Ons ken mos almal die verhaal van die Sterrekykers uit die Ooste. Hulle het nie, soos in die Kersspele voorgestel word, saam met die herders by die stal opgedaag nie. Matteus skryf dat Josef en Maria in dié stadium reeds in ’n huis gebly het, nie ’n stal nie, en hy praat van Jesus as die “Kindjie”, nie ’n baba nie. En later laat Herodes al die seuntjies jonger as 2 jaar doodmaak, wat mense laat vermoed dat Jesus toe al iewers tussen ’n jaar en twee jaar oud was.

In die ou vertaling is die sterrekykers “wyse manne” genoem. Ek lees iewers dat die uitdrukking “wyse manne” ’n oksimoron is. ’n Vrou sê dit moes liewer wyse vroue gewees het, want vroue sou gouer pad-aanwysings gevra het en dan sou hulle nie ’n jaar laat opgedaag het nie. Hulle sou betyds vir die geboorte daar gewees het om Maria met die geboorte by te staan, die stal skoon te maak, en hulle sou boonop meer praktiese geskenke gegee het, soos Pampers en formule melk en baby wipes.

Maar wie was hierdie sterrekykers? Die Grieks praat van magiërs. Hulle het van die gebied wat ons vandag Iran sal noem, gekom, en was die voorlopers tot moderne wetenskaplikes, wat alles om hulle bestudeer het, o.a. ook die sterre. Daarom vertaal die BDV dit met “sterrekenners”. In hulle bestudering van die sterre het hulle hierdie helder, onbekende ster gesien wat in die Weste skyn. Hulle het geglo dié ster in die Weste wil vir hulle iets sê, en toe het hulle begin navorsing doen. Hulle het geweet van die Jode wat uit die Weste gekom het en op ’n stadium ’n beduidende verskil in hulle geskiedenis gemaak. Julle onthou mos nog vir Daniël? Daai ou wat in die hok vol honger leeus beland het, maar die leeus het hom niks gemaak nie? En sy vriende Sadrag, Mesag en Abednego, wat nie vir koning Nebukadnesar wou aanbid nie, en toe in die brandende oond gegooi is, want hulle het, soos Daniël, gesê daar is net een ware, lewende God tot Wie hulle sal bid, en dit is die God van Israel. En later was daar mos daardie bekende koningin wat haar mense gehelp het omdat sy God vertrou het – Ester! En, so het hulle in hulle navorsing vasgestel, hierdie Jode het gewag op die koms van hulle Koning.

Ek het sommer gewonder, toe ek hieroor dink, of mense uit ons lewe en voorbeeld die pad na Jesus sal kry? As hulle oor ons rondvra om te weet wat die belangrikste goed in ons lewens is, wat ons koers bepaal, waaroor ons dink en droom en hoop – sal hulle Jesus ook daar kry? Praat jy nog oor Hom? Leef jy in navolging van Hom?

Nouja, die magiërs het die ster gesien en besef: dis die aankondiging van die koms van hierdie Koning wat die Jode verwag. En so vertrek hulle, op soek na die Koning van die Jode. En – hulle kry Hom! Want as jy met jou hele hart na God soek, sál jy Hom vind. In Jeremia 29:13 belowe God dit immers: As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.

Dalk is hier vanoggend iemand wat nog nie die Here gevind het nie. Moenie ophou soek nie!

Die geskenke wat die magiërs uithaal en voor die Kindjie neersit, het iets gesê van wat hulle oor Hom geglo het:

  • goud, want Hy is Koning;
  • wierook, want Hy moet aanbid word;
  • mirre, want daar wag ’n kruisdood op Hom.

Ons het almal in hierdie dae geskenke gekry en geskenke vir mekaar gegee, en dit is deel van ’n mooi Kerstradisie. Dalk het dit hier begin? Maar as dit waar is dat hierdie magiërs ’n tradisie begin het, moet ons hulle voorbeeld goed volg. Hulle het immers nie geskenke vir mekaar gegee nie, maar vir die Kindjie in die krip!

Daarom moet ons ook vir onsself vra: wat is die geskenk wat ek vir Jesus gee? Waarmee gaan ek Hom vereer in die jaar wat kom? In navolging van die magiërs:

  • Goud – Is Hy Koning in my lewe en besluite?
  • Wierook – Aanbid ek Hom met my hele lewe?
  • Mirre – Sterf ek aan myself sodat Hy in my kan leef?

Net ’n laaste gedagte: die magiërs is nie met dieselfde pad na hulle huise terug as dié waarmee hulle gekom het nie (vers 12). Want iemand wat voor Jesus gekniel het, kan nooit dieselfde bly nie. Alles het verander. As Jesus jou Koning is, bepaal Hý jou weë. Dit het die magiërs ook uitgevind, toe God hulle op ’n ander pad terugstuur.

Mag ek en jy in hierdie dae ander paaie begin loop omdat ons voor die Kindjie in die krip gekniel het. En mag ons in die jaar wat voorlê, op dié nuwe paaie blý loop, God se paaie, die pad agter Jesus aan, omdat Hy die Koning van ons lewe is!

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 599

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.