Van ons Nuwe Testament redaksie
PAFOS (SIPRUS). – Die bekende Joodse towenaar-profeet Barjesus, ook bekend as Elimas onder sy Griekse vriende, het gister hier in die paleis van die goewerneur blind geword. Hy moes deur vriende aan die hand huis toe gelei word.
Die voorval het plaasgevind toe goewerneur Sergius Paulus twee Joodse predikers genooi het om hulle leerstellinge aan hom bekend te kom stel. Die twee, ene Barnabas en Saulus, is aanhangers van ’n nuwe Joodse sekte wat hulleself “Mense van die Weg” noem. Hulle is al geruime tyd op die eiland om aanhangers vir hulle sekte te werf.
Sover vasgestel kon word, wou Barjesus, wat al jare lank ’n vertroueling en raadgewer van goewerneur Sergius Paulus is, verhoed dat die goewerneur onder die sekte se invloed kom. Dit was tóé dat Saulus die towenaar skerp aangespreek het en hy blind geword het.
By navraag het die goewerneur ontken dat ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die twee predikers ingestel gaan word. Volgens hom het die predikers hom verseker dat die blindheid net tydelik sal wees.
Die goewerneur het na die voorval ’n lid van die sekte geword.
- Lees van hierdie konfrontasie in Hand. 13:4-12.
Ai deur Israel platgevee
Triomf vir Josua ben Nun
Van ons Ou Testament redaksie
GILGAL. – In ’n dramatiese ommekeer het die Israelitiese gevegsmagte gister die stad Ai verpletter. Al twaalfduisend inwoners is gedood, en die stad is tot op die grond afgebrand. Die koning van Ai is gevange geneem en later aan ’n boom opgehang. Ook die naburige stad Bet-El, wat Ai te hulp gesnel het, is verower.
Dié oorwinning kom slegs enkele dae ná die vernederende nederlaag wat Israel teen Ai gely het. Anders as by die vorige geveg, het Josua hierdie keer persoonlik die aanvalsmagte gelei. Militêre kenners het die oorwinning beskryf as “meesterlik” en “briljant”. Die meesterbrein agter die oorwinning, Josua seun van Nun, het egter ten sterkste ontken dat die eer vir die oorwinning hom toekom. “Die eer kom nie my toe nie, en selfs ook nie die soldate wat so dapper geveg het nie. Die oorwinning behoort aan ons God, Jahwe. Hy het vir ons geveg,” het Josua gesê.
- Lees hiervan in Jos. 8.
Een wat sterker is
As ’n mens deur die Bybelse geskiedenis blaai, tref dit jou telkens hoe vindingryk die duiwel is in sy pogings om God se Raad te verydel. Sy sleepsel lê al in die Tuin van Eden, en sedert Adam en Eva het baie groot name in die Bybel voor sy lis geswig. Satan is ook aan die werk in die twee gebeurtenisse waaroor vandag se berigte handel. Om die lsraeliete in hulle opmars te stuit, gebruik hy die gierigheid van Akan. En om Paulus en Barnabas se evangelisasieveldtog te laat misluk, spoor hy Barjesus aan om hulle werk in die wiele te ry.
Gelukkig sien ons nie net die sleepsel van die slang in die Bybelse geskiedenis nie. Skerper, duideliker as dié sleepsel, is die skaduwee van die Kruis, waar die Seun van God uiteindelik die duiwel ’n noodlottige wond toegedien het. In Op. 12:9 lees ons: “. . . want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi”. Daarom het die verhaal van Paulus en Barnabas nie geëindig by die moleste van Barjesus nie. Daarom het daar ná die terugslag van die nederlaag teen Ai ’n skitterende oorwinning gevolg.
God is sterker as die duiwel. Dit laat Paulus uitroep (Rom. 8:38,39): “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Daarom sal die duiwel ook in jou lewe nie kan slaag in sy pogings om jou van God te vervreem nie, al loop hy rond soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (vgl. 1 Pet. 5:8).
Is dit nie genoeg rede om vandag met oorgawe en in vreugde vir God te lewe nie?