JERIGO. – Die toenemende onsekerheid en spanning oor die Israeliete se planne is besig om sy tol te eis. Volgens ’n paleiswoordvoerder het koning Sefo en genl. Logbar gister ’n hewige woordewisseling gehad oor die generaal se hantering van die situasie. Bronne na aan die koning praat selfs van ’n vertrouensbreuk.
Blykbaar is die koning ontevrede omdat genl. Logbar nie die Israeliete aanval nie. Die Israeliete se kamp by Gilgal is te naby Jerigo om gemaklik te voel.
Volgens die verkenners wat die kamp se bewegings monitor, is dit nou die ideale tyd om die vyand aan te val, aangesien al die manlike Israeliete op die oomblik buite aksie is. Hulle is glo gister besny en is dus vandag op hulle kwesbaarste. Elke dag wat genl. Logbar die aanval uitstel, gee die Israeliete kans om te herstel. Die generaal hou egter voet by stuk dat ’n oorhaastige aanval net die stad se probleme sal vererger.
- Lees van die besnydenis by Gilgal in Jos. 5:2-9.
MAN VERTEL VAN RARE ERVARING
JABBOKSPRUIT. – ’n Man het laasnag ’n rare ondervinding gehad. Hy het die hele nag lank met ’n vreemdeling gestoei, en in die proses ’n lam heup opgedoen. Eers teen dagbreek vanoggend het hy ontdek dat dit met God was wat hy geworstel het.
Die man wat dié noue ontkoming gehad het, is Jakob seun van Isak. Hy het pas teruggekeer uit Haran, waar hy vir twintig jaar as balling gewoon het.
Sielkundiges is maar bra skepties oor die man se bewering dat hy met God gestoei het. Hulle wys daarop dat Jakob die laaste tyd baie gespanne is in afwagting op sy herontmoeting met sy tweelingbroer, Esau. Hy het juis twintig jaar gelede die land verlaat om die wraak van Esau te ontwyk. Hy het Esau na bewering destyds uit sy eers geboortereg gekul.
“As ék met so ’n swaard oor my kop gelewe het, sou ek seker ook allerhande nagvisioene en hallusinasies gehad het. Dis niks anders nie as ’n skuldige gewete wat so maak,” het een sielkundige wat om professionele redes anoniem wil bly, aan Bybelkoerant gesê. Die sielkundige kan egter nie ’n verklaring vir Jakob se lam heup gee nie.
Jakob het intussen vanoggend vertrek om sy broer te ontmoet. Na verneem word, trek Esau hom tegemoet met vierhonderd gewapende manne by hom. Dit lyk nie of dit ’n heuglike weersiens sal wees nie.
- Lees van Jakob se worsteling met God in Gen. 32.
Aäron en sy seuns as priesters gewy
SINAI. – Dit was ’n aandoenlike oomblik toe Aäron, broer van die Israelitiese leier, Moses, gister die volk vir die heel eerste keer as hoëpriester geseën het.
Dié seënbede sluit ’n week lange wydingseremonie af waarin Aäron en sy seuns op baie plegtige wyse as priesters van God gewy is.

Met huiwering en ontsag
Ek het eenkeer as jong predikant die ordening van ’n proponent bygewoon. Na die bevestiging het al die predikante vorentoe gegaan om deel te hê aan die handoplegging. Almal het hulle hande op sy kop gesit en die predikant wat hom bevestig het, het roerend vir hom gebid.
Toe staan die nuwe dominee van sy knieë af op. Vir die eerste keer in sy lewe het hy as geordende leraar van die kerk die voorreg gehad om op die kansel te klim om die seën oor die gemeente uit te spreek. Ek onthou nou nog my teleurstelling toe hy die kanseltrappies twee-twee uitwip, sonder om eers te gaan staan om te bid. En sy eerste woorde vanaf die kansel was – ’n grappie.
Die wyding van Aäron en sy seuns as priesters vertel van ’n heel ander gesindheid. ’n Nuwe bestaan voor God breek immers aan, en dít betree jy met huiwering en in ootmoed. Dit is ook die rede waarom die Israeliete, voordat hulle enige iets anders in die Beloofde Land doen, hulleself aan God wy en só die hoofstuk van hulle ongehoorsaamheid in die woestyn aflê.
Om hom van sy verlede en sy bedrog te ontworstel, het Jakob ’n hele nag lank met God gestoei. Tóé eers kon hy sy erfenis – die Beloofde Land – en sy taak as draer van God se beloftes opneem. En hy was daarná nooit weer dieselfde nie.
Elke gelowige het so ’n “Jabbokstryd” van tyd tot tyd nodig: ’n tyd van besinning, van nuwe toewyding, ’n tyd van stil word voor God, van worsteling met Hom om te ontdek waar jy inpas in sy Raad. Hier by die wisseling van die jaar en dekade is dit só ‘n tyd.
Los maar die ou lysie van nuwejaarsvoornemens. Ons hoef net één te hê: nuwe toewyding aan God. Dan sal ons met minder bravade, maar met groter oorgawe, ons roeping kan uitleef.
Views: 7