Een van my geliefde professore by die Kweekskool, prof Bethel Müller, het op ’n keer in die preekkundeklas opgemerk dat hy hom dikwels verbaas oor die soort versoeke wat mense vir predikante gee oor waaroor (om nou maar nie te sê waarteen nie) hulle moet preek. Goed soos Sondag-ontheiliging, of dans (ja, in my studiejare was dit nog as ’n sonde beskou) of dobbel. Hy sê toe wat hom pla, is dat sulke soort versoeke nie kom van mense wat hulleself aan dié sondes skuldig maak nie, maar van mense wat ’n probleem daarmee het dat ander mense dit doen, want hulle verwag van die predikant om (ander) mense op hulle plek te sit, sodat hulleself uit die erediens kan loop en kan sê: “Vanoggend het die predikant die mense darem weer goed bygekom!”
Langenhoven het oor hierdie soort ingesteldheid gesê dat ons almal baie ywerig is vir die verbetering van ons naaste. Jesus het hieroor opgemerk dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal (Matt. 5:7). Dis immers baie makliker (en minder pynlik) om die sondes in ander mense se lewens raak te sien en te kritiseer as om hand in eie boesem te steek. Jesus het ook mos die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar vertel (Lukas 18:7-14). Lukas se verduideliking oor hoekom Jesus juis dié gelykenis vertel het, is veelseggend: “Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het …”
Jesus het ook gesê (Lukas 6:37): “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.” Is dit die grondhouding van die kerk?
Ons sing graag die lied: “Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer.” Ek wonder soms hoe ons dit regkry om dié lied met oorgawe te sing, want dikwels is dit juis in die kerk waar daar geen deernis is nie; waar mense hard hanteer word. Ek weet van ’n gemeente waar die kerkraad ’n beleid van “no tolerance” het. En my hart krimp ineen. Hoe op dees aarde het daardie kerkraad by só ’n houding uitgekom?
Ek het ook al in my eie lewe die harde kant van die kerk beleef. Toe wou ek saam met koning Dawid in 2 Samuel 24:14 gebid het: “Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van ’n mens val nie.” Mense kan baie hard en wreed wees, en dit is helaas in die kerk ook so. Ons, wat barmhartig behoort te wees soos ons Vader barmhartig is (Lukas 6:36). Soos ek Bybelse liefde verstaan, is dit ’n daad waarin dit nie om myself gaan nie, maar om die ander; waarin ek my in die ander se skoene plaas en myself afvra: as dit ek was, wat sou ek wou gehad het? Dis in elk geval hoe ek Jesus se woorde in Matt. 7:12 verstaan: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Daarom droom ek van ’n kerk waar daar saggies met mense gewerk word, soos Jesus met die vrou wat in owerspel betrap is, gemaak het (Johannes 8). Nie veroordeling nie, maar liefde en deernis en omgee. ’n Kerk waar ons met sagte oë na mekaar kyk. ’n Kerk wat ’n veilige plek is vir sondaars, want dis tog wat ons almal is. ’n Kerk wat nie daarop uit is om sonde in ander se lewe uit te wys nie, maar ’n kerk wat optree vanuit ’n diepe besef van ons almal se gebrokenheid en daarom ruimte maak vir ander, al is die “ander” nie hoe jy meen hulle behoort te wees nie.
’n Deernisvolle kerk. Dis waarvan ek droom.
Views: 89
Dankie Jaco, ek kon ‘n stuk hietvan vir iemand stuur. Dit plaas besondere perspektief op waar ons onsself in moeilike tye moet posisioneer. Mooi loop
Bly dit help, Andries. 😊✝️