Elkeen wat die Bybel gereeld lees, het al op die woordjie “Sela” in die boek Psalms afgekom. “Sela” kom ook elders in die Bybel voor as eienaam – daar was so ’n plek in Oud-Israel, en Juda se derde seun het ook dié naam gedra, om maar enkele voorbeelde te noem. Maar in die Psalms (en ook drie keer in Habakuk 3) staan die woordjie “sela” 71 keer binne-in ’n gedig. Dis vandag vir ons so onopvallend dat ons gewoonlik sommer bo-oor die woord lees, want ons weet in elk geval nie wat dit daar maak nie.
Ek het ’n herinnering uit my laerskooldae wat my om een of ander rede bybly. Ons moes Psalm 24 uit die kop leer, en dit dan vir die juffrou in die klas kom opsê. Waar is daardie dae?! Wie leer nog Skrifgedeeltes uit die kop? Ek hoop jy doen dit nog! In elk geval, een van die dogters in my klas het Psalm 24 goed geleer, en wat my bybly, is dat sy tot die twee “selas” in haar voordrag ingesluit het. Sy het dit uitgespreek “sella” (met die “e” soos in “terg” of “weg”). Dit was vir my ’n vreemde uitspraak, en ek onthou dat ék nie “sela” as deel van die psalm geleer het nie. Ek het nie gedink dit is deel van die teks nie, en waarskynlik is dit nie. Tot vandag toe lees ek dit nie hardop as deel van die psalm nie.
Skrifverklaarders is nie presies seker wat dié woordjie beteken nie, maar een van die verklarings wat vir my baie goed sin maak, is dat dit ’n liturgiese of musiekterm is wat vir die liturg of voorsanger(s) ’n pouse of ’n rustyd aandui.
Dit is natuurlik nie iets wat ons baie in ons moderne lewe doen nie. Ons kry dit nie reg om te stop, te pouseer, te rus, te vertoef nie. Ons beur voort. Ons wil klaarmaak. Daar is immers nog baie ander dinge wat gedoen moet word. En so jaag ons deur die lewe, onverpoos, uitasem, deel van die rotte-resies, selfs wanneer ons Bybel lees.
Lees byvoorbeeld Psalm 3 en eerbiedig die selas, verpoos by daardie punt, dink na oor wat gesê word, en let op hoe dit subtiel die gedagtegang van die psalm beïnvloed:
3 ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.
2Ek het so baie vyande, Here!
Baie kom in opstand teen my.
3Daar is talle wat van my sê
“Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela
4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante,
U herstel my eer en aansien.
5As ek na die Here roep,
antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela6As ek gaan lê slaap ek goed;
ek word ook weer wakker,
want die Here sorg vir my.
7Ek is nie bang vir tienduisende mense
wat van alle kante af op my toesak nie.
8Kom tog, Here,
help my, my God!
U het nog altyd my vyande se mag verbreek,
U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.9Hulp kom net van die Here af.
U laat dit goed gaan met u volk. Sela
God maak baie gebruik van rus. Hy het op die sewende dag van die skepping gerus en ons in die vierde gebod beveel om elke sewende dag óók te rus. En die hiernamaals word ook “God se rus” en sabbatsrus genoem (Hebreërs 4:9-10). Wat ’n heerlike vooruitsig! Maar moenie tot dan wag nie. Rus vandag nog in God, kom in Hom tot rus, raak stil, en drink sy genadige nabyheid in. Dis God se geskenk aan jou.
Views: 65