Eks 3

Jy ken waarskynlik die verhaal van Moses by die brandende doringbos. Ons lees daarvan in Eksodus 3. Daardie dag het vir Moses soos enige ander dag begin. Hy het sy skoonpa Jetro se kleinvee opgepas, en toe kom hy by die berg Horeb op die brandende bos af. Dit was vir hom ’n baie interessante verskynsel, dié bos wat brand maar nie uitbrand nie. Eers toe hy nader gaan om ondersoek in te stel, kom hy agter wat eintlik aan die gebeur is: God het hom kom ontmoet. Dis tóé dat God uit die bos na hom roep (Eks 3:5): “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”

En dis waar Moses se reis met God begin: waar hy op sy knieë gaan, skoene uitgetrek, in die teenwoordigheid van die heilige God.

Ek wonder partykeer oor óns lewe voor God. Ek wonder of daar in ons lewe voor Hom genoeg heilige oomblikke is, waar ons tot stilstand kom, ons voor Hom neerbuig, en Hom toelaat om met ons besig te raak. Het jý sulke tye? Tye in God se teenwoordigheid, waar jy deur sy heiligheid oorweldig word?

Ek vra nie of jy jou Bybel lees nie. Ek vra nie of jy gereeld bid nie. Ek vra nie of jy kerk toe gaan nie. Ek vra of jy in God se teenwoordigheid stil raak, sodat Hy met jou besig kan wees. Sodat iets van sy plan met jou lewe vir jou duidelik kan word.

Ek dink ons probleem is dat ons te besig is om stil te word, of dalk te behep met onsself om God te kan hoor. Ons is net eenvoudig te besig, te in beheer, selfs wanneer ons stiltetyd hou. Ons lees ons Bybel, ons lees die dagboek-stukkie, ons bid en vra die Here moet die dag met ons wees en sorg … Maar in al ons besigwees begroot ons nie tyd om net stil te word, dat Hy kan praat nie. Dit is hoekom ’n mens dikwels ná jou stiltetyd half onvergenoegd voel, en wens jy kon beter met God kontak gemaak het: omdat jy van jou stiltetyd ’n monoloog maak.

Daarom wil ek jou aanmoedig: volgende keer as jy stiltetyd hou, ruim ’n tydjie in waar jy net stil kan wees voor God. Dink na oor wat jy in die Bybel en in jou dagboek gelees het, vra jouself wat God vir jou sê uit sy Woord, en oordink hoe jy daarop gaan reageer. Trek die skoene van jou besige lewe vir ’n rukkie uit en laat God toe om oor te neem. Anders gaan jy sukkel om God mooi te hoor.

Dit het vir Moses gewerk. Dit werk vir my. Ek is daarvan oortuig dat dit vir jou ook sal help.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.