As ’n mens ’n verhaal soos hierdie lees, gebeur daar onbewustelik iets met jou. Die verhaal dwing jou as ’t ware om kant te kies. ’n Mens lees die verhaal, en dan vra jy jouself af: maar waar staan ék in hierdie verhaal? Hoort ek by die skrifgeleerdes en Fariseërs? Of dalk by die vrou? Of, sekerlik, by Jesus en hoe Hy die hele situasie hanteer het?

Natuurlik skaar ons ons by Jesus, soos ek netnou vir die kinders gesê het: ons moet die klippe van veroordeling los en soos Hy met sagte hande aan mekaar vat. Hy het met deernis met die vrou gewerk, haar haar eer en waardigheid teruggegee in ’n situasie wat vir haar ’n baie traumatiese ervaring moes wees, en ’n groot verleentheid. In hierdie haglike situasie tree Jesus vir haar in die bres, en stuur haar op ’n nuwe pad, met hoop, terug toe Hy gesê het (vs 11): “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Natuurlik kan ons in dié verhaal ons ook nie van die vrou losmaak nie: in ’n sekere sin is ons almal soos sy, sondaars wat die heerlikheid van God ontbreek. As jy dít goed verstaan, kan jy óók Jesus se woorde vir jouself toeëien: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Wat ’n ongelooflike woord van bevryding! God veroordeel ons nie! En wat ’n heerlike woord van hoop, dat Hy ons op ’n nuwe pad van genade en oorwinning oor sonde stuur.

Dit bring ons by die derde groep in die verhaal: die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Ek meen die meeste van ons vind ons heel gemaklik tuis by die vrou, en by Jesus. Ons voel erg ongemaklik met die optrede van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Ons voel hulle optrede was laakbaar. Só gaan ons nie met ander om nie. Of hoe?

Toe ek oor hierdie gedeelte gedink het in die week om te hoor wat die Here in hierdie verhaal vir ons wil leer, was ek verleë om te ontdek dat ek heel dikwels in die Fariseërs se hoek is. Hoekom? Omdat ander mense dikwels nie regtig vir my saak maak nie; of in elk geval, nie saak maak soos hulle vir Jesus saak gemaak het (en nog maak) nie.

Miskien sal dit help as ek die volgende vra: Hoekom het die mense die vrou na Jesus gebring? Tog nie omdat hulle vir haar omgegee het nie! Tog nie omdat hulle oor haar sieleheil besorg was nie! Of omdat hulle hulle oor haar huwelik bekommer het nie. Dit het vir hulle selfs nie eers gegaan oor die morele welstand van die samelewing nie. Vir hulle het die vrou, en wat van haar gaan word, en hoe sy deur hulle optrede geraak word, nie eintlik saak gemaak nie. Vir hulle was sy bloot ’n middel om hulle eie doel te bereik, en dit is om Jesus by te kom.

Miskien moet ek dit weer sê, want dit is ’n belangrike punt: Vir hierdie mense het dit eintlik nie om die vrou gegaan nie. Hulle het haar gebruik, misbruik, om hulle eie doel te bereik.

Dis op dié punt dat ons dalk nie so ver van die Fariseërs se hoek is as wat ons dalk dink nie. Dikwels is ander mense vir ons bloot pionne wat ons wil gebruik ter wille van onsself. Kom ek gebruik ’n voorbeeld. Ons hoor dikwels die versugting dat die kerk weer vol moet wees. Hoekom wil ons die kerk vol hê? Is dit omdat ons omgee vir die mense wat sonder God en sonder ’n kerk tussen ons lewe? Of wil ons die kerk vol hê omdat ons dan ’n baie beter erediensbelewing sal hê?

Is ek dalk nou ’n bietjie hard op ons? As dit vir ons om die mense se sieleheil gegaan het, sou ons mos harder gewerk het om hulle in die kerk te kry en nie net gesê het ons wens hulle was hier nie!

Nog ’n voorbeeld: toe ek nog in Bloemfontein gewoon het, het ek ’n versekeringspolis by ’n man gekoop. Die man was ’n baie suksesvolle versekeringsagent wat elke jaar die topverkoper in die provinsie was. Later het ek agtergekom die polis wat hy aan my verkoop het, was nie regtig wat ek nodig gehad het nie. Maar dit het meer kommissie vir die agent ingehou. Hy het nie regtig mý belange eerste gestel nie, maar sy eie. Vir hom was ek ’n manier om geld te verdien.

En dís die vraag waarmee hierdie gedeelte ons konfronteer: Wat is ander mense vir jou? Sien jy hulle raak as mense? Hoe kyk jy na hulle?

Die nuwe kind in die klas: is hy of sy dalk net kompetisie vir jou plek in die klas of span?
Die man wat by jou kantoor instap: is hy vir jou ’n mens, of lastig?
Die klant wat by die winkel inloop: is sy vir jou ’n mens, of ’n manier om geld te maak?

Die vraag is: hoe kyk jy na ander mense; wat is ander mense vir jou. Die familiehoofde het nie regtig die vrou raakgesien nie. Hulle het in die vrou bloot ’n geleentheid gesien om punte aan te teken in hulle stryd teen Jesus. Dit het vir hulle glad nie om die vrou gegaan nie. Wat van haar moes word, skeel hulle min. Sy was maar net ’n middel tot ’n doel, húlle doel.

Hoe kyk jý na ander? Hoe dink jy oor ander? Wat is hulle vir jou?

Jesus het die vrou raakgesien, ’n mens voor Hom sien staan, iemand vir wie Hy omgegee het. Iemand wat sy liefde, sy deernis, sy ontferming nodig gehad het.

Vir my en jou gee Hy ook sy liefde en omgee. Sal ons Hom nie hierin volg nie?

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 136

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.