Paniek breek uit onder Israeliete

GASEROT. – Paniek het onder die Israeliete uitgebreek toe dit bekend geword het dat melaatsheid in die kamp opgemerk is.

Die melaatse is niemand minder nie as Mirjam, oudste suster van die volksleier Moses seun van Amram. In ’n klaarblyklike poging om die verspreiding van dié gevreesde siekte te keer, is sy gister deur haar broer uit die kamp uitgesluit. Ooggetuies sê haar vel is sneeuwit van die siekte. Een ooggetuie het opgemerk dat haar liggaam lyk “soos ’n doodgebore kind waarvan die liggaam by geboorte al halfpad verteer is.”

Dokters het nie veel hoop dat sy gesond sal word nie, en vrees dat Mirjam se siekte ernstige probleme vir die volk kan besorg terwyl hulle nog in die woestyn is. Intussen het Moses bekend gemaak dat hulle nie sal vertrek van Gaserot af voordat Mirjam nie weer by die kamp aangesluit het nie.

Mirjam se melaatsheid hou tog dié voordeel in dat dit die groeiende spanning in die leierskorps ontlont het. Dit is bekend dat sy en haar ander broer Aäron toenemend ongeneë was om hulle jonger broer Moses se leiding te aanvaar. Hulle bevraagteken ook die feit dat Moses tans die enigste spreekbuis is deur wie God met die volk praat, en beweer dat God net so goed deur een van hulle kan spreek.

Aäron en Mirjam het Moses gister oor hulle ongelukkigheid gaan konfronteer. Dit is nie bekend wat die resultaat van die samesprekings was nie. Mirjam se melaatsheid het egter tydens die samesprekings aan die lig gekom.

Intussen hang daar nóg ’n wolk oor Mirjam se kop oor uitlatings wat sy na bewering onlangs by die huweliksonthaal van Moses en sy tweede vrou gemaak het. Sy het blykbaar taamlik onvleiende aanmerkings oor die vrou, ’n Afrikaan, kwytgeraak. In party kringe word Mirjam se aanmerkings selfs as rassisties bestempel. Hoewel Moses bewus is van die aanmerkings, het hy tot nog toe nie daarop gereageer nie.

 

HELD DOOD 600 MET SWEEPSTOK

SORA. – ’n Onverskrokke Israeliet het hier groot verligting vir sy landgenote gebring deurdat hy die afgelope paar weke etlike honderde Filistyne gedood het. Om alles te kroon, het hy dit met ’n sweepstok gedoen.

Dié relatief onbekende man is Samgar seun van Anat. Samgar is baie beskeie oor sy oorwinning. “Ek het nog nooit ’n swaard of spies besit nie. Al wat ek het, is my osdrywerstok met die ysterpunt, en toe die Filistyne ons goed begin steel, moes ek maar uitspring. God het tog die land vir óns gegee, en daarom sal ek dit met alles in my vermoë verdedig.”

Blykbaar het sy sweepstok die Filistyne groot laat skrik, want die Israeliete hier langs het nog nie weer las van hulle gehad nie.

 

Man vermis; raaisel omhul sy verdwyning

EDENVERLOREN. – ’n Bekende man in die plaaslike gemeenskap, Henog seun van Jered, word nou al etlike dae lank vermis. Sy seun Metusalag het gesê hulle het nou alle hoop opgegee dat hy nog gevind sal word. Hy was 365 jaar oud.

Sover vasgestel kan word, het Henog die oggend van sy verdwyning soos sy gebruik was, die stilte van die berge gaan opsoek om te gaan bid. Hy het egter nie weer teruggekeer nie. “Ons het hom gaan soek, maar net die uitgebrande offer op sy altaar gekry. Daar was geen teken van hom nie, en ook geen spoor daarvandaan verder die berge in nie. Die moontlikheid dat ’n dier hom verskeur het, moet ook uitgesluit word. Daar was nie ’n teken van ’n worsteling by die altaar nie.

  • Lees van Henog se vroomheid en “verdwyning” in Gen. 5:21-24.

 


Wat staan uit in jou lewe?

In die Skrifgedeeltes op hierdie bladsy word getuigskrifte gegee vir drie mense. Henog “het naby God geleef”, Moses “was ’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde”, en van Samgar word net gesê dat hy deur sy onortodokse optrede “vir Israel gered” het.

As daar oor jóú lewe ’n getuigskrif geskryf word, sou dit woorde wees wat getuig van jou verhouding met God, jou innemende geaardheid, jou diensbaarheid in die Koninkryk van God?

Om diensbaar in God se Ryk te wees, vra nie noodwendig ’n staatsman-Godsman soos Moses nie. Henog blink bo sy tydgenote uit, net maar omdat hy naby God leef, soos sy agterkleinseun Noag na hom. En van Samgar weet ons niks meer nie as dat hy die seun van Anat was.

Nie wie jy is nie, maar hoe jy voor God lééf, dit is wat tel.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.