Die dood is vir ons almal ’n vreeslike ding: ons was nog nie een daar nie. Maar die meeste van ons het al by ’n graf gestaan, en ondervind dat die dood vernietigend is: dit vernietig ’n lewe, dit breek verhoudinge plotseling af, dit bring smart.
Die dood is vir ons vreeslik. Maar het jy al gewonder hoe God oor die dood voel? Die dood wat hierdie wonderlike skepping van Hom so lelik skend. Die dood wat vir sy kinders soveel hartseer kan bring. Hoe dink Gód oor die dood?
Hier in ons gelese gedeelte kry ons so ’n klein kykie in God se hart, as Jesus, die Seun van God, by die graf van ’n vriend van Hom staan. Ons sien hier dat Jesus saam met hulle huil (33, 35, 38). Vir God is die dood van ’n dierbare nie maar net een van daardie dinge wat ook weer sal verbygaan nie. Want ons smart gryp Hom aan die hart. Daarom sê Ps 116:15: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” “Toe Jesus sien dat Maria huil,” staan dit hier, “het sy gemoed vol geskied en Hy was aangedaan.”
Ons mag maar huil by die dood van ’n geliefde. Die Here Jesus het ook by ’n graf gehuil. En Hy huil vandag ook saam met elkeen wat stukkend is.
Maar hierdie gedeelte wil vir ons meer sê. Want as Johannes hier skryf dat Jesus gehuil het, gebruik hy eintlik ’n baie sterk uitdrukking wat nie in ons Afrikaanse Vertaling so duidelik uitkom nie. In die Afrikaans staan hier: sy gemoed het vol geskiet (vs 33, 38). In die Ou Vertaling het daar gestaan: “het Hy geweldig bewoë geword”. Die BDV vertaal dit weer: “diep bewoë” en “hewig ontsteld”. Ons sou ook kon vertaal: Hy het kwaad geword, of: Hy het in opstand gekom. Jesus kom in opstand, Hy is woedend, want die dood breek God se skepping stukkend. Hy is in opstand, want dít is nie hoe God die wêreld gemaak het nie. Dit was nie sy plan dat die dood só ’n stuk hartseer in ons lewens moet wees nie.
Dáárom het Jesus na hierdie wêreld gekom: om die dood te kom oorwin! Of miskien moet ons sê: om die Bose te oorwin wat van die dood ’n wrede, verwoestende instrument gemaak het. Jesus kom in opstand teen die heerskappy van die dood, só in opstand dat Hy die dood oorwin, dat Hy self opstaan uit die dood, en ons met Hom saam! Daarom kon Hy vir Marta verseker (25,26): “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Daarom ook dat Hy aan die begin van hierdie gebeurtenis (11:4) vir sy dissipels verseker: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Só het Lasarus se dood en opstanding, meer as enige ander wonder wat Jesus gedoen het, God se mag, sy almag, getoon. Selfs die dood neem voor sý woord die wyk.
Ek het aan die begin vir die kinders gesê Jesus bring troos, want Hy huil saam met ons. Maar Jesus het nie na Marta en Maria gegaan, net maar om hulle te troos en saam met hulle te treur nie. Hy het gegaan om vir hulle hoop te gee. Om vir hulle uitsig uit hierdie stukkende bestaan te gee. Daarom sê Hy: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Jy sien, as jy in Jesus glo, is die graf nie die laaste strepie van jou lewe nie. Dan is die dood nie die laaste woord wat oor jou gesê sal word nie. Dan breek die lewe oop, breek die grense van ons lewe oop na die ewigheid, na ’n lewe anderkant die dood en graf.
Dít is wat Jesus kom doen het. Hy het die graf ingegaan sodat Hy dit kon oopbreek, nie net omdat Hyself opgestaan het uit die dood nie, maar omdat Hy dit vir óns gedoen het, sodat óns nie deur die graf vasgevang sal word nie.
Waaroor hierdie hoofstuk eintlik gaan, is HOOP. Ons kan leef met hoop, want Jesus het die dood oopgebreek. Daarom, tel jou kop op, skud die terneergedruktheid af, en volg Jesus. Hý sal jou lei op ’n pad wat na die ewigheid lei.
Amen.
Views: 191