LydenstydLydenstyd is die oudste kerklike fees, en het al in die vroegste eeue ontstaan. Dit is ’n reis van 40 dae, na aanleiding van Jesus se vastyd in die woestyn aan die begin van sy openbare bediening, wat vir Hom ’n tyd van toewyding en voorbereiding vir sy taak was. Hierin het die kerk Hom gevolg. Maar omdat Sondag die opstandingsdag van die Here is, het baie gevoel ons kan nie op die Sondag vas nie. Daarom word die Sondae uit die vastyd gehou, en begin die vastyd 46 dae voor Paasfees, dws 40 dae plus die 6 Sondae, van Aswoensdag tot Stil Saterdag.

Ons noem dit Lydenstyd, en dit skep die idee van swaarmoedigheid, maar in Europa, waar die fees ontstaan het, is dit nou lente; die fees word ook Lent genoem. Lente is ’n tyd van herontwaking en vernuwing, en dít is waaroor hierdie vastyd gaan: dis ’n innerlike reis van vernuwing in jou geloof, in jou verhouding met die Here Jesus, in jou navolging. Dis nie ’n tyd vir hangskouers nie, maar van nuwe oorgawe aan God, nuwe toewyding.
As ons in die Suidelike Halfrond die jaargety en Lydenstyd by mekaar wil uitbring, kan ons ook sê: Ons is in die herfs. Die natuur word in dié seisoen gestroop van alles wat onnodig is. So is Lydenstyd ook ’n stroop van alles wat in ons lewe onnodige bagasie is, sodat ons ligter kan reis agter die Here Jesus aan.

NP van Wyk Louw het dit treffend raakgevat in sy sonnet “Vroegherfs” (uit Vier gebede by jaargetye in die Boland):

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Hal Elrod skryf in sy boek “The Miracle Morning” in hierdie selfde trant: Let today be the day you give up who you’ve been for who you can become.
Die naaste hieraan as ’n Bybelteks is seker Joh 3:30: Hy moet meer word, en ek minder. Of in die woorde van Paulus in Galasiërs 2:19-20: … ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.

Dít is die kruks van Lydenstyd en vas: ’n vernuwingsproses, waarin ons loskom van onsself en al hoe meer op die Here Jesus fokus, aan Hom vasgryp, sodat ons soos Hy kan word; waarin ons onsself aflê, sodat ons die nuwe mens in Christus kan word. Paulus beskryf dit goed in Kol 2:6-7: Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

Die Heidelbergse Kategismus noem dit bekering (HK Vraag 88-90):

Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens ?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.

Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens ?
Antwoord: Dit is ’n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug.

Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens ?
Antwoord: Dit is ’n hartlike vreugde in God deur Christus en ’n lus en ’n liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Mag jou innerlike reis vernuwend wees!

Geseënde Lydenstyd.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.