Die Bybel begin waar God besig is om te skep, en die Bybel eindig waar Hy besig is om te herskep. In Gen 1 het Hy alles deur sy magswoord tot stand gebring, en hier in Op 21 herskep Hy alles, maak Hy dit nuut.
Mense wonder nogal dikwels oor dié nuwe skepping, en vra dan vrae soos: “Sal ons mekaar herken?” “Hoe sal dit op die nuwe aarde lyk?” “Sal ons daar moet werk ook?” Maar al dié vrae oor hoe dit in die nuwe skepping van God sal lyk en wees, bring ons nie regtig baie ver nie. Die Bybel sê immers in 1 Kor 2:9: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Ons weet eenvoudig net nie hoe hierdie fantastiese nuwe skepping van God sal wees nie, behalwe dat dit wonderlik sal wees.
Ons weet nie hoe dit in God se nuwe wêreld sal wees nie, behalwe dat Hy daar sal wees, en sy engele, en – ons ook. En al sal ons nie meer dieselfde mense wees as wat ons nou is nie, omdat ons verheerlikte mense sal wees, sal ons nog altyd ons eie identiteit hê. God se nuwe skepping beteken nie dat ons dan ewe skielik geen verlede meer sal hê nie, en geen persoonlikheid nie. Daarom staan dit in ons teksvers: Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”
Jy sien, dit wat ons vandag doen, sal in die hiernamaals voortbestaan. Op ’n manier is ons nou al besig om te begin bou aan God se nuwe skepping. Miskien onthou julle nog die ou Hallelujalied wat ek as kind so graag gesing het: “Ons bou almal, dag na dag, soggens vroeg tot in die nag, aan ’n tempel wat die wêreld nie kan sien. Elk oorwinning in sy Naam voeg die stene ewig saam aan ons woning vir die ewigheid.”
Ek het tannie Ancois leer ken toe sy reeds in haar jare was, afgetakel deur die wreedheid van die tyd. Ek het wel baie van haar gehoor by mense wat haar in haar fleur geken het; van die formidabele Engels-onderwyseres wat sy was, en dat almal vir haar lief was. As ek na haar kinders kyk, sê dit ook baie oor die besondere mens wat sy was. En dit wat ek in haar gesien het, bevestig dit.
As ’n mens so oud word soos wat tannie Ancois geword het, het die tyd ’n manier om al die lagies vernis van jou af te stroop. Dan word jy al meer jouself, sonder voorgee. Dis hoekom party oumense so knorrig is. Hulle kan nie meer voorgee om te wees wat hulle nie is nie. Dis sleg om te beleef. Maar dan kry jy ook mense soos tannie Ancois, wat selfs in haar ouderdom minsaam en vriendelik en vol komplemente was. Sy het nog tydens my laaste besoek, so twee weke gelede, vir my vertel hoe ’n mooi man ek is en watter pragtige tande ek het! En hoe sy my besoek waardeer.
Ek hoor sy het vir Rolin gesê, toe hulle op pad hospitaal toe was vir die operasie om haar been te herstel, dat sy nie haar Bybel hoef in te pak nie, want sy kan nie meer daaruit lees nie, maar sy het darem nog ’n mond. Toe Rolin vra wat sy daarmee bedoel, sê sy sy kan nog altyd die Here loof.
Dít was tannie Ancois. Sy was, in die woorde van die Halleluja-lied, iemand wat nogal redelik ywerig besig was om op baie verskillende terreine aan God se nuwe skepping vir die ewigheid te bou. Julle wat haar beter as ek geken het, sal dit kan beaam.
God het natuurlik self ook al aan sy nuwe skepping begin bou, toe Christus kom sterwe het vir hierdie stukkende wêreld. Daarom sê 2 Kor 5:17: Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Letterlik staan dit daar dat ons nuwe skeppings is. God het al klaar begin om u en my nuut te maak, die stukkendheid in ons te herskep. En dit wat ons elke dag as nuutgemaakte mense in die Koninkryk van God doen, dit sal God in stand hou, soos Hy ook dit wat tannie Ancois as sy kind gedoen het, in stand hou.
Raak julle nie ook opgewonde by dié gedagte nie? Want dit beteken dat dít wat ons in hierdie lewe in Gods Naam verrig, sal bly staan! Dat dit nié maar om ’t ewe is of ek met die dinge van die Here besig is of nie. In God se nuwe wêreld sal daar ook plek wees vir dit wat ons hier op aarde vir Hom gedoen het. Wanneer God eendag alles nuut gaan maak, sal Hy nie ’n groot streep deur alles hier op aarde kom trek nie! Nee, Hy kom maak dit nuut. Hy kom maak ons en dít wat ons in ons swakheid onvolmaak gedoen het, nuut en reg sodat dit tot sy eer kan wees.
Toe tannie Ancois Saterdag haar daar by die hemelsale gaan aanmeld het vir hoër diens, het sy nie met leë hande daar aangekom nie. En ek weet dat haar werke in God se hande nou sierade in die ewigheid geword het.
Mag God vir julle en vir my help dat ons ook só besig sal wees.
Amen.
Views: 59