’n Olifant is ’n baie sterk dier. Dis nie ongewoon dat ’n olifant ’n groot boom omstoot in sy soektog na die sappigste blare of vrugte hoog in die takke nie. Daarom word olifante in Asië ingespan in die bosbedryf, om groot boomstompe te skuif, ens. En tog maak die olifant-drywers hulle olifant vas met ‘n eenvoudige pen in die grond, waaraan sy poot vasgeketting is. Dit sal vir ’n olifant geen probleem wees om daardie pen uit te pluk en weg te loop nie! Tog loop die olifant nie weg nie, want hy dink hy kan nie die pen uit die grond getrek kry nie. Want sien, hulle het hom al aan die pen vasgemaak toe hy nog ’n klein olifantjie was, en toe kon hy regtig nie die pen uitgetrek kry nie, hoe hard hy ook al probeer het. So nou weet die olifant, as sy poot aan die pen vasgemaak is, hy is vas, en hy probeer nie eers om die pen uit te trek nie, want hy weet hy kan nie.
WEET
Jy sien, hoe jy dink, bepaal hoe jy optree. Dis hoekom Paulus in die gedeelte wat ons gelees het, soveel klem lê op wat ons weet:
vers 3: Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
vers 6: Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
vers 9: Ons weet dat Christus …
Dis hoekom ons nog altyd in die kerk klem gelê het op kennis. Dis hoekom ons kinders en tieners Sondagskool en katkisasie het, waar hulle kennis oor God en die Bybel kan kry. Dis hoekom ons soveel klem lê op die lees van die Bybel, sodat ons kan weet wat ons glo, en die Een in Wie ons glo, kan leer ken. Geloof is immers ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue, sê die Heidelbergse Kategismus (§ 21).
As jy nie weet dat Christus die sonde oorwin het nie, sal jy die sonde steeds as jou slawedrywer beskou; sal jy glo die sonde is te sterk vir jou. Rom 6 sê: toe ons gedoop is, het ons deel gekry aan Christus. Sý stryd is nou ons s’n. Sý sterwe is ons dood ook. En sý opstanding uit die dood, sý oorwinning oor die Bose, is ons s’n ook. Omdat ons gedoopte kinders van God is, is dit waar van ons. Ons moet dit weet.
Om agter Jesus aan te loop, om ’n kind van God te wees, vra dat ons moet weet Wie Jesus is, en wat ons in Hom ontvang het.
BEDINK
Maar ’n mens kan dit nie op autopilot doen nie. Geloof is nie iets van vanself kom en jy maak ’n keuse vir God en dan is jy reg nie. Dis nie net ’n kwessie van weet nie. Dis ook ’n kwessie van doelbewus instel. Daarom skryf Paulus in vers 11: Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Onthou, sê die Woord. Dink daaraan. Roep dit telkens weer in jou gedagtes op. Maak dit deel van wie jy is, van hoe jy oor jouself dink.
Ons is geneig om soos die olifant te wees: ons dink ons is nog vasgevang in die sonde. Ons dink nie daaraan dat Jesus die sonde oorwin het nie. Ons dink nie daaraan dat die versoekings nie ons baas is nie, want Jesus het ons saamgevat in sy oorwinning. En omdat ons nie dit onthou nie, omdat dit nie die fokus van ons gedagtes is nie, val ons om as ’n versoeking na ons kant toe kom, want ons glo nie ons kan dit weerstaan nie, net soos die olifant nie glo hy kan die pen uittrek nie.
DIEN
Natuurlik bestaan die geloofslewe nie net daarin dat ons nee sê vir versoekings nie. Dit is ’n lewe van diens aan God, soos vers 13 sê: … stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.
’n Vriend van my vertel dat hy baie gesukkel het met Grieks toe hy vir predikant geleer het. Hy sê hy het altyd gedink daar moet een of ander geheim wees om Grieks te bemeester, en hy moet maar net dié geheim weet, dan sal dit beter gaan met sy studies. Toe gaan hy na die Grieks dosent en vra vir hom wat is die geheim. Die dosent het geantwoord: “Die geheim is: jy moet op jou boude gaan sit en die werk leer!” Oftewel: hou op droom, en begin werk!
Die navolg van Jesus is ook so. Daar is nie een of ander mistieke geheim nie. Dit vra dat ons sal weet wie ons in Jesus as gedooptes is, dat ons dit sal bedink elke dag, en dat ons dan sal begin om God te dien met ons alles.
Amen.
Views: 110