Van ons Ou Testament redaksie
SILO. – Die voorsitter van die grondverdelingskomitee, die priester Eleasar seun van Aäron, het vandag by ’n perskonferensie sy tevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop die land Kanaän tussen die twaalf stamme van Israel verdeel is. “Ons kyk met dankbaarheid terug, en sien hoedat die Here op ’n wonderlike wyse al ons vyande in ons mag oorgegee het, sodat ons nou in vrede die land kon verdeel. Maar ons kyk ook in die geloof vorentoe, en weet dat dié gebiede wat tans nog nie verower is nie, weldra in ons besit sal kom,” het hy gesê.
Die priester Eleasar en sy komitee het gistermiddag sy laaste opdrag afgehandel met die toekenning van stede aan die Leviete.
Die komitee, wat die sensitiewe taak gehad het om toe te sien dat elke stam in Israel sy regmatige deel van die land ontvang, het bestaan uit die priester Eleasar, die volksleier Josua seun van Nun, en ook verskeie familiehoofde uit die twaalf stamme. Die komitee moes slegs die Wes-Jordaangebied verdeel, aangesien die stamme Ruben, Gad en ’n gedeelte van die Manasse-stam destyds reeds van Moses hulle grond in die Transjordaan ontvang het. Die verdeling van die Wes-Jordaangebied is gedoen op aanbeveling van ’n subkommissie, bestaande uit drie man uit elke stam, wat die land deurgetrek en in streke verdeel het. Die verskillende streke is toe deur loting aan die oorblywende stamme toegeken.
Die stam Levi het egter nie ’n eie grondgebied gekry nie, aangesien dit belangrik is dat dié Godsmanne verspreid deur die land woon, sodat hulle die Israeliete in die godsdiens kan onderrig. Daarom het die komitee gister as laaste taak nie ’n streek nie, maar altesaam ag en veertig stede in die land aan die Leviete toegeken waar hulle blyreg en weidingsgebied tussen die ander stamme ontvang het. Die ses asielstede is onder hierdie stede, omdat die Leviete ’n baie belangrike taak het in die uitoefening van die regspraak.
Bybelkoerant wou by priester Eleasar weet of die feit dat die Kehatgroep, waaruit die priesters van Israel kom, hulle stede rondom die stamgrond van Juda gekry het, ’n aanduiding is dat die tempel moontlik eendag in Juda gebou sal word. Hierop het hy ontkennend geantwoord. “Ons weet nie waar God se tempel eendag sal verrys nie. As dit in die stamgebied van Juda is, sal dit natuurlik vir die priesters makliker bereikbaar wees. Maar daaroor het hierdie komitee geen beheer nie. God sal daaroor beskik. Tot dan bly Silo in die grondgebied van die stam Efraim die sentrale aanbiddingsplek vir al die stamme.”
- Lees hiervan in Jos. 14:1-5, 18:1-10, en 21:1-45.
MOLES BY HOFSAAL NÁ GOEWERNEUR KLAERS UITJAAG
Van ons Nuwe Testament verslaggewer
KORINTE. – In ’n vlaag van anti-Semitisme het omstanders gister hier vlak voor die regbank en in die teenwoordigheid van die goewerneur, vir Sostenes, die hoof van die plaaslike sinagoge, gegryp en aangerand. Goewerneur Gallio het hulle laat begaan.
Die voorval het plaasgevind net nadat die goewerneur die Jode uit sy hof gejaag het. Hulle het ’n mede-Jood en tentmaker van beroep, ene Paulus van Tarsus, daarvan beskuldig dat hy ’n onwettige godsdiens verkondig. Goewerneur Gallio het Paulus nie eens die geleentheid gegee om sy saak te verdedig nie. Hy het gesê dit is nie sy taak om oor godsdienstige verskille regspraak te lewer nie, en die Joodse aanklaers net daar uit die hof gejaag.
Godsdienskenners met wie Bybelkoerant gepraat het, het die goewerneur se uitspraak as ’n groot deurbraak vir godsdiensvryheid in die Romeinse Ryk vertolk, aangesien die goewerneur, wat ’n broer van die beroemde redenaar Seneca is, groot aansien in regskringe geniet. In die verlede het die Jode hulle dikwels tot die howe gewend om afwykende standpunte, en met name die Christene, te stuit.
- Lees hiervan in Hand. 18:1-17.
Voltydse bedienaars van die Woord
Paulus was nie, soos die meeste predikante vandag, ’n voltydse predikant nie. Hy het ook ’n ander beroep gehad: tentmaker, waarmee hy die geld verdien het om te kon lewe. Vandaar die term “tentmakers” vir leraars wat ook ’n ander beroep beoefen om hulle inkomste aan te vul.
Tog is daar genoeg getuienis in die Skrif dat bedienaars van die Woord die geleentheid behoort te hê om voltyds met die verkondiging van die evangelie besig te wees. Soos die Leviete wat deur Israel voorsien moes word van die nodige middele om te lewe.
Wat ’n voorreg om leraars te hê wat tyd het om Gods Woord te bedien!
Views: 1