“In U stel ek elke dag my verwagting.” (vers 5c)
Hierdie psalm is in ’n tyd van die allergrootste nood (vers 17) uit Dawid gepers. In dié tyd klou hy aan God vas, soek hy leiding en lig by Hom, sodat hy die regte ding sal doen en op God se weë sal bly.
Interessant dat die hele psalm vol is van Dawid se sondebesef. Meermale vra hy vergifnis. Dit is wat gebeur as jy naby die Here leef of na Hom toe vlug: jy raak al hoe meer bewus van jou eie sondigheid. Hoe heiliger jy word, hoe sondiger voel jy.
Wanneer dit goed gaan, gaan ’n mens maklik met jou lewe aan sonder om te diep te dink oor jou verhouding met God en jou afhanklikheid van hom. Dis in tye soos wat ons nou is, wat jy besef dat jy nie sonder God kan klaarkom nie, en met jou oë op God gerig lewe. “In U stel ek elke dag my verwagting,” sê Dawid, juis in só ’n tyd.
Dalk is dit nou ’n goeie tyd om jou oë opnuut op God te rig?
Views: 48