OFRA. – Daar heers ’n uiters gespanne atmosfeer in die stad sedert dit vanoggend aan die lig gekom het dat die altaar wat Joas die Abiësriet ter ere van die god Baäl gebou het, vannag afgebreek is. Die gewyde paal wat langs die altaar gestaan het, is ook afgekap. In die plek van die Baäl-altaar staan daar nou ’n altaar vir die Here God, boonop met ’n bul wat as brandoffer daarop geoffer is.

Inwoners van die stad is woedend en eis dat die skuldige summier tereggestel moet word. Voorlopige inligting dui daarop dat dit Joas se eie seun Gideon kan wees wat die altaar afgebreek het. Blykbaar kruip hy iewers in sy pa se huis weg uit vrees vir vergelding.

Teen druktyd was Gideon nog nie in hegtenis geneem nie. Die inwoners eis nou dat Joas sy seun aan hulle uitlewer.

 

STAD GIS EN WONDER; RABBI ONTSPAN

JERUSALEM. – Terwyl die stad gis en wonder oor presies wat rabbi Jesus se planne vir die volk Israel is, het die rabbi en sy volgelinge laat gisteraand na die bekende tuin hier in die stad, Getsemane, gegaan om daar stilte en lafenis te soek.

Kenners verwag nie dat rabbi Jesus vóór die Paasfees en Sabbat reeds met sy verwagte bevrydingstryd sal begin nie, aangesien dit kan beteken dat die stryd ook op die Sabbat gevoer sal moet word. Dit sal ’n groot gedeelte van die bevolking aanstoot gee.

Slegs die tyd sal leer presies wat rabbi Jesus in die mou voer. Intussen bly daar hardnekkige gerugte die ronde doen dat die Joodse Raad van plan is om in te gryp. Na verwagting sal ook húlle nie voor die Sabbat oormôre verby is, optree nie.

 

 


Van haastigheid kom lastigheid

My pa het een vakansie van die universiteit af huis toe gegaan. Op pad van die stasie af na hulle huis kry hy sy ma langs die pad, besig om so vinnig as wat sy kan, haar fiets te stoot. Toe hy verbaas wou weet wat aangaan, sê sy sy het nog nie haar inkopies gedoen nie, en sy wou alles klaar hê voordat hy tuis is. Op sy vraag waarom sy dan nie op haar fiets klim en winkel toe ry nie, sê sy sy is te haastig. Sy kan nie nou stop om op te klim nie!

Partykeer is die tyd wat jy bestee aan voorbereidings vóór jy met ’n groot taak begin, nie net ’n goeie belegging nie, maar noodsaaklik. Daar ís dinge wat eenvoudig nie holderstebolder aangepak kan word nie. Soos om Israel van die Midianitiese bedreiging te verlos. Voordat hy daarmee kon begin, moes Gideon eers ’n hervorming in sy tuisdorp begin, want die volk se eintlike bedreiging was nie die Midianiete nie, maar Baäl.

Dit was ook van die begin af die Here Jesus se werkswyse. Voordat Hy sy bediening begin, sonder Hy Hom af in die woestyn (Matt. 4:1-11). En voordat Hy sy groot verlossingstaak aanpak, soek Hy die stilte van Getsemane op om te bid.

Ek vrees die moderne mens het hierdie waarheid iewers langs die pad vergeet. Ons is so haastig om by resultate uit te kom, dat ons nie die tyd neem om ons behoorlik voor te berei nie, soos my ouma met haar fiets. Daarom pak ons dikwels nuwe dinge met groot entoesiasme aan sonder om seker te maak dat ons op die regte spoor is. Dan kry ons kitsantwoorde wat geen blywende oplossings bied nie.

Wat ons nodig het, is nie kitsoplossings vir diepliggende probleme nie. Wat ons nodig het, is om in nederige ootmoed ons wysheid en ons krag by ons hemelse Vader te soek: vir die vraag na kerk-wees in ’n nuwe tyd, vir die vraag na Christen-wees in ’n sekulêre samelewing. “Julie krag lê in stil wees en vertroue hê,” sê Jes. 30:15.

Tye en omstandighede het dramaties verander in die laaste paar jaar. Daarom sal ons des te meer in onwrikbare trou aan Hom en in ’n innige gebedsafhanklikheid van God ons lewe moet uitwerk. Dis die enigste manier.

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.