Stede van Kanaän skep moed na verrassende nederlaag
Van ons Ou Testament redaksie
GILGAL. – Die Israelitiese kamp is tot stilstand geruk deur die skokneerlaag gister teen die relatief klein stadjie Ai. Die voorlopige getal gesneuweldes staan op ses en dertig.
Vir die Israeliete is dié nederlaag inderdaad slegte nuus. Na hulle oorwinning oor die sterk vestingstad Jerigo vroeër vandeesmaand was die moraal van die Kanaäniete op ’n laagtepunt, en het dit gelyk asof die Israeliete eenvoudig bo-oor hulle vyande gaan loop. Nou blyk dit dat die Israeliete tog nie so onoorwinlik is nie. Dit het die hoop laat opvlam dat die sterker stede van Kanaän tog daarin sal kan slaag om die Israelitiese inval af te weer. Onderhandelings tussen die konings van die groter stede om ’n verenigde front teen die Israelitiese bedreiging te vorm, gaan glo ook nou weer hervat word. Na die verowering van Jerigo het die konings uit verslaentheid die onderhandelings opgeskort.
Ons korrespondent in die Israelitiese kamp berig dat die volk se moed gebreek is. Hulle leier Josua het sy klere geskeur toe hy van die neerlaag verneem, en hy en die volksleiers het ’n routyd vir die hele volk aangekondig. Intussen word beskuldigings oor en weer gemaak oor wie vir die neerlaag verantwoordelik is. Party sê die verkenners het ’n swak aanbeveling gedoen toe hulle gesê het drieduisend soldate is genoeg om die stad in te neem. Ander beskuldig Josua weer van swak leierskap en sê openlik dat so iets nie onder Moses se leiding sou gebeur het nie. Daar is ook mense wat Jahwe, die Israelitiese God, daarvan beskuldig dat Hy hulle in die steek gelaat het.
Wat ook al die rede vir die nederlaag is, die volgende paar dae gaan beslissend wees vir die toekoms van die Israeliete én vir Josua se leierskap.
- Lees van die neerlaag teen Ai en die gebeure wat daarop gevolg het in Jos. 7.
SEWENTIG PELGRIMS KOELBLOEDIG VERMOOR
MISPA. – Sewentig van ’n groep van tagtig pelgrims uit Sigem, Silo en Samaria is vanoggend hier op verraderlike wyse vermoor deur ’n bende gewapende mans onder aanvoering van Ismael seun van Netanja. Die motief vir die moord is nie bekend nie.
Die pelgrims was op pad na Jerusalem en het Mispa aangedoen om ’n welwillendheidsbesoek aan goewerneur Gedalja te bring. Hulle was in rou oor die verwoeste tempel. Sover vasgestel kan word, het Ismael onder die voorwendsel dat hy hulle smart oor die tempel deel, die pelgrims in die stad ingelok en toe vermoor. Die lyke het hy in ’n put gegooi. Die orige tien het hulle losgekoop met kosvoorrade wat in die veld versteek is.
Plaaslike inwoners is hewig ontsteld oor die grusame massamoord en eis dat goewerneur Gedalja die boosdoeners summier moet teregstel. Hulle sê sulke wetteloosheid mag nie langer geduld word nie. “Ons het nou genoeg bloedvergieting vir ’n leeftyd aanskou. Eers was dit Nebukadnesar se soldate, en nou dít! Wanneer gaan dit dan ophou?” het ’n bejaarde inwoner gevra.
Dit is nie bekend waar die goewerneur hom tans bevind nie. Hy is twee dae laas gesien, en teen druktyd kon hy steeds nie vir kommentaar opgespoor word nie.
- Lees van hierdie tragiese stuk geskiedenis, en ook van die lot van Gedalja, in Jer. 40:7-16 en 41:1-9
Berou en vergifnis
Dit was ’n ou gebruik in Israel om as teken van diepe rou of verootmoediging jou klere te skeur, soos Josua na hulle neerlaag teen die stadjie Ai, en soos die pelgrims wat na Jerusalem op pad was (Jer. 41:5).
Natuurlik het God ’n behae daarin dat ons ons oor ons sonde sal verootmoedig. In Ps. 51:19 staan: “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.” Maar dan mag dit nie net ’n uiterlike vertoon wees nie. Dáárin het God geen behae nie, soos Hy dit by monde van sy profeet Joël onomwonde stel (2:13): “Skeur julle harte, nie julle klere nie.”
Ek wonder soms of die erg formele gebedsfrase “en vergewe genadiglik al ons sondes” werklik spreek van ’n ootmoedige gees? Kan sonde met ’n paar woorde afgemaak word, of vra dit ’n gebroke hart en ’n bekeerde lewe?