“Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: ‘Volg My!’ Levi het opgestaan en Hom gevolg.” (vers 14)
Levi is die vyfde dissipel wat Jesus gevra het om Hom te volg. Ons lees van die eerste vier in hoofstuk 1. Die merkwaardige van al vyf hierdie mense is hulle reaksie. Geen huiwering nie; geen wag en eers kyk of sommetjies maak nie. Hulle volg Jesus onmiddellik. Levi was in ’n uiters winsgewende beroep, maar toe Jesus op sy lewe beslag lê, laat hy alles agter.
Dis natuurlik die enigste manier om Jesus te volg: sonder enige reserwe. Sonder wyfeling. Heelhartig. Want die Here wat ons volg, is Heer van die skepping (vgl 2:28). Hý bepaal die reëls; Hý het die finale gesag. Hy kan sorg waar ons net probleme voorsien.
Die vraag wat ek en jy moet beantwoord, is of ons óók bereid is om Hom so heelhartig te volg.