JERUSALEM. – ’n Priester wat sy stamboom tot op die hoëpriester Aäron kan terugvoer, het gister uit Babel hier aangekom ná ’n reis van vier maande.
Dié priester is Esra seun van Seraja. Plaaslike inwoners is baie opgewonde oor sy koms. Nie alleen is hy ’n geleerde man wat oor ’n besondere kennis van die wet van God beskik nie, hy het ook volmag van koning Artasasta van Persië om die mense van Juda en Jerusalem in die wet van God te onderrig. Daarby het die koning dit aan hom opgedra om regeerders en regters in die hele Wes-Eufraatgebied aan te stel.
Vir die sukkelende Israelitiese gemeenskap hier in Jerusalem kon priester Esra kwalik op ’n meer geleë tyd gekom het. Noudat hulle na ’n byna bomenslike poging daarin kon slaag om die tempel in weerwil van felle teenkanting te herbou, is die tyd ryp vir iemand om die mense opnuut te leer wat die God van Israel van sy volk verwag. Vir hierdie taak is die priester Esra uitnemend geskik.
- Lees van Esra se koms in Esra 7.
Eerste paasfees in Kanaän feestelik gevier
GILGAL. – Dit was met uitbundige vreugde en diepe dankbaarheid dat die Israeliete gisteraand vir die eerste keer die paasfees op die bodem van die beloofde land kon vier.
Die fees herdenk die wonderbaarlike verlossing wat die Here God bewerk het toe Hy in Egipte al die eersgeborenes van die land laat sterf het. Die Israeliete het die dood vrygespring as hulle die bloed van ’n lammetjie aan hulle deurkosyne gesmeer het. Die slag en eet van ’n lam, die sogenaamde paaslam, vorm daarom die kern van hierdie gewyde fees. Verder eet die feesgangers tydens die paasfees ook net ongesuurde brood, ter herinnering aan dié nag destyds in Egipte toe hulle so haastig die land verlaat het dat daar nie tyd was om deeg in te suur nie.
Die feit dat die meeste mans nog seer was na die besnydenis drie dae gelede, het niks afbreuk aan die vreugde van die fees gedoen nie. Party Israeliete was wel ontsteld toe hulle vanoggend geen manna kon vind nie. Manna was die afgelope veertig jaar in die woestyn die volk se stapelvoedsel. Die Israeliete se leier, Josua ben Nun, het egter gesê hulle moenie ontsteld wees oor die manna nie, en bygevoeg: “Die land Kanaän het oorgenoeg kos vir ons almal. Ons het nie meer die manna nodig nie.”
- Lees van die eerste paasfees in Jos. 5:10-12.
HUTTEFEES IS DIE FEES VAN GOD SE VOORSIENING
Elke jaar stroom duisende Jode na Jerusalem vir die huttefees. Bybelkoerant het met rabbi Nikodemus gaan gesels oor die agtergrond en gebruike van dié besondere fees.
Die huttefees is saam met die paasfees en die pinksterfees een van die drie groot feeste op die godsdienstige kalender van Israel. Dié fees roep die verblyf in die woestyn na die uittog uit Egipte in herinnering. Daarom bly die feesgangers vir ’n week lank in hutte van takke en blare. Omdat dit ’n fees is waarin God se besondere voorsiening vir sy volk tydens hulle woestyn verblyf gevier word, is dit ’n vrolike fees. ’n Ander kenmerk is die groot aantal offers wat tydens die feestyd gebring word.
Allerlei gebruike het mettertyd ontwikkel. Een hiervan is die uitgiet van die water. Elke dag van die fees skep die hoëpriester water met ’n goue kom uit die Siloamfontein. Die water word dan met ’n plegtige optog na die tempel gebring. Onder trompetgeskal loop die priester een maal om die altaar, waarna hy die water op die altaar uitgiet. Op die laaste dag van die fees, ook genoem die groot dag, loop die priester sewe maal om die altaar voordat die water oor die altaar uitgegiet word. Só word die volk simbolies herinner aan die water wat God op die trek deur die woestyn voorsien het.
- Lees van Jesus se betrokkenheid by die huttefees, en hoe Hy hierdie ryke simboliek op Homself toegepas het, in Joh. 7:10-39.

God voorsien
God is die Een wat voorsien in al ons behoeftes. Daarvan spreek die drie Skrifgedeeltes op hierdie bladsy oorvloediglik. In die woestyn het Hy vir sy volk voorsien met manna en kwartels en water – selfs uit ’n rots. Toe hulle in Kanaän kom, hou die manna op, want daar het Hy weer op ’n nuwe wyse voorsien.
In elke nuwe omstandigheid voorsien Hy. So het Hy deur die eeue ook mense voorsien, soos die rigters, en later die konings en profete, en priesters soos die begaafde Esra. Uiteindelik voorsien Hy ’n Verlosser, sy eie Seun, en ’n Voorspraak, die Heilige Gees, sodat ons lewe vars en sprankelend kan wees, soos strome lewende water.
Hy sal ook vandag vir jou voorsien. Dit is die evangelie.
Views: 3