“Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.” (vers 2)
Ons lewe nou eenmaal in hierdie wêreld, en tussen mense wat nie nougeset leef soos die Here vra nie. Die gevaar is dat sulke mense en optredes op ons kan afgee; dat ons dan óók soos bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers of goddeloses begin optree (vers 4-5). Almal doen dit tog, hoekom nie ek nie? Wie steur hom nou eintlik nog aan wet en orde in Suid-Afrika?
Ek het hierdie psalm gelees en gewonder of ek ook, soos Dawid, oor en oor kan bely dat ek onskuldig is (vers 1, 6, 11); of ek ook met vrymoedigheid die Here kan nooi om my te toets en te ondersoek (vers 2).
Hier is twee sake waarmee ons rekening moet hou: Dawid het hom deur God se liefde en trou laat lei (vers 3), onverskillige mense vermy en nie sy hande vuilgemaak met verkeerde dinge nie. Daarby het hy die vergifnis van God by die altaar ontvang (vers 6). Dít is hoekom hy kan sê hy is onskuldig en hoekom hy vrymoedigheid het om hom tot God te wend in sy nood. Dis ook hoekom hy uiteindelik God in die samekoms van die gemeente kan prys.
En jy?