DEBIR (KIRJAT-SEFER). – Inwoners van die stad vier al van vroegdag af fees nadat dit bekend geword het dat hulle leier, Otniël seun van Kenas, die wurggreep van koning Kusan-Risatajim afgegooi het. Kusan-Risatajim van Mesopotamië het die Israeliete die afgelope ag jaar met ’n ystergreep onder sy duim gehou.

Die feesgangers het Debir op horings geneem en deur die strate gedans en gedreunsing: “Die Leeu van God is soos goud, hy sit Dubbelboos-Kusan koud!”. Dit is ’n klaarblyklike sinspeling op die name Otniël (“leeu van God”) en Risatajim (“dubbelboos”). Daar is ook sterk sprake dat die stad se mense Otniël tot koning wil kroon.

Die held van Debir het Bybelkoerant te woord gestaan toe hy laat vanmiddag van die slagveld af teruggekeer het. Hy is beskeie oor sy glorieryke oorwinning en het gerugte dat hy koning gaan word, met beslistheid verwerp. “Ek kom uit ’n familie van groot vegters. Ek het seker maar die regte gene gekry,” het hy geskerts, en toe op ’n ernstiger noot bygevoeg: “Só ’n oorwinning is nie mensewerk nie. Dis die God van Israel wat ons vyand in ons mag gegee het.”

Die groot vegter in sy familie waarna Otniël verwys het, is natuurlik sy pa Kenas se ouer broer Kaleb seun van Jefunne van Hebron, wat destyds een van die beroemde generaals van die Intog was, en die argitek van die oorwinning oor die gevreesde Enakiete van Kirjat-Arba.

 

Skrif is aan die muur vir Israel, sê volkekundige

Dit is moeilik om te voorspel hoe die volkeresamestelling in Kanaän oor die volgende paar dekades gaan ontwikkel, sê prof. Etno Loog. Dit is veral omdat Kanaän in die afgelope eeu drie groot migrasies van volke moes absorbeer: die Israeliete vanuit Egipte het die Kanaänitiese hooglande beset, die sg. Seevolke, ook bekend as die Filistyne, het vanaf Kreta die grootste gedeelte van die suidelike kusgebied oorgeneem, en boonop is Arameërs uit Mesopotamië besig om in Sirië in die noorde ’n nuwe tuiste te soek. Die Kanaäniete, vir eeue lank die groot landbesitters, moes as gevolg hiervan die grootste gedeelte van hulle grondgebied afstaan.

Hierdie massiewe volkereverskuiwings is ’n resep vir geweldige spanning, en sal groot aanpassings van al die inwoners van die land verg. Twee faktore voorspel veral vir die volk Israel ernstige probleme in hulle stryd om ’n eie identiteit in Kanaän te behou: hulle het slegs ’n losse stamverband sonder ’n eie koning met ’n sterk sentrale regeringstelsel, en verder staan hulle op kulturele en tegnologiese gebied agter by die buurvolke. Hierdie twee faktore dui daarop dat Israel waarskynlik binne een of twee geslagte sy eie identiteit sal prysgee en sal versmelt met die Kanaäniete en Filistyne en ander volkere tot ’n nuwe Kanaänitiese volk. Die eerste tekens dat dit aan die gebeur is, is klaar daar: die ondertrouery met buurnasies, en die oorneem van die bure se godsdienste.

Prof. Etno Loog is hoogleraar in volkekunde aan die Universiteit van Jerusalem en kenner van die Kanaänitiese volkere. Bybelkoerant het met hom gesels oor die toekoms van die volk Israel.

 


Sola Gratia

As ’n mens eerlik na die omstandighede van die Israeliete in die Rigtertyd kyk, moet jy noodgedwonge met prof. Etno Loog saamstem. Israel het geen kans op oorlewing as aparte volk gehad nie. Daarvoor was net té veel faktore wat teen hulle voortbestaan getel het. Tog oorleef Israel, verdwyn hy nie soos die Filistyne en Kanaäniete en Hewiete en al die ander volkere in Kanaän nie.

Die rede hiervoor lê nie in Israel as volk nie. Juis nie – dit spel die eerste hoofstukke in Rigters ondubbelsinnig uit. Rig. 3:6 sê: “Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien.”

Nee, daar is net een rede waarom Israel as volk oorleef: God se genade. Want dít onderstreep die skrywer van die Rigter-boek met dik hale: God het hierdie mense nie gelos nie. Telkens raak hulle die pad byster, vergeet hulle van God en dien afgode, maar telkens trek Hy hulle terug na Hom toe. God word selfs kwaad vir Israel, maar Hy los hulle nie. Dít is die onbegryplike van God se genade. Dit gaan teen die verstand in. Dit skreeu teen alle redelikheid. Sy volk stel Hom teleur, draai die rug op Hom, sink al dieper in die sonde in, dien afgode – en God bly hulle liefhê. Ongelooflik, maar waar. Daarom staan daar ’n kruis geplant op Golgota: omdat God sy mense nie prysgee nie.

Ook vir jou sal Hy nooit los nie. Dít is die troos van die Evangelie.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.