Lees Matteus 2:1-18

Hierdie verhaal pas glad nie so lekker in in hoe ons oor Kersfees dink nie, nie waar nie? Ons wil hoor van die sterrekykers wat hulde bring, ja, en van die herders wat kom kyk het na die Kindjie in die krip, en die engele wat God prys en sing: Eer aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde …

Maar niks van moord in die Kerstyd nie, asseblief, wat nog te sê kindermoord! Daarom blaai ons maar by dié verhaal verby, want ons wil nie daarin dink nie, liefs nooit nie, maar beslis nie in die Kerstyd wat veronderstel is om ’n tyd van vrede en welbehae te wees nie!

Hoekom sluit Matteus hierdie verhaal by sy Evangelie in? Sekerlik omdat dit regtig gebeur het. Maar hy kon dit ook uitgelos het, soos die ander evangeliste, en net van die mooi en die aandoenlikheid van Jesus se geboorte vertel het.

En dan hierdie opmerking in vers 3: “Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld.” ’n Mens kan verstaan dat koning Herodes ontsteld was om te hoor daar is ’n kind gebore wat as die koning van die Jode bekend staan. Herodes was immers die koning. Maar hy was ’n gehate koning, nie ’n gebore Jood nie, en daar was geen liefde tussen hom en die Joodse volk nie. Daarom was hy agterdogtig oor dié kindjie wat gebore is, want dit het ’n bedreiging vir sy dinastie ingehou. Hy was nie gemaklik met vreemde aanspraakmakers op sy troon nie. Om die waarheid te sê, hy het drie van sy eie seuns laat vermoor omdat hy in hulle ’n bedreiging gesien het! Daarom dat hy sy moordbendes na Betlehem stuur om enige moontlike aanspraakmaker op sy troon uit die weg te ruim. Daar is immers net een troon in Jerusalem, en daar kan net een koning wees.

So: Herodes se optrede was te verwagte. Hy was nie ’n gelowige, godsdienstige Jood nie en het daarom geen erg in die Joodse verwagtings van ’n Messias gehad nie. Maar die hele Jerusalem was saam met hom ontsteld, vertel Matteus ons. Die hele Jerusalem! Almal Jode, wat gewag het dat die Messias moet kom!

Ek stel my voor dat al die Jode van destyds gewag en gehoop en gebid het dat God sy Messias moet stuur om hulle uit die mag van Herodes die Romeine moet verlos. Ek stel my voor dat hulle opgewonde onder mekaar gepraat het oor die voorspellings van die profete, dat God sy Messias sal stuur. Hulle het gedroom oor hoe wonderlik dit sal wees as hulle vry is, los van die vreemde regeerders wat hulle wurg.

Maar God se antwoord moet tog net asseblief nie hulle wêreld omkrap nie. Dis so ’n delikate politieke balans, het die Joodse geestelike leiers seker gereken. Dit is moeilik om Herodes tevrede te hou. Dié storie van ’n koning wat gebore is, gaan net die vrede verstoor. Moontlik kan dit hulle eie posisies van bevoorregting en politieke mag in gedrang bring. Dinge werk nou wel nie so wonderlik nie, maar daar is darem ’n mate van rus en vrede. Los dit tog net asseblief. Dis hoe die priesterhoofde en die familiehoofde, die lede van die Joodse Raad, waarskynlik geredeneer het. Hulle het nie nou ’n stok in die wiel nodig nie.

Dan was daar die gewone mense, en hulle was óók nie opgewonde oor die nuus nie, want enige iets wat Herodes kwaad maak, gaan op hulle koppe afkom: meer belasting, of vergelding van onskuldige bloed. So asseblief, menere Sterrekykers, gee net pad en los ons in vrede. Ja, ons verlang na ’n Messias, maar nie een wat ons lewens gaan omkrap nie. Die Messias wat ons wil hê, moet een wees wat vir ons rus en vrede en voorspoed bring.

Die vraag is: Wie is JOU koning? Want die antwoord wat jy daarop gee, bepaal hoe jy lewe.

Dit is hoekom Matteus reg aan die begin die berig oor Herodes se kindermoord in sy Evangelie invoeg, sodat ons moet kies: ek en my eie dinge, of Jesus. En as ons Hom kies, moet ons nie dink dis ’n wonderlike romantiese pad waarop ons gaan nie. Jy kan nie in ’n gemakstoel sit as jy Jesus wil volg nie. Jy kan nie jou eie kop volg as jy Jesus wil volg nie. Jy kan nie in wees by die wêreld as jy Jesus volg nie. Dít wil Matteus ons laat verstaan.

Gelukkig is dit nie al wat Matteus ons vertel nie. Hy vertel nie net van die swaar nie. Hy vertel ook van God se ongelooflike voorsiening; hoe Hy die sterrekykers in ’n droom waarsku, en vir Josef, sodat hulle Herodes se moordbendes kon ontwyk. En dit is óók deel van die Kersverhaal: as jy Christus volg, is jy nie uitgelewer aan die Herodesse van hierdie wêreld nie; is jy nie ’n magtelose slagoffer van Satan nie. Want as jy Christus volg, leef jy onder God se beskerming. Jesus het self belowe dat Hy by ons is. Hy is Immanuel. En in Joh 10:28,29 verseker Hy ons dat niemand ons uit sy hand óf die hand van die Vader kan ruk nie.

Kersfees is nie ’n verhaal van maanskyn en rose nie, want dit is ’n verhaal wat vertel van God se besigwees in ons wêreld, en van die Bose se stryd om God se werk te verongeluk. Maar Kersfees vertel dat God die oorwinnaar is. Dáárom kan ons juig en bly wees.
Amen.

image_pdfimage_print

Views: 362

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.