TIMNAT-GERES. – Josua seun van Nun en leier van die Israeliete is gister hier in die ouderdom van honderd en tien jaar na ’n kort siekbed oorlede. Hy is laat gistermiddag op sy grond op die Efraimsberge noord van Gaäsberg begrawe.

Josua se dood is ’n gevoelige verlies vir die jong volk Israel. Hy was die meesterbrein agter Israel se hoogs suksesvolle inname van die land van die Kanaäniete die afgelope aantal jare. Hy moes destyds die leisels by die groot leier van die verlossing uit Egipte, Moses seun van Amram, oorneem toe Moses op die vooraand van die inval in Kanaän gesterf het. Dit het hy met baie groot onderskeiding gedoen. Binne enkele jare het hy daarin geslaag om feitlik die hele land Kanaän te onderwerp. Slegs enkele van die laerliggende dele van die land is nog in Kanaänitiese besit.

Politieke kenners voorspel egter probleme vir die jong volk vorentoe, aangesien Josua nie iemand aangewys het om hom op te volg nie. Die enigste waarskynlike kandidaat vir hierdie groot taak is Kaleb seun van Jefunne, die Kenasiet van Hebron. Hy het egter aangedui dat hy nie vir dié pos beskikbaar is nie.

 

BEKENDE SE SEUN VERMIS

GIBEA. – ’n Skatryk boer van die omgewing, Kis seun van Abiël, het vanoggend ’n groot beloning uitgeloof vir enige inligting wat hom kan help om sy seun op te spoor. Sy seun word vermis nadat hy en ’n slaaf enkele dae gelede vertrek het om donkies wat weggeraak het, te gaan soek.

Die jong man wat vermis word, is Saul. Hy is besonder lank en aantreklik met krullerige, donkerbruin hare. Hy dra ’n duifgrys kleed met ’n donkerbruin leergordel. Hy is laas in die Saälimgebied opgemerk, en was toe nog in goeie gesondheid.

Mense wat Saul en sy slaaf gesien het of weet waar hy hom tans bevind, word versoek om dringend met sy pa of sy oom Bekorat seun van Abiël hier in Gibea in aanraking te kom.

  • Lees hiervan, en van Saul se salwing as koning en hoe die Gees in hom gewerk het in 1 Sam. 9 en 10:1-17.

 

Christenleier in hof

ROME. – ’n Bekende leier van die godsdienssekte wat hulleself “Christene” noem, verskyn môre hier in die keiserlike hooggeregshof op aanklag van insurgensie en hoogverraad.

Die beskuldigde is ’n Jood genaamd Saul van Tarsus, ook bekend as Paulus. Hy het etlike jare lank die Romeinse Ryk deurkruis en sover hy kom, mense tot die Christendom probeer bekeer. Sy veldtogte het hom egter dikwels in botsing gebring met ortodokse Jode en selfs ook aanhangers van ander godsdienste. Die onrus wat hy veroorsaak het, het uiteindelik tot sy inhegtenisneming gelei.

In ’n verrassende aankondiging vanoggend het Paulus bekend gemaak dat hy nie meer in die saak bygestaan sal word deur sy volgeling en medewerker van baie jare, Demas, nie. Hy sal nou sy verdediging alleen behartig.

 


Nie hoe jy begin nie, maar hoe jy volhou

Die spreekwoord sê: “Goed begin, is half gewin.” Maar ongelukkig is ’n goeie begin alleen nie altyd ’n waarborg vir ’n gelukkige einde nie.

  • Die Israeliete het so goed begin met die inname van Kanaän. Dink maar aan die val van Jerigo! Talle van die ander oorwinnings word in Rig. 1 vir ons opgeteken.
  • Saul begin so goed dat hy aan die vooraand van sy kroning as koning selfs saam met profete profeteer.
  • Demas verlaat alles om saam met sy leermeester Paulus die wêreld in te vaar om mense vir Christus te wen.

En tog vertel die verdere verloop van hierdie drie verhale ’n tragiese storie van verval en mislukking. Want die belangrikste wat van ’n mens gesê kan word, is nie dat jy goed begin het nie, maar dat jy goed volgehou het. Daarom staan daar in Heb. 3:14: “Ons behou deel aan Christus as ons enduit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.”

’n Goeie begin is net half gewin. Eers as jy tot die einde toe volhard, soos Paulus, wen jy ten volle. Daarom sê hy in 2 Tim. 4:7,8a: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”

Volhard jy nog elke dag in die vertroue waarmee jy begin het?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.