JERUSALEM. – Nikodemus, ’n vooraanstaande Fariseër en lid van die Joodse Raad, is vanoggend na die hoëpriester Kajafas se ampswoning ontbied om te verduidelik waarom hy die omstrede rabbi Jesus van Nasaret besoek het. Rabbi Jesus word deur die Joodse Raad as ’n verraaier en godslasteraar beskou.
Die gewraakte besoek het een nag verlede week in die grootste geheimhouding geskied. Dit is nie bekend wat die inhoud van die samesprekings was nie, maar die vermoede bestaan dat Jesus simpatie vir sy saak onder die leiers van die gemeenskap probeer werf.
’n Woordvoerder van die hoëpriester het by navraag gesê as Nikodemus nie ’n bevredigende verduideliking vir sy optrede kan gee nie, hy heel moontlik sy setel in die Joodse Raad sal verloor. “Hoëpriester Kajafas beskou die saak in ’n baie ernstige lig,” het hy gesê.
- Lees van dié nagtelike besoek in Joh. 3:1-21.
Jerigo sal nie bly staan, sê Israel-leier
GILGAL. – Die stad Jerigo se dae is getel. Só het Josua ben Nun, die leier van die Israeliete, gister in ’n toespraak aan die Israeliete gesê.
Josua het die volk toegespreek op die vooraand van hulle aanval op Jerigo, die eerste Kanaänitiese stad wat hulle aandurf sedert hulle enkele dae gelede die Jordaan oorgesteek het. Hy het gesê dit is nie uit vertroue in die vermoëns van die Israelitiese leër dat hy oortuig is van die sukses van hulle poging nie. Sy oortuiging spruit uit die sekerheid dat die Here die stryd vir hulle sal voer.
Volgens hom het hy die vorige nag ’n geheimsinnige man net buite Jerigo se poort ontmoet. Die man het homself bekend gestel as die leëraanvoerder van die Here. Hy was besig om die stad Jerigo te verken toe die ontmoeting plaasgevind het.
“Ek het my boeglam geskrik toe die man skielik uit die nagdonker voor my verskyn, nogal met ’n ontblote swaard in sy hand. Hy het my egter dadelik gerus gestel dat hy nie my vyand is nie,” het Josua gesê. Die boodskap wat die leëraanvoerder kom afgee het, is dat die land Kanaän gewyde grond is. Josua moes toe, soos sy voorganger Moses destyds by die brandende doringbos, sy skoene uittrek.
“Hierdie land behoort aan die Here God. Hy het dit klaar vir ons verower. Ons moet dit net in ontvangs gaan neem,” het Josua onder luide toejuiging gesê.
Na verwagting sal Josua die aanvalsplan later vandag met die leiers bespreek.
- Lees van hierdie nagtelike ontmoeting in Jos. 5:13-6:5.
SKATRYK HANDELAAR BENOEM SLAAF AS ENIGSTE ERFGENAAM
KIRJAT-ARBA. – Die skatryk donkiehandelaar en boer, Abram seun van Tera, het gister hier in die stadspoort amptelik kennis gegee dat hy sy slaaf Eliëser as enigste erfgenaam benoem.
Die vyf en tagtigjarige Abram en sy beeldskone vrou Sarai (75) woon al geruime tyd naby die stad op die grond van die Amoriet Mamre. Hy was onlangs in die nuus toe hy met die hulp van Mamre en sy broers Aner en Eskol die ongelooflike vermag het deur die leër van Kedorlaomer te verslaan om sy nefie, Lot ben Haran van Sodom, te bevry.
Leiers van die stad wat getuie was toe Abram sy erfgenaam benoem het, is verbaas dat hy nie sy nefie Lot as erfgenaam gekies het nie. Mamre het egter gesê dat Abram baie ongelukkig is oor die feit dat Lot in Sodom, buite die grense van die land Kanaän, woon.
Kenners van die familiereg het gister druk bespiegel waarom Abram juis nóú sy erfgenaam aangewys het. Hulle wys daarop dat Abram nog nie te oud is om ’n erfgenaam te verwek nie. “As ek hy was, sou ek nog ’n vrou of twee getrou het, of dalk ’n slavin as byvrou geneem het om vir my ’n erfgenaam te gee. Dis tog nie asof hy dit nie kan bekostig nie,” het ’n omstander opgemerk.
Abram was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
- Lees van Abram se worsteling oor sy kinderloosheid in Gen. 15.
Sola Gratia
Dat alles – ’n nageslag, die beloofde land, die lewe sélf, die verlossing – Gód se werk is, dit moes die mens van die begin af leer. Abram, Josua, Nikodemus, ons: ons lewe by die grasie Gods. Hiervan skryf Paulus ook in Ef. 2:8-10: “Julie is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is …”
Wat ’n troos: God sal self in my lewe sy koninkryk laat kom. Gee sy Heilige Gees dan vandag die kans!
Views: 4