Dis vandag die tweede Sondag van 2020; ons is in ’n nuwe jaar en dekade, met al die nuwe moontlikhede wat dit inhou. Baie mense het natuurlik ook nuwe voornemens vir wat hulle in dié jaar wil bereik; ideale en doelwitte wat hulle vir hulle stel. Soos die vrou wat in Februarie gesê het haar voorneme was om 10 kg gewig te verloor, en sy het nog net 13 kg om te gaan.

Nuwejaarsvoornemens is ’n bietjie “overrated”, soos die Engelsman sal sê. In dié verband wil ek graag die volgende video’tjie wys; dalk het julle dit al gesien, maar dit bly vir my oulik.

Wat is jóú nuwejaarsvoorneme?

Dalk is dit omdat ek nie meer in die eerste helfte van my lewe is nie, maar ek het nie meer spesiale voornemens vir die nuwe jaar nie. Ek het wél ’n oorkoepelende voorneme of ideaal of doel wat ek nastreef, maar dit het min met die nuwe jaar te doen. Dit is ’n lewensfokus, die dryfkrag van my bestaan, en dit is om nader aan die Here Jesus te groei. Soos Paulus in Filippense 3:10-11 geskryf het: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Wat is jóú een groot begeerte? Wat dryf jou? Watter ideale het jy? Natuurlik het ons nie almal dieselfde soort drome vir ons lewens nie. En dis ook reg so, want ons is elkeen ons eie mens. Maar daar is een groot voorneme of begeerte wat elke gelowige behoort te hê, en dit is ons verhouding met Christus. As jy oor jou lewe dink, oor jou drome, en die Here is glad nie deel daarvan nie, is dit tyd om weer te dink!

Ek dink dit is veelseggend dat die leesrooster wat kerke gebruik om te bepaal wat op ’n Sondag uit die Bybel gelees word, vir elke Sondag ’n Evangelie-teks ook het. Want as Jesus ons fokus is, moet ons passie wees om meer van sy lewe en sy woorde in ons eie lewens te assimileer. Al wat ek wens, is om Christus te ken …

Die leesroosterteks vir vandag gee as Evangelie-teks aan die Matteus-weergawe oor die begin van Jesus se openbare bediening op aarde, wat amptelik afgeskop het met sy doop. Veral in die Oosterse kerke maak hulle baie van hierdie amptelike begin. 6 Januarie is Epifanie-fees, die tyd in die kerkjaar wanneer ons dit herdenk dat Christus sy werk op aarde begin het. Die Griekse woord epifanie beteken “verskyning”. Jesus het op aarde verskyn, sigbaar geword, om met sy werk te begin.

Dit is natuurlik ’n vraag hoekom dit hoegenaamd nodig was vir Jesus om gedoop te word. In ons gelese gedeelte weier Johannes aanvanklik om Jesus te doop; hy sê vir Jesus dat dit verkeerd-om is – Jesus moet hóm eerder doop. Want die doop as teken van die afwas van die ou, vuil lewe en die begin van die nuwe lewe is mos nie van toepassing op Jesus nie!

Ek dink daar is veral drie belangrike dinge wat by Jesus se doop gebeur. Natuurlik het Hy nie nodig gehad dat sy sonde afgewas word nie. Met sy doop sê Jesus eerder dat Hy Hom vereenselwig met ons en met die stukkendheid van ons bestaan. Hy sê daarmee Hy is regtig Immanuel, God met ons, deel van ons lewe, deel van ons wêreld. Daarom wil Hy gedoop word, want Hy was volledig mens, soos jy en ek.

Die tweede belangrike ding wat by Jesus se doop gebeur, is dat Jesus as ’t ware by sy doop deur die Vader gelegitimeer word; bevestig word as die Seun van God. Daarom praat die Vader uit die hemel met Hom, net toe Hy uit die water opkom: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Die derde belangrike ding wat gebeur, is dat die Gees op Jesus gekom het. Ek moet erken dat ons hier met ’n reusagtige misterie te doen het. Vader, Seun en Gees is tog één. So hoe ons hierdie gebeurtenis moet verstaan, is nie vir my duidelik nie, behalwe dat ons moet sien dat Jesus van die begin van sy optrede af deur die Gees gelei is. En die heel eerste ding wat die Gees doen, is om Jesus in die woestyn in te lei, sodat Hy daar in afsondering oor sy roeping en verbintenis met sy taak verder kan nadink en deurdink.

Matteus help ons om iets van Jesus se denke hieroor te verstaan. Hy vertel van ’n gesprek tussen Jesus en Johannes vóór Jesus se doop. As Johannes teëstribbel omdat hy meen dis onnodig dat Jesus gedoop word, antwoord Jesus só (Matt 3:15): “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Van die begin van Jesus se openbare bediening is dit sy een groot fokus: om aan die wil van God te voldoen. Daarom hoor ons Hom ook in Getsemane bid: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matteus 26:39).

Dís waaroor Jesus se lewe gegaan het: God se wil. En as ek en jy Hom wil volg, sal ons ook soos Hy ons geleer het, bid: Laat U wil geskied. Laat U verheerlik word in my. Of soos Paulus gesê het: Al wat ek wens, is om Christus te ken en aan Hom gelyk te word.

Dit is hoekom ek gesê het, as jy oor jou lewe en jou roeping dink en Jesus het nie alles daarmee te doen nie, sal jy weer moet dink. Want dit is hoekom ons aan God behoort: sodat ons Hom kan verheerlik en vir Hom kan leef.

Matteus wil ons laat sien dat Jesus se roeping begin het toe Hy gedoop is. Dit is waar die Vader Hom bevestig het, en waar die Gees op Hom gekom het. Dit was ’n beslissende oomblik in Jesus se lewe.

Ek en jy is ook gedoop. God drie-enig het Hom op daardie dag aan jou verbind om jou Vader te wees wat vir jou sorg, om jou Verlosser te wees, om deur sy Gees ook vir jou te lei. Daarom wil ek jou uitdaag om jouself opnuut weer vir Hom te gee sodat Hy jou van nuuts af op Jesus kan rig.

image_pdfimage_print
Volg my

Kry kennisgewings

Pin It on Pinterest

Share This