“Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.” (vers 25)
In hierdie psalm van Dawid stort hy sy nood só innig uit dat jy hom as ’t ware kan sien ly. Jy hoor sy pyn en ontreddering. Hy voel verlore en van God verlaat, alleen en radeloos.
Met die Here Jesus se kruisroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt 27:46) het Hy hierdie hele psalm in ’n nuwe konteks geplaas. Dit het my opnuut getref hoe Dawid se klag eintlik die Here Jesus se situasie op Golgota verwoord. Daar aan die kruis het Hy alles deurgemaak. Hy het Dawid se nood én ons nood op Homself geneem en in ons plek gedra, soos die Nagmaalsformulier dit stel: “Hy is van God verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.”
Dit is hoekom ek en jy in hierdie dae met vertroue tot God kan bid en ons nood voor sy voete kan lê. Want Hy weet presies wat dit beteken om benoud en verlate te voel. En Hy hoor en help ons! Dit is die evangelie.