Spesiale Advent-uitgawe (vervolg)

BETLEHEM. – ’n Hoogswanger vrou wat saam met haar verloofde hierheen gekom het vir die sensus, het laas nag die lewe geskenk aan ’n fris babaseuntjie, en dit boonop in ’n stal. Dit was die enigste slaapplek wat hulle kon kry.

Die trotse vader, Josef ben Mattan, sê hy gaan die seuntjie Jesus noem. Hy is baie in sy skik met die feit dat sy seun in Betlehem gebore is. “Ek is self ook hier gebore. Om te dink dat dit keiser Augustus is wat gemaak het dat ek die hele ent uit Nasaret moes kom sodat my seun in my geboortedorp die eerste lewenslig kan aanskou,” het hy kopskuddend gesê.

Die knapie het met Bybelkoerant se besoek rustig in die voerbak op strooi gelê en slaap, met sy ma, Maria, moeg maar tevrede langs die geïmproviseerde babawiegie. “Hierdie kindjie is bestem vir groot dinge,” het sy Bybelkoerant verseker. Wie is ons om met haar te stry?

  • Jy kan meer van hierdie besondere geboorte lees in Lukas 2:6-7.

 

Engele in Betlehem?

BETLEHEM. – Skaapwagters hier het die inwoners op hol met bewerings dat hulle gisternag ’n koor van engele gesien en gehoor het. Wat nog meer verbasend is, is dat die engele glo aangekondig het dat die Messias hier in die dorp gebore is, en dit boonop in ’n stal!

Bybelkoerant het die skaapwagters in die veld gaan opsoek om die storie wat hulle vertel het, eerstehands te hoor. Dit is algemene kennis dat skaapwagters se getuienis nie in ’n hof aanvaar word nie. Die manne is eenvoudig en ’n bietjie grof, om dit sagkens te stel. Dit is ook so dat hulle graag die koue van die nag verdryf met die vrug van die wingerdstok.

Wat Bybelkoerant beleef het met die besoek aan die skaapwagters, het egter glad nie ingepas by die karikatuur wat van dié geharde manne gemaak word nie; altans nie hierdie besondere groepie nie. Hulle was beslis nie vol wyn nie. Hulle was wel vol van iets anders: ’n heilige opgewondenheid. Hulle hou vol dat die engelebesoek werklik gebeur het. Dit was egter nie die grootste gebeurtenis van hulle lewe nie. Volgens hulle was hulle kortstondige besoek aan die stal waar die Messias gebore is (om nou maar hulle weergawe te vertel) só oorweldigend dat hulle nooit weer dieselfde sal wees nie.

“Dit was maar net ’n pa en ’n ma en ’n babatjie daar in die stal,” het een van hulle gesê. “Op die oog af het dit nie veel verskil van die dag toe my eie seun gebore is nie. Die ma moeg ná die bevalling, die pa trots-beskermend digby. Maar niks spoggerigs of so nie.” Hy kry ’n veraf kyk in die oë as hy voortgaan: “Tog … Daar was ’n heiligheid in daardie stal wat ’n mens kon aanvoel. Ek kry sommer weer hoendervleis as ek net daaraan terugdink.”

Sy vriende beaam sy woorde. “Daardie Kindjie het net soos enige ander baba gelyk, maar ons het net gewéét dit is ons Messias.” Hy kyk op. “U moet self gaan inloer, Meneer. U sal nie dieselfde daar wegstap nie. Dit belowe ek u.”

Of ’n hof hulle weergawe sal glo, is te betwyfel, maar dat hulle hierdie korrespondent oortuig het, is gewis.

 

 


’n Ongelooflike verhaal

Die vraag is natuurlik nie of Bybelkoerant se korrespondent, of enige ander persoon, die skaapwagters se verstommende bewerings glo nie. Die vraag is: Glo jý dit? Het dit jóú lewe onherroeplik verander, soos die herders s’n? Só verander dat daar ’n lig uit jou straal; ’n lig van vreugde, van nuut-wees, omdat daar ’n heilige vuur in jou brand oor dié Kindjie wat jou Koning geword het.

Jy kan op verskillende maniere Kersfees vier. Jy kan deel wees van die leë verspottigheid van Kersvader en sy “Ho-ho-ho.” Jy kan jouself in die skuld dompel omdat die geskenke onder die Kersboom in stapels moet staan. Of jy kan skouers optrek oor al dié lawwe vierings oor iets wat eendag, lank, lank gelede gebeur het. Dan sal hierdie maar net nog ’n Kersfees wees en sal jy met ’n leë beursie en ’n ontnugterde gevoel volgende jaar jou kop skud oor die waansin van die Kersfees-manie.

Vir gelowiges is Kersfees nie ’n geskenke-fees en ’n groot partytjie nie, hoewel ons natúúrlik fees vier en dit met geskenke vir dié wat ons liefhet, wys. Maar eintlik gaan dit in Kersfees oor die Seun van God se koms na hierdie wêreld; oor ’n hernude ontmoeting met die Hom wat mens geword het vir jou.

Maak hierdie Kerstyd genoeg tyd om jou oor Hom te verbly. Dís Kersfees!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.