Ons ken almal die verhaal van Jona, die koppige profeet wat vir God probeer weghardloop het en toe uiteindelik in die vis se maag beland het. Maar wat almal dalk nié weet nie, is dat Jona nie sommer ’n hierjy-profeet was nie. Hy was ’n baie suksesvolle profeet aan die Israelse hof. In 2 Kon 14:25 lees ons dat hy op grond van ’n openbaring wat hy van die Here ontvang het, aan koning Jerobeam II waardevolle raad gegee het oor hoe om Israel teen invallers te beskerm. Daarom was hy ’n gewilde man in Israel. Ek stel my voor dat mense hom op die skouer geklop het as hulle hom in die strate van Samaria teenkom, of dat koning Jerobeam hom gereeld geraadpleeg het oor belangrike politieke besluite.

Jona was ’n belangrike man, en deur hom het God sy volk Israel gehelp. Maar nou het Jona ’n probleem, want God stuur hom om in Nineve te gaan preek. Nineve was die hoofstad van Assirië, die wêreldmoondheid van destyds en een van die wreedste volke in die geskiedenis. Hulle stokperdjie was om hulle vyande op die aakligste denkbare maniere dood te maak. Maar laat ek liewer nie dáároor begin praat nie. Genoeg om te sê dat Jona elke dag saam met al die Israeliete gebid het dat die Here hulle van die Assiriërs moet bewaar. En dan het hy waarskynlik in sy kop ’n prentjie gesien van hoe God die Assiriërs vernietig, amper soos Sodom en Gomorra vroeër.

Maar nou moet hy na hulle toe gaan en vir hulle gaan preek! Hy, die belangrike volksprofeet, wat sy mense teen die vyand gehelp het, hy moet nou daardie einste vyand gaan help! Daarvoor het Jona nie kans gesien nie. Want, so dink Jona, die Assiriërs hoef g’n gewaarsku te word dat die oordeel van God op hulle wag nie. Dit sal hulle verdiende loon wees as God hulle straf! Daarom weier hy om God se bevel uit te voer. Hy klim liewer op ’n skip en vlug na Tarsis (die huidige Spanje), net mooi in die teenoorgestelde rigting as Nineve.

Jy sien, Jona het nie God se hart verstaan nie. Hy kon nie verstaan dat God vir mense kan omgee wat nie tot Israel behoort het nie. Hy was tevrede dat hy en sy mense God se seëninge ontvang. Wat met ander mense gebeur, is nie sy probleem nie.

Dis nie hoe God is nie. God kies nie mense net ter wille van hulleself nie. Hy kies mense ook ter wille van ander. Want God wil sy seën by die hele wêreld uitbring; ook by Nineve. Hoe sê Johannes 3:16 nou weer? “Want so lief het God die wêreld gehad …” Maar Jona wou daar niks van weet nie. En daarom spring hy op die eerste die beste skip en vlug.

Ek wonder hoeveel Jona’s daar in die wêreld is; mense wat bly is dat hulle God ken, maar hulle skouers optrek oor die mense om hulle wat verlore gaan.

Wat van jou?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.