BET-JESIMOT. – ’n Ernstige krisis dreig in die geledere van die Israeliete sedert dit rugbaar geword het dat ’n groot gedeelte van die volk voornemens is om hulle in die Transjordaan-gebied te vestig.
Volgens inligting wat ons ontvang het, het die stamme Ruben en Gad reeds besluit om hulle in die Jaser- en Gileadstreke in die Transjordaan te vestig. Dit is goeie vee-wêreld, en hulle is juis op soek na weiveld vir hulle vee. Blykbaar ondersoek ’n gedeelte van die Manasse-stam ook tans die moontlikheid om hulle aan die oostekant van die Jordaan te vestig.
’n Woordvoerder van die volksleier Moses seun van Amram het by navraag bevestig dat Moses bewus is van die stamme se planne. Hy beskou glo die hele aangeleentheid in ’n baie ernstige lig, aangesien die Israeliete se nuwe tuiste in Kanaän, ten weste van die Jordaan, geleë is. “Dit lyk verdag baie of hierdie mense kortpad na hulle nuwe blyplek wil vat en die ander stamme in die steek wil laat,” het die woordvoerder gesê. “Ons het almal gehelp om die Transjordaan-gebied te verower. Dis net regverdig dat almal ook sal help om Kanaän in te neem.”
Moses het ’n vergadering met die leiers van die wegbreekstamme belê vir môremiddag. Na verwagting sal harde woorde val. Dit is bekend dat Moses in die verlede nog nooit gehuiwer het om met streng dissipline die volk bymekaar te hou nie. As die wegbreekstamme nie bes wil gee nie, kan dit op ’n krisis afstuur.
Die stamleiers van Ruben en Gad was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
- Lees hiervan, en van die kompromis wat bereik is, in Num. 32.
GELIEFDE LEIER NEEM AFSKEID
SILO. – Josua seun van Nun het gister op ’n spesiale leiersberaad hier vir oulaas die voorsitterstoel van die Israelitiese stammeverbond ingeneem om afskeid te neem van die leierskorps van die twaalf stamme.
Al die stamleiers, familiehoofde, regters en ampsdraers was teenwoordig om afskeid te neem van hulle geliefde leier vir baie jare. Die vergadering het besluit om ook ’n volksvergadering te reël, sodat Josua ook van die volk as geheel afskeid kan neem. Dié vergadering is geskeduleer vir die 21ste van volgende maand, en sal by Sigem gehou word.
In sy afskeidsadres het Josua ’n ernstige pleidooi tot die leiers gerig om aan die Here God getrou te bly. Hy het hulle herinner aan wat God alles vir die volk gedoen het, en hoe Hy die land vir hulle in besit geneem het. “Ons dien ’n wonderlike God. Moet Hom nie vergeet in die jare wat kom nie. Dan sal dit met julle goed gaan in hierdie pragtige land van ons,” het hy gesê.
- Lees hiervan in Jos. 23.
Man verkwansel eersgeboortereg vir ’n pot sop
LAGAÏ-ROÏ-FONTEIN. – ’n Jong man het familie en vriende hier geskok deur sy eersgeboortereg vir ’n pot lensiesop te verruil.
Die man wat dié ongehoorde transaksie aangegaan het, is Esau, oudste seun van die skatryk Isak seun van Abraham. Die gelukkige nuwe draer van die eersgeboortereg is Esau se tweelingbroer, Jakob, wat bekend is vir sy vernuf agter die kospotte.
Familiereg-kenners met wie Bybelkoerant gepraat het, is verbysterd. “Dit is ongehoord. Dit kom neer op minagting van sy eie vader!” het ’n buurman opgemerk.
Esau was nie vir kommentaar beskikbaar nie, aangesien hy vanoggend op ’n jagekspedisie vertrek het. Jakob, die man wat ’n miljoenêr geword het in ruil vir ’n enkele pot sop, glimlag egter breed. “As hy so dom is om sy erfenis weg te sluk, is hy in elk geval nie die eersgeboortereg waardig nie,” het hy filosofies opgemerk.
- Lees hiervan in Gen. 25:19-34.
Voorregte en verantwoordelikhede
Voorregte bring verantwoordelikheid met hom saam. Dit was Josua se afskeidswoord aan die Israeliete: die voorreg om God se volk te wees en deur Hom versorg te word, vereis van hulle om volgens Gods bevel te lewe.
Dit was ook Moses se boodskap aan die stamme van Ruben en Gad toe hulle hulle duskant die Jordaan wou tuismaak: julle het ’n verantwoordelikheid teenoor die ander stamme.
Van die verantwoordelikheid om met respek om te gaan met heilige dinge, daarvan het Esau niks verstaan nie. Daarom dat hy die voorreg om as eersgeborene die ontvanger van God se beloftes te wees, minag.
In ons moderne samelewing is plig nie ’n gewilde onderwerp nie. Voorregte en voordele, ja, maar nie plig en verantwoordelikheid nie. Van ongelowiges kan jy dit nog verstaan. Maar as die vraag: “Wat kan ék daaruit kry?” in die kerk óók al die maatstaf word, flikker die gevaarligte.
God gee ons so baie. Nou is dit my en jou beurt om ons kant te bring in die Koninkryk.
Views: 12