Vooraf:

Mat 1:18-25 is ’n baie interessante en besondere gedeelte in die Bybel:

  • Dit is een van die min Skrifgedeeltes oor die geboortegeskiedenis waar die fokus nie op Maria nie, maar op Josef val. ’n Mens sou nogal daaroor kon preek!
  • Teenoor die glorievolle Kersverhaal van Lukas, val Matteus se vertelling van die verhaal op deur sy sobere saaklikheid. Wat by Lukas ’n hemelse avontuur was, word in Matteus se Evangelie ’n ongemaklike gebeurtenis wat nie sonder verleentheid, ontwrigting en skande was nie.
  • Mat 1:18-25 is een van net twee plekke in die Bybel waar vertel word van die buitengewone wyse waarop die Christuskind die wêreld ingekom het – gebore uit ’n maagd, deur die wonderlike toedoen van die Heilige Gees!

Skriflesing: Matteus 1:18-25

Die maagdelike geboorte van die Here Jesus het deur die eeue heen al vir baie mense ’n ernstige geloofskrisis geword. Eeue lank het die kerk geworstel met hierdie vraagstuk om duidelikheid te kry oor wat ons presies daaronder moet verstaan. Tot vandag toe staan ’n mens verbaas oor mense – selfs teoloë – wat kans sien om baie ánder dinge te aanvaar, maar probleme het met hierdie saak. En dit is tog eienaardig. As mense wil twyfel, is daar baie groter dinge waaroor ’n mens sou kon twyfel as oor die maagdelike geboorte van Jesus. Soos dat God alles uit niks geskep het, of meer nog, as iemand dan wil twyfel, waarom twyfel hy nie oor die bestaan van God nie? Maar as jy in God glo, dan is dit tog nie so moeilik om in die maagdelike geboorte van Jesus te glo nie!

Terloops, die blote feit dat daar in Bybelse tye baie ander belangrike persone was soos bv Hercules, wat ook, so is geglo, maagdelike geboortes gehad het, maak nie ons belydenis oor Jesus se geboorte absurd nie. Buite die Bybelse geloof het daar ook stukkies van die waarheid gelê, al was dit verkeerd verstaan. So het ons konsep van die lewe ná die dood (die hemel of paradys) van die Perse af gekom. Dit beteken nie ons is nou verkeerd as ons, soos die Perse van destyds, glo daar is ’n hemel nie. Bybelse geloof en -belydenisse het nie in ’n vakuum ontstaan nie.

Maar dan is daar ook baie mense wat meen dat dit nou nie juis nodig is om te glo in die maagdelike geboorte van Jesus nie – terwyl die kerk deur die eeue geoordeel het dat dit een van die kardinale leerstukke van die Bybel is, en daarom dit in die 12 Artikels opgeneem het, sodat ons dit elke Sondag – soos ook vanoggend weer – bely: “Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria”. Hierdie mense sê dit is net twee Bybelskrywers (Matteus en Lukas) wat die maagdelike geboorte hoegenaamd noem, en daarom is dit nie so ’n belangrike saak nie. Dit is immers tog nie onmoontlik vir God om ons ook sónder die maagdelike geboorte van Jesus te verlos nie.

Dit is natuurlik waar. God sou ons ook op ’n ander wyse kon red. Maar hier leer die Bybel ons dat God besluit het om dit nié so te doen nie. Hy het besluit om met sy wonderwerking aan ons verlossing reeds met die geboorte van die Messias te begin.

Hoekom? Hoekom was die maagdelike geboorte nodig?

