Jaco se Bybelkoerant gesels met Jakobus oor sy brief
Skrywer: Jakobus, die broer van die Here Jesus en leier van die gemeente in Jerusalem
Eerste lesers: die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het en oor die destydse wêreld verspreid was
Doel van die brief: om die gelowiges aan te spoor om te volhard in die geloof en geestelik te groei
Ontstaanstyd en -plek: geskryf in Jerusalem in ongeveer 46 nC; dus waarskynlik die oudste Nuwe Testamentiese geskrif
Daar is baie vrae in my gemoed toe ek Jakobus gaan opsoek om oor sy brief te praat. Dit het immers redelik lank geneem voordat die kerk sy brief as deel van die Bybel aanvaar het. ’n Man soos Martin Luther het aanvanklik selfs gesê dis ’n boek van strooi omdat Christus nie so prominent in die boek figureer soos wat ’n mens dit byvoorbeeld by die briewe van Paulus aantref nie. En dan is dit ook so dat Jakobus nie een van die uitverkore apostels was nie.
Ek wag redelik lank in die voorhuis voordat hy opdaag. “Hy is besig om te bid,” verduidelik sy vrou, en voeg by dat hy soms vir ure aaneen bid. Ek herinner my dat ek iewers gelees het dat sy bynaam in die kerk “Kameelknieë” was. Toe hy by die vertrek inkom, glip my oë onwillekeurig na sy knieë, en sowaar, hulle het yslike eelte op van al die ure wat hy in gebed kniel.
Ek wou by hom weet wat aanleiding gegee het tot die skryf van die brief. “Ons mense kry baie swaar,” antwoord hy. “Koning Herodes – hy sal nog sy straf kry, daarvan is ek seker – wou die guns van die Joodse Raad wen, en toe het hy met mening onder ons gelowiges hier in die stad ingevaar. Eers het hy Jakobus – dis nou die apostel, die broer van Johannes – laat onthoof, en toe het hy Simon Petrus ook gevang. Ons het soos nooit tevore nie gebid. As die Here nie ingegryp het nie, was hy óók dood, maar hy het met die hulp van ’n engel uit die tronk ontsnap. In elk geval, ons mense was erg getraumatiseer soos jy kan dink, en baie het besluit om te vlug. Nou kan jy jou indink in hulle situasie: ontwortel, sonder die ondersteuning van ’n gevestigde gemeente, moet hulle nou as gelowiges in die vreemde oorleef. Hulle kry baie swaar, en ek het besluit om aan hulle te skryf en raad te gee.”
Sonder gebed gaan jy dit nie maak nie, want die duiwel is listig.
Hy sê nie in sy aanhef dat hy die broer van die Here Jesus is nie. Kon dit nie sy woorde meer krag gegee het as hy dit in die brief duidelik uitgespel het nie? “Maar dis mos nie belangrik nie, my broer,” reageer hy heftig. “Dit kom nie daarop aan waar ek vandaan kom nie. My gesag lê in die feit dat die Here Jesus my verlos het. Ek is maar net ’n slaaf van God en van die Here Jesus. Buitendien,” glimlag hy beskeie, “die mense ken my tog almal.”
Wat is die raad wat hy in die brief gee? “Ons mense sal nie staande kan bly as hulle nie geestelik volwasse is nie. Dis eintlik maar al wat ek probeer sê: Byt vas al gaan dit swaar; hou uit, want deur alles is God met jou besig. Hy vorm jou sodat jy geestelik ryp word. Moenie toelaat dat die verleidinge van die wêreld jou van die pad laat dwaal nie. En leef jou geloof uit.”
Hy maak nogal baie van dade. Was die Here Jesus se offer aan die kruis dan nie genoegsaam om mense te red nie? “Natuurlik is sy offer genoeg!” roep hy verontwaardig uit. “Jou dade kan jou nooit red nie, my broer. Maar dis maklik om te praat of te sit en vroom lyk. Die egtheid van jou geloof lê nie in woorde nie, maar in die feit dat jou lewe verander het, dat jou lewe nou op God gerig is. Dís die ding. Dit gaan daaroor of jy jou tong in toom kan hou, of jy ruimte in jou hart het vir iemand anders, of jou belydenis deurwerk na wat jy doen en hoe jy dit doen elke dag.”
Sy boodskap vir die mense van die een en twintigste eeu? “Ek ken nie jou wêreld nie, my broer, maar laat ek vir jou dít sê: sonder gebed gaan jy dit nie maak nie, want die duiwel is listig. Ek praat nou nie van ’n rympie afrits voor jy jou dag begin of as jy saans gaan slaap nie. Ek praat van gebed waar jy in God se teenwoordigheid kniel en Hom die kans gee om met jou besig te raak, en waar jy met Hom praat en jou hart voor Hom uitstort. Ek kan nie verstaan hoekom mense nie baie meer bid nie. Gebed is dinamiet, my broer! Gebed roer God se hart! Die Here Jesus het my geleer dat jy nie sonder gebed kan lewe nie. As dit vir Hom nodig was, hoeveel te meer nie vir ons nie?”