Profeet sê dis vingerwysing van God
OFRA. – Die roofbendes van Midian en Amalek is weer in aantog. Dié slegte nuus kom van inwoners van die Transjordaan-gebied, wat berig dat die rowers hierdie jaar nóg meer is as vorige jare.
Die tyding voorspel ’n ramp vir die boere, aangesien die roofbendes uit die ooste die afgelope sewe jaar reeds groot ellende en armoede gebring het en die boere beswaarlik nóg so ’n strooptog sal kan absorbeer. Die bendes roof eenvoudig alles wat voorkom, en wat hulle nie kan saamneem nie, brand hulle af.
’n Verarmde boer van die omgewing, Gideon seun van Joas die Abiësriet, het aan Bybelkoerant vertel dat hy en ander boere geen ander keuse het nie as om soos skelms hulle graan in die parskuipe uit te slaan en dan weg te steek. “Die Here het ons in die steek gelaat. Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete. Nou moet ons maar self sien kom klaar,” het hy gesê.
Intussen gaan al meer stemme in die laaste tyd op dat die volk na God om hulp moet roep. ’n Bid- en vasdag is ook verlede Woensdag by die tabernakel in Silo gehou met die oog op die nuwe bedreiging. Daar het ook ’n profeet na vore getree met die boodskap dat die verdrukking ’n oordeel van God is omdat die volk die gode van die Amoriete begin dien het en van die God van Israel afvallig geword het.
- Lees hiervan in Rig. 6:1-24.
Koning vereer weldoener op luisterryke wyse
SUSAN. – Koning Ahasveros het vandag op ’n besondere wyse sy dank betuig teenoor ’n burger van die stad, die Jood Mordegai seun van Jaïr. Hy het op die koning se eie perd deur die stad gery, geklee in ’n koninklike gewaad. In opdrag van die koning het niemand minder nie as die eerste minister Haman seun van Hammedata die perd gelei en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
Mordegai het vroeër ’n sameswering om koning Ahasveros te vermoor, ontmasker en die twee samesweerders, Bigtam en Teres, aan die pen laat ry. Hy is destyds nooit daarvoor beloon nie.
Volgens ingeligte woordvoerders was Haman nie baie beïndruk met die toedrag van sake nie. Dis bekend dat hy nie van Mordegai hou nie.
- Lees hiervan in Est. 5:9-14 en Est. 6.
BRING RABBI JESUS DALK NUWE REPUBLIEK?
JERUSALEM. – Spanning en afwagting is aan die oplaai oor rabbi Jesus se voorgenome besoek aan Jerusalem vir die Paasfees. Daar word selfs gefluister dat hy ’n nuwe republiek gaan uitroep.
Dit is bekend dat die gewone mense vir Jesus as die Messias sien wie se koms die profete so lank gelede al voorspel het. Hiervan wil die geestelike leiers egter niks weet nie. Hulle beskou die blote gedagte dat die rabbi dalk die Messias kan wees, as heiligskennis. Daar is selfs sprake dat hulle hom “permanent wil stilmaak”.
Na verwagting sal hierdie konflik tussen die gewone mense se aanhang van die rabbi, en die Joodse Raad se teenstand teen hom, by die Paasfees op die spits gedryf word.
Presies wat die Messias beoog, is nie duidelik nie, hoewel die meeste mense verwag dat hy die Romeinse juk gaan afgooi en ’n Israelitiese republiek gaan stig. In dié verband het twee van rabbi Jesus se getrouste dissipels, die broers Jakobus en Johannes, reeds te kenne gegee dat hulle beskikbaar is vir poste in die nuwe kabinet.
By navraag het rabbi Jesus ontken dat hy voornemens is om ’n Israelitiese republiek te stig.
- Lees hiervan in Mark. 10:32-45.
Humor
’n Sin vir humor, sê die woordeboek, is die vermoë om die lagwekkende in iets te sien. En as jy die Bybel lees, ontdek jy telkens die fyn sin vir humor waarmee die Bybelskrywers hulle boodskap oordra. Só teken die Bybel Gideon as ’n taamlik voor op die wa kêrel wat nie skroom om die Engel van die Here te weerspreek nie. Vir dié astrante mannetjie groet die Engel as “dapper held” – en dit terwyl hy wegkruip in ’n parskuip! Dit was seker ook met ’n heimlike glimlag dat die skrywer ons vertel van Haman wat Mordegai deur die stad moet lei en vereer, terwyl daar ’n 23 meter hoë galg in sy agterplaas vir die einste Mordegai wag.
Humor is egter nie nét snaaks nie. Dikwels verbloem humor die hartseer van ’n tragedie wat afspeel. Soos dat die dissipels só op eie eer ingestel is dat hulle nie hoor hoe Jesus sê Hy gaan in Jerusalem sterf nie.
Sonder humor druk die lewe jou plat. Want wat bly oor as die sonde sy merk gemaak het? Gelukkig het God ’n goeie sin vir humor. Anders sou Hy dit nie met ons kon uithou nie!