1. God is in beheer
Ek dink dit was eerstens omdat God ons iets van Homself hierdeur wou leer. Hier sien ons dat God, en God alleen, die inisiatief neem by ons verlossing. Dat daar ’n Verlosser gebore is, dat daar so iemand soos Jesus was, is nie aan mense te danke nie. Jesus Christus is nie ’n plan wat mense gemaak of uitgedink het nie. Hy kom van God af. Daarom word die werk van die Heilige Gees in die hele maagdelike geboorte beklemtoon, hier in ons teksgedeelte, en ook in die Twaalf Artikels, want waar die Gees werk, daar is God besig om op ’n besondere wyse in te gryp in hierdie wêreld.
Glo jy dit? Glo jy dat God ook vandag nog besig is met hierdie wêreld? Dat alles in hierdie lewe nie op die ou end in ons eie hande rus nie, in Cyril Ramaphosa of Donald Trump of wie ook al se hande nie, maar in God se hand? Dat Hy kan ingryp, dat Hy ’n verskil maak aan hierdie wêreld, dat Hy inderdaad regeer? Glo jy dit? Verwag jy dit nog van God? Want dit is wat die maagdelike geboorte vir ons onderstreep: God gryp in in ons wêreld, Hy is in beheer! Die maagdelike geboorte verkondig aan ons dat God leef en self aktief besig is om sy plan vir hierdie wêreld uit te voer.

2. Nie uit dwang nie
Maar meer nog. God besluit – op eie inisiatief – om iets te doen aan hierdie wêreld wat verlore gaan. Hy doen dit self, en, baie belangrik: Hy doen dit vrywillig! Ons gewone mense het nie ’n keuse gehad by ons geboorte nie. Toe ons ons kom kry, was ons maar hier, neergesit op die aarde. Maar met die Seun van God was dit anders. Hy het ’n keuse gehad. En nogtans het Hy, uit eie vrye wil, besluit dat dit die moeite werd is om gebore te word in hierdie wêreld van ons.
Dit vertel natuurlik vir ons hoe geweldig lief God ons het, soos Joh 3:16 sê. Dit vertel vir ons hoe kosbaar ons vir God is. Maar verder: As die Seun van God dit die moeite werd geag het om aarde toe te kom, mens te word, soos jy en ek te word, dan moet ons mos met nuwe oë na hierdie lewe en na ons eie menswees kyk! Dan is dit mos die moeite werd om te lewe, dan moet ons mos ophou tob oor hoe swaar en bitter en sleg dit is. Want die lewe was vir Christus goed genoeg!

3. Wat geloof is
Maar ons sien nog iets hier in die maagdelike geboorte. Ons leer nie net vir God daardeur beter ken en verstaan nie, ons sien ook wat geloof werklik is. Ons leer wat dit is wat die lewende en werkende God van ons vra en verwag.
In die lewens van Josef en Maria sien ons dat die kern van geloof nie bestaan in die uitdink en uitvoer van groot planne en idees nie, maar daarin dat jy gelowig God se wil aanvaar, al kos dit jou iets. Geloof is om jou te skik na God se wil, en daarin jou vreugde te vind, soos Josef gedoen het. Geloof beteken dat jy tot beskikking van die Here sal wees, dat Hy jou kan gebruik, soos Maria. Geloof is om ja te sê vir God en God se plan, om amen te sê op dit wat Hy sê oor jou lewe, en wil doen in jou lewe. Geloof is om God ’n vrye hand in jou lewe te gee.


Kersfees vertel vir ons dat God met hierdie wêreld besig is; dat Hy ons liefhet; dat ons vir Hom kosbaar is. Kersfees jubel dit uit dat hierdie wêreld – en ons – baie, baie spesiaal vir God is. Daarom het Hy na ons toe gekom, een van ons geword. En dit is hoekom ons in die Kerstyd verwonderd is, bly is, liedere sing, mekaar herinner aan Christus se koms.

Maar – en dit mag ons nie mis in ons voorbereiding op Kersfees nie – Kersfees is ’n fees vir gelowiges. Dit begin met gelowiges wat ja gesê het op God se aanspraak op hulle lewe, en dit kry vandag nog net regtig betekenis as ons opnuut weer ja sê op God se aanspraak op ons lewe.

So word Kersfees die fees van God se koms na ons toe, én ’n toewydingsfees waarin ons ons opnuut aan Hom oorgee.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 334

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.