkoerant sal jou op hoogte hou van dié paartjie se vordering.

  • Lees meer oor dié ongemaklike situasie in Lukas 2:1-5.

 

Betlehem is tjok en blok!

BETLEHEM. – Daar is nie plek vir die spreekwoordelike muis in die historiese dorpie Betlehem nie, sê ingeligtes in die gasvryheidsbedryf. Elke moontlike en onmoontlike slaapplek is gevul deur moeë reisigers wat na die Dawidstad gekom het vir die sensus. Oral is kennisgewings by herberge aangebring wat sê dat hulle oorvol is.

Dit laat laatkommers na die dorp met ’n groot kopseer. Bybelkoerant het verneem dat een paartjie uit pure desperaatheid hulle intrek in ’n stal geneem het, net om nie onder die sterrehemel op die dorpsplein te oornag nie.

 


Niks nuuts nie

As ’n mens jou probeer indink die ontsettende ontwrigting wat keiser Augustus se sensus vir gewone mense soos Josef veroorsaak het, kan jy maar net jou kop skud. En jy herken in die arglose wyse waarop die keiser destyds regeer het, die soort goed wat in ons eie tyd gebeur. Geen behoorlike besinning oor die konsternasie wat die man op straat moet deurmaak nie. Geen aanspreeklikheid nie. Want die een met die mag het die sê. Punt.

Die berig oor die sensus is egter nie in die Bybel om ons te troos dat dinge maar altyd so gegaan het soos nou nie. Dit vertel hoe dit gekom het dat Jesus juis in Betlehem gebore is, soos die profete voorspel het. En dit wys vir ons iets van ’n gelowe se reaksie op besluite wat die regering neem. Josef kom nie saam met ander in opstand nie. Hy pak sy goed, gehoorsaam aan die keiserlike bevel.

Maria hoef natuurlik nie saam te gegaan het nie; vrouens is nie destyds in sulke sensusse getel nie. Trouens, hulle het glad nie getel nie. Maar sy gaan saam, want sy en Josef hoort bymekaar.

Ek sê nie ons het niks om oor te kla in hierdie mooi land van ons nie. Daar ís baie goed wat ’n mens kwaad maak, of lam. Soos beurtkrag. Ons kan egter leer by Josef en Maria oor die wyse waarop ons as gelowiges onreg in die wêreld moet hanteer. Hoe het Paulus nou weer in Fil. 4:8-9 geskryf? “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deur of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig […] En God wat vrede gee, sal by julle wees.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.